Seestrome 2014 : Gemeentelede se onthou-stories 3

Hier lê my menswees, my geloof... 

So praat Maureen Voigt oor Gansbaai, haar groot-word-dorp.

Onwillekeurig laat dit mens dink aan die baie mense wat onder verweerde grafte in die begraafplaas van Gansbaai lê. Die begraafplaas op die koppie wat afkyk oor die hawe van Gansbaai. Die wind het baie kopstukke omgewaai. Deur barste en krake groei gras en bossies. Met hier en daar ’n verbleikte plastiekblom se laaste wuif in die wind.

Sy is in 1949 as Gansbaaier gebore. Maar haar wortels strek ver terug tot in die twintiger jare van die vorige eeu. Haar grootouers was oom Willem Lorrie en ant Raaitjie Swart wat in Voortrekkerstraat (vanaf 1922) ge-woon het waar Maureen as baba en kleuter grootgeword het. Haar ma is Ant Willa Clifton (84) wat tans in die verswakte afdeling van Herberg-aan-See versorg word. Pa Dennis is enkele jare gelede oorlede.

Verder terug in haar familie, was ant Siena Nowers (grootouma), van die eerste inwoners van Gansbaai. Hulle het reg oorkant die ou langmuur net bokant die seevlak in die hawe gewoon. 

Maureen is deur ds. J. L. P. Zietsman in Gansbaai- kerk gedoop. Mens kan maar sê dis waar haar geloofsfondament gegiet is.

Daarna is die gesin terug Namakwaland toe, waarvandaan haar pa gekom het. En Maureen onthou Garies en Nababeeb nog goed. In 1958 keer sy en haar broer en hul ma (Willa) terug Gansbaai toe. Willa begin ‘n haar-salon en Maureen voltooi hier haar skoolopleiding.    

Maureen lê in 1966 voor ds. N. E. Louw belydenis van haar geloof af . Een van die vele geestelike mylpale langs haar pad. Die volgende jaar sluit sy by die destydse Gevangenisdiens (Korrektiewe Dienste) in Kaapstad aan. Toe begin haar tweede lewe, as vry mens binne die gevangenis, sê sy.

Na ‘n suksesvolle loopbaan van dertig jaar, tree sy met die rang van kolonel/adjunkdirekteur af. Na haar man se afsterwe in 1991 koop sy haar ouers se huis op Gansbaai en in 1997 kom vestig sy haar weer op Gansbaai. Sy raak betrokke by die aktiwiteite van die Gansbaai-gemeente. Sy was leier-diaken, onderleier-ouderling, sekretaresse vir die Vrouediens, sameroeper van Seestrome en sy is ook verantwoordelik vir die dataprojektor tydens ere-dienste in die kerk. Sy lê klem op die wonderlike tyd van geestelike groei saam met leraars, kerkraadslede, vrouediens-vroue en veral die gemeentelede wat hier kom aftree het.

Maureen is dankbaar en skryf dit wat sy bereik het in ’n groot mate toe aan haar opvoeding, geloof en geestelike waardes wat sy as kind op Gansbaai geleer het. Maar die belangrikste, sê sy, is die alomteenwoordigheid van Christus in haar lewe. Dit het sy in haar werk en deur teëspoed en swaarkry ervaar. Soos Job. Veral ook tydens die motorongeluk waarin sy twee jaar gelede ernstig beseer is. Daagliks ontvang sy steeds skuite vol genade met die siekte van Colin, haar seun, en die verlies aan ‘n ma wat nog net in die vlees daar is.

Ten spyte van aanslae en versoekings, is haar geloofsfondament nie gebars soos die ou grafte s’n nie. Daardie fondament is destyds reg gelê en goed gegiet. Haar lewensuitkyk en diensbaarheid aan die gemeente herinner mens eerder aan haar kleintyd-wêreld se malse plate blomme na goeie reën.

Ons sal haar hárt ook nie vergeet nie.  - Dries van Heerden

Anna Germishuys is op 31 Desember 1928 in Gansbaai gebore. Haar skoolopleiding kry sy in Gansbaai en die Hoër Handelskool, Paarl. Die Kinderkrans en Sondagskool help die grondslag lê vir haar christelike opvoeding. Sy werk as tik-ster/klerk by Ocean Products en later by Gansbaai Viskorperasie. Sy trou op 7 Maart 1953 met Johnny Germishuys. Hulle is die paartjie wat die laaste in die ou kerksaaltjie deur ds. Zietsman in die eg verbind is.

Gedurende Anna se jongmeisiejare word die kerkkoor gestig. 25 jaar lank is sy lid van die gemeentekoor.

Ant Anna het haar kant gebring tydens basaars en fondsinsamelings. Sy het gereeld vir ant Pannie Swart help melkterte bak. Hiervoor het hulle Vrydagoggend drie uur opgestaan en dan gebak tot laat die aand. Ongeveer 300 melkterte vir diÄ— dag! 

Vir 6 jaar behartig sy die kleinkoekietafel tydens die jaarlikse basaar (in die dae toe die vroue nog in hul kombuisstowe moes bak). Ant Anna onthou 'n insident tydens ds. Bosman se dienstyd. 'n Lappieskombers wat sy graag wou koop, is deur ds. Bosman opgeveil. Sy het agter in die saal gestaan en bie. Iemand het teen haar gebie, maar sy kon nie sien wie dit was nie. So bie hulle teen mekaar totdat iemand vir haar sê dat sy teen haar eie man bie. Ds. Bosman moes dit geweet het, want hy het heerlik gelag vir die R300.00 wat hy so geïn het.

Ant Anna sluit af: "Nou is my kinders nog almal by my en ek dank die Hemelse Vader daarvoor. Johnny is al 20 jaar nie met ons nie. Ons mis hom nog elke dag en het kosbare herinneringe wat ons koester. Ek word op 31 Desember 86 jaar oud en is deur die Genade nog gesond. Danksy almal se gebede, waarvoor ek baie dankbaar is, gaan dit baie goed.

Wat 'n Vriend het ons in Jesus!"

Maureen Voigt
Anna Germishuys
Maureen Voigt met Colin en Natasha Halgryn
1924 Ouma Siena Nowers