Hierdie tehuis vir bejaardes het sy ontstaan te danke aan die droom van suster Marais, ook bekend as suster Koen, ‘n destydse gekwalifiseerde vroedvrou in Gansbaai, wat die behoefte van die bejaardes in die vissersgemeenskap besef het. Sy het nie net drome gedroom oor ‘n tehuis in Gansbaai nie, maar kon die verwesenliking daarvan beleef, deur later self ‘n inwoner van die tehuis te kon wees.
Die amptelike inwyding van Herberg-aan-See is op 9/3/1974 deur die sekretaris van die barmhartigheidsdiens van die NGK, mnr. Botha, waargeneem. Die tehuis het sy naam te danke aan ‘n naamwedstryd wat deur ds. Kitshoff geloods is. Herberg-aan-See is ‘n program van BADISA, ‘n bedieningsaksie van die NGK (Wes- en Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Die tehuis is in totaal vir 47 beddens gereg-istreer. Tans bestaan die personeel uit 25 verpleegkundiges en huishoudelike beamptes. Sedert die beginjare van Herberg-aan-See is die gemeente en kerkraad op verskeie terreine betrokke by die tehuis.
Goue Hande: Herberg-aan-See-tehuis. Die bekende Goue Hande is vrywillige helpers wat nie net goue hande het wat vir niks verkeerd staan nie, maar ook harte van suiwer goud.