Seestrome 2014 : Ons is nou hier in plek en tyd - Ons leef voort met God

 Nuwe Begin : Iemand in Christus is . . .

Die kerkvader Athanasius het geskryf: “God became man so that man can become God”.  Dadelik is dit asof ons skrik as ons sulke woorde hoor. God is tog die gans andere en ons maar die skepsels. Hy het egter iets raakgesien wat ek dink ons soms mis en dit is die “op pad wees met ons” van God.

In die ortodokse tradisie onderskei hulle tussen God se “essensie” en sy “energie”. Ons sal God nooit in “essensie” verstaan nie, maar deur sy Gees kan ons van sy eienskappe (energie) in ons lewe begin sigbaar maak. Dit is wat ons Gereformeerde tradisie heiligmaking noem. Daar staan tog in die Heidelbergse Kategismus Vraag en Antwoord 115 dat een van die redes hoekom ons in ons sondigheid steeds na die Tien Gebooie luister, is: “moet ons ons sonder ophou beywer en God om genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik”.

Hierdie was ‘n lang inleiding om te kom by die betekenis van Jesus se vleeswording! In die vroeë kerk was daar die oortuiging dat die vleeswording van Jesus klaar verlossend is. In ons eie Pro-testants Gereformeerde tradisie het die klem met tyd meer op die kruis geval. Die kruis waar ons sonde vir ewig vasgespyker is.

Dit is per se nie verkeerd nie, maar miskien mis ons die diepte van God se verlossende werk. Niks van Jesus se lewe staan los van iets anders nie. Ons kan nie die kruis uitlig uit die verhaal van geboorte, lyding, opstanding en vervullende terugkoms nie. Dit is alles een verhaal van God vir ons.

Christus se in die wêreld kom deur ‘n vrou, het sy publieke optrede voorgegaan. As mens het hy aangeraak en noodlydendes verlos van kwale en sonde. Mense wat uitgesluit was, is ingesluit, die wat honger was, is kos gegee. Vir Irenaeus het Jesus deur sy lewe elke fase van ons lewe aangeraak en vrygespreek. Hy het vir ons kom wys hoe lyk die ware mens. Hy het ons bowenal uitgenooi om Hom te volg en ook so naby aan die Vader, vry en vol deernis te lewe.

Die 2de eeuse kerkvader, Clement van Alexandrië skryf: “Where he came from and who he was, he showed by what he taught and by the evidence of his life. He showed that he was the herald, the reconciler, our saviour, the Word, a spring of life and peace flooding over the whole face of the earth. Through him, to put it briefly, the universe has already become an ocean of blessings”.

Jesus se geboorte herinner ons dat God se skepping goed is.

Jesus kom bevestig menswees deur self mens te word. Hy kom wys vir ons dat ware mag lê in die aflegging van dit wat jy dink belangrik is - van jou ego.  Hy wys ons hoe om onsself en ons identiteit in God te vind. Sy menswording, volgens Maria se lied, draai die orde van belang in die wêreld op sy kop. Hy hef die wat op die kant staan op. Hy trek in van buite na binne. Dit is reeds verlossend. Sy daarwees is teken van God se werk van versoe-
ning en herstel.

In die weerloosheid van ‘n Kind tree God kragtig op en niks is ooit dieselfde nie. Miskien is Paulus reg as hy ons herinner dat ons groot werk in die lig staan van Jesus Christus se aardse werk, naamlik: die bediening van die versoening. Daarom is iemand wat in Christus is, ‘n nuwe skepsel. Die ou dinge het  verbygegaan - kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het en aan ons die bediening van die versoening gegee het. (2 Kor. 5: 17-18)

Jesus se geboorte het ook aan ons gemeente hierdie bediening gegee. Mag ons altyd onthou dat ons ware Bron van bestaan die alleroorvloedigste fontein is van alles wat goed is (Nederlandse Geloofsbelydenis), die Woord uit wie se volheid ons almal genade op genade ontvang het.

Dr. Lisel Joubert