Nuwe hemel en aarde

Teks:  Openbaring 21:1-8

Dit is ‘n baie bekende gedeelte in die Bybel.   Na aanleiding hiervan het ook ‘n lied ontstaan wat ons aan die einde sal sing: Ek sien ‘n nuwe hemel kom, ‘n aarde nuut en vry. . .

Ek wonder of ons altyd genoegsaam besef  wat die bedoeling was van die  Bybelskrywer dat dit alles so geskrywe staan. Kom ons dink vir ‘n oomblik daaraan. Destyds was dit die gebruik dat die boek Openbaring in die erediens voorgelees is.    Openbaring 1 :3-4.  Daarmee was die bedoeling om die gelowiges aan te moedig en te versterk in hule Christelike oortuiging, om hulle vrese en twyfel teen te werk en hulle so te versterk in hulle Christelike lewenstyl.    Hierdie mense het baie swaar gekry as gevolg van hulle geloof. Hulle sou na die erediens toe kom  baie diep onder die indruk van hierdie vervolging en sou vir seker gewonder het of hierdie dinge nie maar die laaste sê oor hulle lewens sou hê nie.   Was dit regtig die moeite werd. Dit was as ‘n ware die bril waardeur hulle gekyk het na dinge.   Maar dan sou hulle ook hoor van ‘n nuwe hemel en aarde wat op hulle wag, van die ou wêreld met al sy nood wat aan die verbygaan is, van die nuwe stad Jerusalem, van God se woonplek wat dan by die mense sou wees.   Van die feit dat daar nie meer hartseer  en pyn sal wees nie.   Hulle sou ook hoor as hulle so in die kerk sit dat die Here sê: Ek is die Alfa en die Omega . . . die Begin en die Einde van alles.  En so sou hulle gehelp word om die wêreld in ‘n ander lig te sien, hulleself in ‘n ander lig te sien en te besef dat  die lyding nie die laaste sê het nie. Hulle kon so moed skep om opnuut hulle Christelike oortuigings te gaan uitleef.

Dit  kan opgemerk word dat dit  eintlik die punt is van die evangelie, van ook elke Christelike erediens en liturgie . . . dit  is om gelowiges aan te moedig  deurdat daar met elke erediens ook ‘n kykie en ‘n ervaring gegee word van ‘n ander werklikheid.   Soos  Openbaring wil elke boek ook in die  NT dit doen.  Dink maar net aan die gelykenisse. Daarmee sou Jesus die oë van die hoorders open vir ‘n  ‘n ander werklikheid ... . ’n lewe voor die aangesig van God. En sou dit dan ‘n geleentheid wees om voortaan daarmee  te reken.  Maar dan ook om moed te skep daardeur en daarvolgens te gaan lewe. 

Ek lees in die verband  watter rol die erediens  sou speel in die lewens van bv  Neger Christene in Amerika toe daar so teen hulle gediskrimineer is. Die hoor van die evangelie in die erediens sou vir hulle neerkom op ‘n identiteitsverandering, bedoelende dat die man of vrou op wie neergesien word in die samelewing hier baie belangrik is.  So bv kon dit gebeur dat die straatveër dalk ‘n ouderling kon wees.  Ek haal aan: Everybody becomes Mr and Mrs, or brother or sister. The last becomes first, making a radical change in the perception of self and one’s calling in society.  Every person becomes somebody . . .

Ons hoor ook vandag  hierdie evangelie. Ons hoor ook weer soos talle ander kere van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Ons  hoor  dit  te midde van  ‘n  wêreld van terreur en geweld, onreg en lyding, siekte en dood. En kry ons eintlik ‘n kans om opnuut te kies  watter werklikheid ook vir ons  die deurslaggewendste is: Hierdie wêreld  of die  belofte van . . . ‘n Mens kan dit ook so stel:    Wie het die laaste sê oor die  wêreld se geskiedenis, die geweldenaars en gepaardgaande terreur en korrupsie ,   of die belofte van die nuwe hemel en die nuwe aarde. Kyk wat nou weer gebeur het in Frankryk, hoe ‘n hele land op hol gejaag word deur ‘n handjievol radikale  mense. Dink maar net  aan die families, aan die gepaardgaande hartseer. Dink net aan al die geweld in ons eie land, aan al die korrupsie, aan die inbrekers en diewe, siekte en dood.

 En ons vra ook die vraag: Wie het die laaste sê oor die wêreld se geskiedenis? Met heimlik ‘n gevoel van . . . is dit nie tog maar die geweldenaars en siekte en dood nie, maar dan kry ons tog weer vanoggend ‘n kykie  in die nuwe wêreld van die nuwe hemel en die nuwe aarde, hoor ons ook tog weer  van  Ek is die Alfa en die Omega. Ons kry die kans om die wêreld in ‘n ander lig te sien en wil die  Here dat ons ook moed sal skep en met groot oortuiging sal gaan getuig van Sy liefde en dat Hy die wêreld, en daarom ook vir ons, in Sy hand hou. Dat ons opnuut glo dat niks ons van Sy liefde kan skei wat daar in Christus Jesus vir ons is nie.  Die Here het die laaste sê oor die wêreld en ook oor ons lewens. Dit is dan ook tog wat geloof is: geloof is die vermoë om  dinge en mense te sien soos God sake en mense sien.   Geloof is om na die wêreld te kyk soos God daarna kyk. Geloof is om die Onsienlike te sien . . .

Maar hierdie hoor van die nuwe hemel en die nuwe aarde beteken nie net vir ons dat ons die verloop van die wêreld in ‘n ander lig sal sien nie, maar dit het ook ongelooflike implikasies vir hoe ons na ons self en selfs na ander mense kyk. Dink maar aan hoe ons na onsself kyk.  As ons dalk vandag aan onsself dink . . . ons worstel dalk regtig met ‘n swak selfbeeld, ly aan ‘n minderwaardigheidskompleks. Ons worstel dalk met skuldgevoelens waarvan ons net nie ontslae kan raak nie. Ons sit vandag hier in die kerk en hoor die evangelie van die nuwe hemel en die nuwe aarde . . . laat ons daarom ook nou onsself beoordeel aan die hand daarvan.

Laat ons  daarom moed skep wat ons sien wat onsself betref(1 Petrus  2)  Maar laat ons ook tog daaraan dink dat dit ook implikasies het vir die manier waarop ons na ander mense kyk. Hoe ons ander  mense beoordeel. Iemand  skrywe so mooi daaroor: As ons na mekaar kyk en net eintlik sien wat as ‘n ware voor oë is,  dan sien ons maar min wat goed is in ander. Die maklikste om te  doen , is om mekaar te veroordeel en af te  skryf  en te sê:  Nee wat, vergeet van hom of haar, vergeet van hulle, daar is geen hoop vir sulke mense nie, maar as ons met die oë van geloof na mekaar kyk en na ander mense en groepe, dan ons sien dieper. Hy kon net sowel ook gesê die nuwe hemel en die nuwe aarde. Dan sien ons die moontlikhede by mekaar raak, die goeie raak, sien ons die beeld van God raak  en dan hanteer ons mekaar soos God ons hanteer. Ons reken met daardie moontlikhede  in die ander wat die blote oog nie kan sien nie. Dan behandel ons ook mekaar anders.

’n Mens kan die punt van vanoggend ook toepas op die  waardes wat ons nastreef in die lewe. Iemand skrywe ook so pragtig daaroor: As vriende, kennisse en ander mense sê die kortpad na geluk is selfsug, oneerlikheid . . . dan sê geloof . . . nee, ek sien dieper en verder en onderskei wat werklik saakmaak , ek sal nie meedoen nie. As almal sê, op maatskaplike, ekonomiese en politieke gebied . . . wees tog realisties, dink aan jouself, dit en dit is tog die pad wat ‘n mens moetgaan :  ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand, dan sien geloof verder  en sê: Nee ek volg hierdie pad,  ek kan nie anders nie. 

‘n Mens kan daarom maar net bid dat die Here ons sal help om soos die mense van die tyd van Openbaring moes doen, om onsself daarom gedurigdeur te orienteer aan die evangelie, die boodskap van die belofte van die nuwe hemel en die nuwe aarde . . . en getrou daarvan te getuig.