Skepping onderhou

Skriflesing:    Ps 19

Omgewingsdag is in die sewentig jare deur  die Verenigde Nasies ingestel na ‘n konferensie oor die omgewing gehou is.Omgewingsdag word elke jaar die 5 de Junie gevier . Die klem is op bewaring van die omgewing.  Ek sluit dan ook daarby aan . Miskien nie net vanuit die hoek van die belangrikheid van die voorbestaan van alles en almal nie,  want soos die wêreld aangaan, gaan daar nie veel van die aarde oorbly nie, juis as gevolg van die opgebruik daarvan, maar veral vanuit die hoek van die wonder van skepping,  veral die wonder sommer net van elke dag.    En die oppas,  die bewaring, want dit is nie vanselfsprekend nie. 

Luther het die volgende opmerking gemaak:  Ons is deur God se goedheid uit die niks geskep en word nog deurentyd deur sy goedheid teen die niks bewaar.  Daarmee sou hy aansluit by ‘n lang en sterk tradisie binne die Christendom waarvolgens die wonder van die skepping nie net in die oorspronklike skeppingsdaad gelee is nie, maar ook steeds in die wonder van die geskapene elke dag.  God het nie net alles op wonderbare wyse geskep nie, maar onderhou dit alles steeds ook.  Daarvan getuig die skoonheid van die skepping self.

Ps 19 onderstreep hierdie gedagte vanaf v 2: die hemel getuig van die mag van God , die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.  Die een dag gee die berig deur aan die ander  en die een nag deel die kennis aan die volgende  mee.  Sonder spraak en sonder woorde , onhoorbaar is hulle stem.  Tog gaan daarvan ‘n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde. Vir die son is daar in die hemel ‘n tent opgeslaan. As hy stralend begin om sy baan te volg, is hy soos ‘n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. Aan die een kant van die hemel kom hy op en aan die anderkant gaan hy onder  en niks ontkom aan sy gloed nie.  Dit is darem pragtig . . . met die aanbreek van elke nuwe dag  word die werk van die Here se hande bekend gemaak . . . van die een dag na die ander . . . soos die son opkom en ondergaan.

Dit het my ook laat dink aan die woorde in Ps 59:17 Maar ek sal sing van u mag , elke môre sal ek jubel oor u trou.   Elke dag  openbaar die Here sy trou en mag. En dan die gebed  volgens  Ps 118:24: dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees.     En ook die gebed in Ps  138:8 Aan die liefde van die Here is daar geen einde nie. Moet tog nie die werk van u hande laat vaar nie.    In aansluiting daarby lees ek in die HK die volgende: Wat glo jy as jy sê:  Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die skepper van die hemel en die aarde.  En dan die antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus  wat die hemel en die aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer.   Nog onderhou en regeer. Die Nederlandse Geloofsbelybenis bely weer: Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur Sy Woord , dit wil sê deur Sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid  en oneindige krag.

Die skepping, elke dag, elke môre is wonderbaar.   Om elke oggend jou oë oop te mag maak na ‘n nag is ‘n wonder.  Om die lig  te mag aanskou, die aktiwiteite om ons te ervaar, bv die voëls te hoor  sing, die branders te sien en te hoor breek, is ‘n wonder elke keer.    Om te mag leef is ‘n wonder en nie vanselfsprekend nie.   Talle Christelike tradisies probeer dan ook hierdie lewensgevoel vertroetel en behou. Dink aan die pragtige woorde van die ou Keltiese gesang wat deur Cat Stevens bekend gemaak is, die wysie ook net so bekend: Morning has broken like the first morning , blackbird has spoken like the first bird, praise for the singing , praise for the morning , praise for them springing fresh from the word . Praise with elation, praise every morning, God’s recreation of the new day. 

 Dit sê alles om daarop te konsentreer dat elke dag ‘n wonder is . . . soos die eerste dag.    Dat dit nodig is om so te fokus, nodeloos om te sê, want die groot gevaar is dat ons gewoond raak, dat ons dinge as vanselsprekend aanvaar . . . dinge nie so ervaar nie.    Jare terug skrywe Prof Jonker, wat die geestelike rubrike in Die Burger behartig het, soos volg oor hoe belangrik dit is om elke dag bewustelik te lewe, om elke dag bewustelik te ontvang as ‘n gawe van die Here . . . en juis daarop bedag te wees om nie toe te laat dat ons dinge  as vanselfsprekend sal aanvaar nie.     Hy skryf soos volg na aanleiding van Ps 90: Baie keer sien ons eers as ons terugkyk, hoe belangrik bepaalde tye en gebeurtenisse in ons lewe was.  Lang tye van gelukkige en kommervrye bestaan het ongemerk aan ons verbygegaan soos groot wit wolke wat geruisloos deur die lug beweeg en dan verdwyn.  Die dinge wat ons kosbaarste besittings is . . . die skoonheid van die aarde word dikwels deur ons hanteer asof dit vanselfsprekend is en altyd so  sal wees.   Daarom bid die Ps digter dat die Here ons moet help dat ons  dae in bewustheid sal lewe .   Ons behoort onsself daarop in te stel  om elke dag te sien as ‘n eenmalige geleentheid  waarvan ons die beste gebruik moet maak.   Want môre sal dalk nie meer daar wees nie. Dit is nie vanselfsprekend nie . . . dit bly ‘n gawe van die Here.   En om dit dan ook elke nuwe dag so uit die hand van die Here te ontvang. 

Ek lees dat die Bybel  op talle maniere die beelde van nag, donkerte, slaap, wakker word, opstaan, oorgaan van duisternis na lig metafories gebruik.  Om juis die oorgang te beskryf van geestelike doodsheid na lewe, van ‘n lewe sonder God en naaste na ‘n lewe met God en die naaste, van ‘n lewe sonder dankbaarheid  na ‘n lewe van erkentlikheid  oor wat hy noem die Here se verassende goedheid.   Want ‘n mens kan natuurlik wakker word, elke môre sonder om regtig te ontwaak. Sonder om regtig te sien, sonder om verruk, verwonderd te staan oor die goeie skepping van die Here.  Sonder om die buitengewone in die gewone te herken, die wonder in die alledaagsheid.   Baie mense word so wakker in die oggend.  Hulle lewe, maar lewe eintlik ook nie.   Hulle staan op , gaan die dag deur,  gaan slaap in die aand sonder om die goedheid van die Here te besef. Soos  dit wat dit met die aanbreek van elke  nuwe dag dan ook na vore kom.   Ek lees net weer die gedeelte in Romeine 1 waar die apostel Paulus skrywe oor die geestelike doodsheid van die ongelowiges . . . en die feit dat hulle juis omdat hulle nie die hand van die Here kon sien uit die wonder van die skepping nie, hulle skuldig staan. Let op Rom 1:18: God openbaar vanuit sy hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.   Wat ‘n mens van God kan weet, was binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik  gebring.  Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is. Vir hierdie mense is daar  dus geen verontskuldiging nie, omdat hulle ál weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie.

 Ons bid vir diegene wat nie die wonder van die goedheid van die Here uit elke nuwe dag se aanbreek nog nooit kon  raaksien nie, maar natuurlik ook dat ons wat dit weet , maar die gevaar staan om gewoond te raak, om self die dinge as vanselfsprekend te aanvaar.  Mag die Here ons altyd bewus hou oor die wonder van elke dag. Dat ons sal  opstaan in die oggend en hardop sê: Dit is die dag wat die Here gemaak het, laat ons daaroor juig en bly wees.