Die gelykenis van die muntstukke

Matt 25:14-30     

Die meeste gelykenisse van Jesus het te doen met die Koninkryk van God.  Baie beklemtoon die feit dat Jesus se volgelinge nie net moet wag vir sy weder­koms nie, maar dat hulle inderdaad aktief besig moet wees;  besig om die koninkryk in stand te hou, maar veral ook om dit te propageer en uit te brei.  In Matt 24-25 waar Jesus praat oor die eind­tyd, vind ons 'n aantal gelykenisse oor die Konin­kryk van God wat handel oor hierdie "aktiewe wag" vir die terugkeer van die Koning:

*   In 24:43- 44 lees ons van die huiseienaar wat gereed moet wees ingeval 'n dief kom.  Hy moet wakker bly, die plek oppas.

*   In 24:45-51 lees ons van die slaaf wat dienend besig moet wees in die afwesigheid van sy meester.

*   in 25:1-13 lees ons van vyf verstandige meisies wat voorsorg getref het deur te sorg vir genoeg olie ingeval die bruidegom in die middel van die nag opdaag.

*   En in Matt. 25:14-30 lees ons die bekende gelykenis van die goue muntstukke (talente in die Grieks en ou vertaling)       Kom ons lees:

Matt 25:14  "Verder gaan dit soos met 'n man wat op reis wou gaan. Hy het sy slawe bymekaargeroep en sy besit­tings aan hulle toevertrou.

15  Vir een het hy vyf goue munt­stukke gegee, vir 'n ander twee, en vir 'n derde een. Hy het aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee en toe op reis gegaan.

16  "Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, het dadelik daarmee gaan werk en 'n wins gemaak van nog vyf.

17  So ook die een wat twee gekry het: hy het 'n wins gemaak van nog twee.

18  Maar die slaaf wat een gekry het, het 'n gat in die grond gaan grawe en sy eienaar se geld daarin weggesteek.

19  "Na 'n lang tyd het die eienaar van daardie slawe teruggekom en van hulle reken­skap gevra.

20  Die een wat vyf goue muntstukke ontvang het, kom toe en bring die ander vyf saam, en sê: `Meneer, vyf goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met vyf ander wat ek wins gemaak het.'

21  Toe sê sy eienaar vir hom: `Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!'

22  "Toe kom die een met die twee goue muntstukke en sê: `Meneer, twee goue muntstukke het u aan my toevertrou. Hier is dit met twee ander wat ek wins gemaak het.'

23  Sy eienaar sê toe vir hom: `Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!'

24  "Toe kom die een wat een goue muntstuk ontvang het, en sê: `Meneer, ek ken u en weet dat u 'n harde man is, wat oes waar u nie gesaai het nie, en pluk waar u nie geplant het nie.

25  Omdat ek bang was, het ek u muntstuk in die grond gaan begrawe. Hier het u u geld terug.'

26  Toe sê sy eienaar vir hom: Jy is 'n slegte en 'n lui slaaf! Jy het geweet dat ek oes waar ek nie gesaai het nie, en pluk waar ek nie geplant het nie.

27  Dan moes jy my geld in die bank gesit het, en ek sou dit by my koms met rente teruggekry het.

28  Vat die muntstuk van hom af weg en gee dit aan die een wat die tien het.

29  Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word.

30  En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners."

Nou moet 'n mens versigtig wees om nie te veel in 'n gelykenis te lees nie.  Dit kan bv. gevaarlik wees om aan elke geldstuk 'n naam te gee (vgl. Dawid & Goliat & 5 klippies – liefde, geloof, hoop, volharding, nederigheid – watter een tref?).  Maar tog is dit duidelik dat dit hier gaan oor sinvol besig wees terwyl daar op die meester gewag word.  Dit gaan oor die gebruik maak van dit wat deur God aan ons toevertrou is.

Ek sou graag ook vandag 1 Kor. 12 saam met u wou lees.  Daar sien ons dat die kerk die liggaam van Christus is.  Elke gelowige is ʼn ledemaat (lidmaat) en elke ledemaat is belangrik vir ʼn liggaam om goed te kan werk.  Daarom lees ons dat elke gelo­wige sekere gawes ontvang het om in die gemeente te gebruik.  Verskillende gawes - almal belangrik.  Die lidmate moet sorg dra vir mekaar; mekaar help.  En as elke lidmaat goed funksioneer, dan is die lig­gaam gesond.  M.a.w. God gee gawes aan sy kerk, aan elke lidmaat, sodat die kerk aktief en konstruk­tief besig kan wees terwyl hy op die terugkeer van sy Koning wag.

Die gelykenis in Mat 25 sê:  Elkeen het talente/gawes ontvang.  Niemand is oorgeslaan nie.  1 Kor 12 meld spesifiek dat daar verskillende gawes is.  En dat almal belangrik is.  Daardie ou omie of tannie wat die gawe het om te bid, wat elke dat lang tye bestee in voorbidding vir die gemeente (terwyl die gemeente dikwels nie eers bewus is daarvan nie!), het net so 'n belangrike taak as die een wat die Woord verkondig, of die een wat die gawe van genesing het.

Ons lees dat die Man aan elkeen volgens sy bekwaamheid gegee het (Mat. 25:15).  Niemand is belas met 'n gawe of talent wat hy nie kon hanteer nie.  Elkeen is bedeel met wat hy in staat was om sinvol te gebruik.  God se bedoeling is nie dat sy dienaars swaar moet kry, dat hulle talente 'n berg voor hulle moet wees nie, maar dat dit tot seën vir hulle sal wees en dat dit hulle sal help om die gemeente op te bou.

Daarom is dit 'n tragedie as die situasie in 'n gemeente ontstaan waar sommige mense ander se talente moet gebruik bloot omdat daardie persone te lui is.  Ongelukkig vind ons heeltemal te dikwels dat natuurlike onderwysers op die boukommissie van die kerk sit terwyl bouers besig is met kategese.  Of nog erger - situasies waar 'n paar gelowiges eenvoudig gedwing word om al die werk in 'n gemeente te doen, of hulle nou die gawes het of nie.  Ons sal later terugkom na hierdie punt.

Ons lees in van die eienaar se terug­gekeer en van rekenskap wat geeÑ—s word.  Ons lees van beloning en oordeel, afhangende van die ge­bruik van die talente.  Hierdie gelykenis word gevolg deur die gelykenis van die eindoordeel waar die skape en bokke van mekaar geskei word.  Elk­een word dan geoordeel volgens wat hy hier op aarde gedoen het.  Daar gaan dit om oordeel vol­gens geloofsdade.  Volgens die gelykenis wat ons vandag gelees het, kan ons sê elkeen word geoordeel volgens die gebruik wat hy van sy talente (gawes) gemaak het.

Ek wil afsluit met 'n moderne gelykenis wat ek gelees het wat aansluit by Matt. 25.  Luister mooi miskien het dit iets vir ons te sê:

Daar was 'n Meester wat 300 werkers gehad het.  Hy het op die punt gestaan om op 'n lang reis te vertrek.  Hy roep toe al sy werkers bymekaar en vertrou aan elkeen van hulle talente toe.  Aan som­mige het hy een talent gegee, aan ander twee, of drie of meer.  Elke werker, lank of kort, slim of dom, opgelei of onopgeleid   elkeen het ten minste een talent ontvang.  Sommige het die talent ontvang om te kan sing, sommige om musiek instrumente te kan bespeel, sommige om te kan verf of teken.  Ander het die talente ontvang om in die openbaar te kan praat, of om kos te kook, of om kinders op te kan pas, of om siekes te besoek.  Sommige het talente ontvang om met geld te kan werk, of om vloere te kan skrop, of om te onderrig, of om skoene te maak.

"Ek vertrek nou op 'n lang reis," sê die Meester nadat hy die talente uitgedeel het.  "As my werkers, werk verstandig met die talente wat ek aan julle toevertrou het."  Daarna vertrek hy op sy reis.

"Wel," sê een van die werkers, 'n man wat die talent ontvang het om te kan organiseer.  "Kom ons werk saam in ons Meester se diens sodat ons die talente op die bes moontlike manier kan gebruik."  Hy wys na 'n werker met die talent om hulle Meester se woorde te onthou.  "Jy moet ons gereeld herinner aan wat ons Meester gesê het.  Die van julle wat die talente het om musiek te maak en te sing sal vir ons ander sing van ons Meester en sy werk." 

En so het dit dan gebeur dat elkeen 'n taak ontvang het volgens die talent wat hy of sy ontvang het.  Sommige het die ou en siek werkers versorg; ander het water en kos aangedra vir die wat in die boorde werk; sommige het vreemdes na hulle wonings genooi en hulle daar welkom laat voel; sommige het die ander onderrig oor die Mees­ter en sy goedheid.  Gou het 'n groep werkers wat hamers en sae kon gebruik, saamgespan en 'n saal gebou tot voordeel van almal; die wat meubels gordyne kon maak het dit afgerond.  Mense het van heinde en ver na hierdie vergaderplek gekom om van die Meester te hoor en om Hom te vereer.  Die gemeenskap het gegroei - en almal wat bygekom het, het ontdek dat hulle ook talente het wat gebruik kan word.

Vir 'n tyd lank het die Meester se werk vooruit­gegaan, maar op 'n dag het 'n verandering ingetree.  'n Werker wat die talent ontvang het om skoene reg te maak, het besluit dat sy taak nie belangrik genoeg is nie.  "Ek wil iets belangriks doen," mor hy, "soos om in die koor te sing, of om die Meester se woorde te verkondig.  Skoene herstel is ’n simpel talent."  "Maar om skoene reg te maak is belang­rik," sê 'n ander werker.  "Dit gaan mos moeilik wees om die Meester se werk te doen met kaal voete?"  "Dis nie my probleem nie," antwoord die onvergenoegde werker.  "Ek wil 'n belangriker posi­sie beklee.  Daardie sangers in die koor wat ons op die oomblik het is in elk geval nie so vreeslik talent­vol nie."  Daarop hou die man wat skoene herstel onmiddellik op om sy talent te beoefen.  En die ergste is - hy gaan sing ook nie eers in die koor nie.

Kort voor lank begin die ander werkers se skoene onklaar raak en hulle raak ook ongelukkig.  "Ek is moeg om met nat voete te werk,” sê die een.  "Kom ons huur 'n skoenmaker."  "En ek wil ook 'n belang­riker werk hê," roep 'n ander een uit.  "Om gedurig langafstand-oproepe na die meester te maak is nie baie interessant nie."  "Ja," stem 'n ander een saam.  "Ek is moeg om vreemdelinge na my huis te nooi.  Laat iemand anders dit 'n slag doen."  Sommer gou was die Meester se hele landgoed in chaos.  Som­mige werkers het geweier om hulle talente te gebruik terwyl ander 'n belangriker plek geëis het.

Toe die Meester se besigheid uiteindelik finaal tot stilstand kom, belê die werker met die talent om te organiseer 'n noodvergadering in die vergadersaal. "Goed," roep hy uit oor die lawaai.  "Die Meester se plan vir ons om sy werk te doen in ooreenstemming met die talente wat Hy ons gegee het, gaan ooglo­pend nie werk nie.  Daarom maak ons die volgende veranderinge:

1.  Die sprekers van die Meester se woorde sal ook die siekes besoek, buitestanders onderrig i.v.m. die Meester, met vreemdelinge praat en die organisasie van die werk behartig.  Hulle belang­rikste taak sal egter wees om ander te probeer oortuig om ook te werk.

2.  Indien 'n werker besluit om ook te werk, sal sy taak afhang van wat hy graag wil doen.   Werkers is welkom om hulle talente te behou, maar hulle hoef nie verplig te voel om dit te gebruik nie.

Die reaksie van die werkers was oorverdowend soos hulle hom toegejuig het toe hy van die verhoog afstap.  Die paar sprekers van die Meester se woorde het maar effe teësinnig hulle nuwe verant­woordelikhede op hulle skouers geneem en die res is huis toe.

Die nuwe plan was geweldig gewild, maar sommer gou het die boorde se opbrengs begin daal.  Onkruid het rondom die vergadersaal gegroei en die opkoms by die byeenkomste het kleiner en kleiner geword.  Minder vreemdelinge het van die Meester en sy goedheid gehoor en die werkers het met stukkende skoene rondgeloop.  Daar was 'n aantal werkers wat getrou volgehou het om hulle talente te gebruik en hulle moes dikwels voorgee dat hulle ander talen­te ook besit.  Baie ander het egter, nou dat hulle so baie vrye tyd het, hulle talente vir ander doeleindes gebruik.   In plaas van oor die Meester te sing, het hulle opnames van ander sangers bekom om dit vir hulle te doen.  Die werker met die talent om te organiseer het aangehou daarmee.  Hy het lyste gemaak van potensiële werkers wat die spre­kers van die Meester se woorde moes probeer oortuig.

Maar die onkruid het al langer geword en die boorde se opbrengs al hoe kleiner.  Teen die tyd van die Meester se teruggekeer, was daar nog slegs 'n paar werkers op hulle pos.  Die sprekers van die Meester se woorde en die paar wat nog hulle talente gebruik het, was moedeloos en uitgeput van oorwerk en die oes was net ’n klein gedeelte van wat die vroeër was.

"Wat het gebeur?" Vra die meester ontsteld vir die vergaderde werkers, sy stem gevul met droefheid. "Wat het gebeur met die talente wat ek aan julle toevertrou het?"

Stilte . . . en dan kom die antwoord:  "Ons . . .   ons het dit begrawe."

Julle moes die Meester se gesig gesien het!!!

 Stil Oordenking - drie vrae

1)  Wat gebeur met die gemeente wanneer gelowiges nie hulle gawes gebruik nie? 
2)  Watter gawes het ek ontvang?   
3)  Gebruik ek daardie gawes?