Afskeidspreek Sondag 16 Aug 2015

Teks Joh. 10:28  Ek gee aan julle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie; niemand sal hulle uit My hand ruk nie

1.      Ons teks kom uit die bekende gelykenis van die Goeie Herder waarin Jesus homself bekendstel met hierdie woorde: Ek is die Goeie Herder

(‘n Vriend vertel na ‘n diens die storie van sy sussie, sy was nog ‘n klein voorskoolse dogtertjie. Hulle het vir Pa en Ma vader en moeder genoem. Die voorskoolse kindertjies moes tuis versies uit die Bybel leer om vir die Sondagskool tannie in die klassie te gaan opsê. Sy moes hierdie woorde leer. Haar pa het die sondagoggend vroeg vir haar die teks geleer. Sy kon nie die “r” klank sê nie, maar sê in plaas daarvan die “l” klank.

Pa sê: Ek is die Goeie Herder
Sy sê: Vadel is die goeie Heldel
Weer Pa: Ek is  die Goeie Herder
Weer sy: Vadel is die Goeie Heldel
3de keer Pa: Ek is die Goeie Herder
Sy: Maal ek sê mos: Vadel is die Goeie Heldel

(en so is sy sondagskool toe . . . onder die glimlag van haar pa.)

Ja, dit is bekende woorde van Jesus . . . uit ons vroegste kindwees aan ons bekend

Hierdie is een van ‘n hele versameling van “Ek-Is” uitsprake van Jesus in die Johannes evangelie:

Ek is  die Brood van die lewe
Lig vir die wêreld
Opstanding en die Lewe
Die Weg en die Waarheid en die Lewe
Uit die gelykenis van die Goeie Herder:
Ek is die ingang vir die skape
Ek is die Goeie Herder 

Die Ek-is uitsprake lê in die hart van die Johannesevangelie. Die geskrif het oorspronklik ‘n pastorale bedoeling gehad: om die christengelowiges in Johannes se tyd in hulle geloof te versterk. Dit was ‘n tyd, in daardie wêreld waarin daardie christengelowiges geleef het, waarin groot vertwyfeling oor die christengelowiges gesaai is. ‘n Tyd waarin die christengelowiges se geloof met sinisme bestry en verkleineer is. Johannes se geskrif(die evangelie in ons Bybel) moes die christengelowiges help om weg te beweeg vanuit vertwyfeling na versekerheid. Om vertwyfeling te besweer en om (hernude) versekerheid te bevestig: geloof as vaste oortuiging

Die oortuiging – vas, versekerd: Jesus is . . .!

2.      Ons teks: Ek gee aan hulle die ewige lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie; niemand sal hulle uit My hand ruk  nie

‘n Prediker wys terg daarop: As ons ons oor baie naby ons teks hou en ons fyn en goed luister, sal ons hoor hoe Jesus daarin praat oor Sy liefde vir Sy skape – wat inderdaad die grondlyn van die gelykenis van die Goeie Herder is:

Ja, Jesus se liefde
Jesus se liefde vir christengelowiges . . .
Die beeldspraak: Sy skape(Sy kudde)
Hulle vir Jesus noem: MY skape;
Hulle wat die Vader vir My gegee het.
Hulle wat Myne is, Myne is.

Ons teks is woorde van Jesus om Sy liefde te vertolk . . . uit te druk hoe sterk Sy liefde is . .

Die prediker staan in besonder stil by die woorde: niemand sal hulle uit My hand ruk nie . . . – ja, hoe sterk Sy liefde is.

Die prediker sien hierdie beeld: hierdie hand wat iets vashou. Daar word (deur kragte) geruk . . .  geruk om dit wat hierdie hand vashou, daaruit te ruk . . . , maar: hierdie Hand wat vashou . . . en so sterk vashou dat daardie kragte nie daarin slaag om dit wat vasgehou word, uit te ruk nie. Die prediker praat dan oor die begrip van “breekkrag”. Breekkrag soos van ‘n tou of ketting (of hier by ons: vislyn, ankertou). Breekkrag reken met hoeveel rukkrag/trekkrag dit kan weerstaan voordat dit breek . . . ‘n breekpunt bereik, “snap”.

En dan wys die prediker  merkwaardig daarop: Uit die uitleggeskiedenis van ons teks – is hierdie vraag ‘n vraag wat telkens na ‘n antwoord soek: Kan ‘n christengelowige weer verlore gaan?

3.      Van die mooiste preke wat ek ooit gelees het is : Are you holding on to Jesus? Hou jy vas aan Jesus?

Hy bring sy boodskap oor heilsekerheid.

Waarby hierdie betekenisvolle vraag gevra word: Waaraan anker jy as christengelowige die groot (ver)sekerheid wat jy in jou lewe het? (daardie vertroostende, vredegewende sekerheid)

Waaraan anker ons as christengelowiges die groot sekerheid wat ons in ons lewens het? (vertoostenende, vredegewende sekerheid)

Anker ons dit aan ons vashou aan Jeus, of anker ons dit aan Jesus se vashou aan ons?

Vra so: Anker ons dit aan ons liefde vir Jesus (die liefde wat ons vir Jesus het) of, anker ons dit aan Jesus se liefde vir ons? (die liefde wat Jesus vir ons het?)

4.      By ons teks kan ons hierdie vraag vra: Het jy, my broer, my suster in die Here, ook al  met hierdie onrusvraag in die hart geloop? : Hierdie kwelvraag: Sal ek môre nog Jesus s’n wees?

Môre  . . . oormôre . . . volgende week  . . . volgende maaand . . . volgende jaar   . . . oor tien jaar of twintig jaar . . .

Ja, op my laaste dag  . . . my laaste uur  . .  my laaste asemteug?

Sal ek nog Jesus s’n wees?

5.      ‘n Dominee besoek ‘n bejaarde. Hy neem die Bybel wat op die bedkassie lê en sien die bejaarde se naam voorin staan. Die Bybel val oop by Joh 10, daar is ‘n boekmerk by. Hy sien by vers 28 is iets aangeteken in potlood: hall 209. Die dominee lees voor uit Joh.10 en herhaal vers 28. En die bejaarde en sy dominee vat hande.

Hy resiteer hallelujalied 209: Al my twyfel bring ek Jesus. Hy sal Sy belofte hou. Nimmer sal Hy my beskaam  nie. Op Sy Woord kan ek vertrou.

Afsluiting:  Die Heilige Gees . . . hierdie woorde van Jesus . . . die woorde van ons teks diep in ons harte indra: En gee aan hulle die Ewige Lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand kan hulle uit My hand ruk nie.

Gebed:

Persoonlik wil ek , o Here, vir U dankie sê vir die voorreg wat aan my gegun is om ‘n bedienaar van die evangelie(dominee, predikant in die kerk) te kon wees. En dat ek vandag hier my bediening se eindpunt bereik; in hierdie wonderlike gemeente waarin ek vir agtien jaar kon werk: Gansbaai.

Dankie vir U genade op genade wat my gedra het.

U kon aan my geen groter guns betoon as om my tot u diens te roep nie.

En kyk ek terug oor my pad  . . . sien ek hoe U roeping vir my onbeskryflike seën gebring het. Vir my en vir my huis.

Ek dank U vir ‘n gemeente wat liefde betoon het. Vir broers en susters in die Here wat uitgereik het, gesorg het, vasgehou het, gebid het.

Ek roep in my geestesoog name en gesigte op: name en gesigte wat vir my sal inspireer om die goeie stryd enduit te stry, die wedloop te volbring en die geloof te behou, ouderlinge, diakens, lidmate van die NGKerk, kategese. God se geskenke in my lewe. Waarvoor ek nooit genoeg sal kan dankie sê nie.

 Amen