Gansbaai en omgewing is geseënd met ‘n ryke kultuur-historiese geskiedenis. Dit is so kosbaar dat, indien dit vir die nageslag verlore sou gaan, hulle van ‘n erfenis ontneem sou wees.
Dit het meer as vyf jaar gelede ‘n groepie inwoners genoop om ‘n komitee te stig met die doel om namens die gemeenskap die geskiedenis te boekstaaf. ‘n Bekroonde skrywer, SD Fourie en haar man, Jan, is genader om die boek saam te stel. ‘n Artikel 21 maatskappy is gestig en die skryfwerk is in alle erns aangepak. Nou, na meer as vyf jaar, is die manuskrip voltooi en aan die redigeerder oorhandig vir die finale afronding.
Ek was bevooreg om die manuskrip te kon lees. Dit het soveel emosies gaande gemaak oor die swaarkry en ook die lekkerkry van ons voorouers, hulle wat hulle toekoms hier gesoek het. Die meeste van hulle het vir en van die see geleef. Nadat ek dit gelees het, het ek opnuut onder die indruk gekom dat talle name en vanne van mense wat tans in die omgewing woon, hulle wortels hier het. Die skrywers het op die voetspore geloop van hulle wat hier gewoon het. Die boek is ‘n juweel in woorde. Sonder dit sou ons almal armer gewees het.
Hierdie boek word eintlik aan julle opgedra met die versoek dat julle dit aan julle kinders en almal wat die omgewing met mekaar deel of gedeel het, nalaat. Dit met die wete dat as ‘n mens nie weet waar jy vandaan kom nie, jy ook nie sal weet waarheen jy gaan nie.
Pieter Scholtz
(Voorsitter : Gedenkboek komitee)