Nagmaal as herinnering

Skriflesing: Ps 111 asook 1 Kor 11:23

Ek wil julle aandag vra vir vers 4 van hierdie pragtige Psalm: Hy sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie.   Oorspronklik staan daar: Hy het vir sy wonders ‘n gedagtenis opgerig.   Geleerdes meen dat die woord  gedagtenis verwys na die godsdiensbeoefening van die volk Israel.   In hierdie godsdiensbeoefening  moes die herinnering  aan en die oordenking van die reddingsdade van die  Here ‘n sentrale rol speel.  Dit was die hart van Israel se belydenis en kategese.  Dit was ook die hart van hulle dank en lofliedere.   Deel van hierdie godsdiensbeoefing was die spesifieke  feeste  wat gekoppel was aan ‘n spesifieke reddingsdaad.   So byvoorbeeld het die Paasfees ontstaan na aanleiding van die redding van die volk Israel uit Egipte.   Ons ken die storie . . . van die bloed  van die lam aan die deurkosyne  en hoe die doodsengel dan die huise van diegene wat bloed aan die deurkosyne gehad het oorgeslaan het.   Jaar in en jaar uit sou die volk dan ook hierdie gebeurtenis herdenk  deur die sogenaamde paasfees as deel van die Here se pad met hierdie mense.   In die Nuwe Testament sien ons dat  hierdie gebruik voortgesit word.

Ook in die NT tyd wil die Here seker maak dat sy magtige dade steeds nie vergeet word nie. So byvoorbeeld vier ons die Sondag as ‘n herinnering aan Christus se opstanding.   Elke Sondag is so ‘n herinnering.   Elke Sondag maak die Here seker dat ons nie die wonderlike redding deur die opstanding sal vergeet nie.   So sou die erediens  deur die jare dan ook juis hierdie rol speel.     Herinnering sou  ‘n baie sentrale rol plek inneem.  Daarom sou herhaling  so belangrik wees.  Om  elke keer weer te hoor, elke keer weer herinner te word.   Sodat die gelowiges  hulle kan orienteer.   Dit is die rede hoekom daar eredienste  is. Om herinner te word.  Dink aan die ou halluluja lied wat nou as vonklied in ons kerk gesing word wat so pragtig is: Bring my die ou ou tyding van God se Woord vir my . . .

 Vir vandag se doeleindes wil die Here ook deur die Nagmaal seker maak dat ons nie die wonderlikste reddingsdaad  van almal  naamlik die kruisdood van Jesus sal vergeet nie.   Die  Nagmaal is by uitstek ‘n goeie voorbeeld van ‘n gedagtenis wat die Here gestig het.   Van hoe die Here seker maak dat Sy magtige dade nie vergeet sal word nie.   Laat ons let op die eerste betekenis van die Nagmaal: Die nagmaal is in die eerste plek ‘n gedagtenismaaltyd.  Dit is natuurlik na aanleiding van die woorde van Jesus soos deur Lukas aangehaal  volgens Lukas 22:19: Die Here het by die instelling van die Nagmaal gese:  Gebruik dit tot My gedagtenis.   En dan volg die woorde van die formulier: Met die nagmaal oordink en verkondig ons die dood van die Here. By die eet van brood en die drink van die wyn, roep die gemeente hom die hele  lydensweg  van Jesus Christus voor die gees: hoe Hy Sy lewe gegee het; hoe Hy soos ‘n koringkorrel  in die grond geval het  en gesterf het; hoe Hy die lydensbeker gedrink het, hoe Hy van God verlaat was  en uitgeroep het: my  God, my God, waarom het U my verlaat, sodat ons nooit deur God verlaat word nie.    Die apostel Paulus sou ook hierdie woorde gebruik as hy aan die Korintiers skrywe  om nie deel te he aan afgodery nie. Ek het  van die Here ontvang  wat ek ook aan julle oorgelewer het:  Die Here  Jesus het in die nag waarin hy oorgelewer is,  brood geneem  en nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gese: Dit is my liggaam,  dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.   Net so het Hy na die maaltyd die beker geneem  en gese:  Hierdie beker is die nuwe verbond  wat deur My bloed beseel is, gebruik dit elke keer as julle daaruit drink tot My gedagtenis.  Dit is werklik soos die vers  in Ps 111:4 se:  Die Here sorg  inderdaad dat sy magtige dade nie vergeet word nie.

 
In hierdie verband wil ek twee opmerkings maak: Die eerste  is dat  dit net  ‘n genade is  dat die Here so seker  wil maak, en inderdaad seker maak dat ons nie sal vergeet  nie, want dit is nou eenmaal  ons lot dat  ons so maklik vergeet.   Ons het nie lang geheues nie en dit het nie net met die ouderdom te make nie, maar  dit is omdat ons so maklik so gewoond raak  aan dinge. Dit is in ons godsdiens ook so.   Ek lees  iemand skryf: Dit is met ons godsdiens  nie baie anders  as met ‘n kind se nuwe speelding nie.   Die eerste dag kan hy of sy nie ophou speel nie, die aand slaap die speelding in  die bed  saam met hom.   Maar  sommer gou is die blink oe  en die liefde weg  en is dit net maar nog ‘n speelding.   So gaan dit maar met die Here ook.   Solank sy genade en hulp nog vars in ons geheue is, is dit maklik om Hom met  gloed en entoesiasme te dien, maar mettertyd begin ons vergeet.   En dan raak ons harteloos en koud  en tree die vreeslikste  van vreeslikste dinge in die  godsdiens in en dit is  wat bekend sou word as formalisme.    Dit het alles te make daarmee dat ‘n mens uiterlik nog jou geloof as ‘n ware aan die gang hou, maar innerlik die lus  en vreugde daarvoor verloor het.   Dit is wanneer ‘n mens die Here nie meer met jou hele hart kan loof nie, wanneeer jy meedoen, maar nie meer dink oor wat jy doen nie  en ook nie juis bekommerd is dat jy alles verstaan nie.   Dit is blinde godsdiens, godsdiens sonder ervaring, sonder siel.   Jy weet nog van die Here se dade, maar ervaar lank nie meer die krag daarvan nie.   Hierdie Psalm is eintlik ‘n mooi voorbeeld hoe ‘n mens veg teen formalisme. Die Here sorg inderdaad dat sy magtige dade nie vergeet word nie sodat ons altyd weer ‘n hart sal he vir die evangelie, dat dit ons opnuut sal tref, dat dit ons diep sal raak en dat ons daarom met entoesiasme die Here sal dien.  
Die tweede opmerking het te make dat ons sal onthou  dat die Here hierdie gedagtenis oprig en self wil seker maak  dat ons nie sal vergeet nie.   Anders as die tekens wat ons oprig soos monumente is die tekens wat die Here oprig, soos ook die Nagmaal,  lewende tekens waardeur die Here self deur Sy Gees ons wil bemoedig.   Dit is Hy self wat sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie. Die Nagmaal is eintlik meer as net herinnering.  ‘n Mens kan dit so verstaan dat die herinnering  eintlik ‘n menslike  poging is waardeur die gelowige eintlik homself  as ‘n ware probeer opwek.   Nee,  die lewende Here staan self agter die tekens wat hy opgerig het.  Die Here deur Sy Gees verbind Hom aan hierdie tekens  en op ‘n misterieuse wyse is Hy  self in die brood en die wyn  teenwordig.  Vir die hervormer Calvyn was dit dan ook wat ‘n nagmaal  ‘n nagmaal besonders maak, die Here wat deur Sy Gees deur die tekens tot die gelowiges spreek.    Dit is eintlik waaroor dit in  Ps 111 gaan.  Dit is opmerklik hoeveel keer die woord Hy voorkom.   Dit is die Here self wat voed, dit is Hyself wat vryheid bewerk, dit is Hyself wat ons die krag van sy dade laat ervaar.   Baie kan juis daarvan getuig, hoe die Here telkens deur die Nagmaal  ons al versterk  het, hoe die Here ons deur die Nagmaal  aangeraak het.   Iemand wat met die verwagting  na die nagmaal gaan om juis  bemoedig en versterk te word in sy of haar geloof, sal nie tevergeefs  gaan nie.   Deur Sy Gees  bemoedig die Here ons inderdaad.  Dit kan nooit net ‘n selfherinnering wees nie.