Al die bome sal weet
Teks: Esegiel 17: 22-24. Ek kan nogal dink ek sal ‘n weddenskap kan wen as ek skryf dat niemand dit al ooit gelees het nie! Die opskrif van hoofstuk 17 is: “Ek maak groot boompies klein en klein boompies groot.” Die hele hoofstuk is ‘n kreatiewe spel van metafore tussen bome/plante en volke op aarde.
In vers 22 kry ons God wat ‘n seder plant waarin al die voëls bly en wat almal kan sien en dan die woorde: “Al die bome in die veld sal weet dat Ek die Here is”. Dit is nie die enigste plek in die Bybel wat ons lees dat God die God van die skepping is en dat Sy grootheid ook erken word deur alle geskape dinge nie. Die skepping verkondig God se grootheid: Boom aan boom, dier aan dier . . .
Ook is hier onderliggend ‘n interpretasie wat gerig is op die politieke spel van daardie dag. Soos God plant en uitroei, laat groei en verdor, is Hy ook in beheer van die wel en weë van alle nasies, nie net Israel nie. Dit is ‘n sterk tema in al die profete boeke, dat Israel moet besef die groter prentjie is in God se hand.
Miskien wil dit ook sinspeel dat ons na die natuur moet kyk om herinner te word dat ons lewe in God se hand is. Sodat nie net al die die bome in die veld nie, maar ook alle mense sal weet dat God die Here is. Here is tog “Lord”. Meer as dit is die sentrale boodskap van Paulus: Jesus is die Here. Die Jesus wat sy verhouding met sy Vader en met ons verduidelik in terme van ‘n wingerdstok en lote.
Wie sê ons kan nie by bome iets leer nie!