Om te vrede te wees

Skriflesing :  Filippense 4:10-13, Hebr 13:1-6

Wat jy het, is wat God jou gegee het. Hy het jou lief en wat hy jou gee is wonderlik.  Hy wil jou daardeur seën.  Maar die meeste van ons het nog skaars begin om te ontdek hoeveel  rykdom daar is in wat ons reeds het.  God wil ons oë daarvoor oopmaak.  Dit was veral die woorde: “hoeveel rykdom daar is in wat ons reeds het”  wat my getref het. Die Here wil ons oë daarvoor oopmaak.

In ons twee  skrifgedeeltes blyk dit is wat die apostel Paulus eintlik maar wou sê. Natuurlik in ander woorde: ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie,  want ek het geleer om in alle omstandighede tevrede te wees, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp.  Paulus sê hier dankie vir die hulp wat die gemeente hom gebied het,maar hy wil darem nou ook nie klink soos iemand wat as 'n ware op ‘n hoop gaan sit en kla nie. Nee, hy is al is sy situasie hoe moeilik, nog steeds baie dankbaar  en sê dan dat hy geleer het om in alle omstandighede tevrede te wees.  Die rede dan ook vir hierdie ingesteldheid is dat Paulus ten diepste oortuig was dat die Here reeds sorg en steeds naby hom sal wees.  Dink maar aan die aangrypende woorde in v4:” Wees altyd bly in die Here. Ek herhaal: wees bly. Wees inskiklik teenoor alles mense . Die Here is naby”.  Ons lees ook van tevrede wees in Hebr 13. Hier gee die skrywer algemene raad en skrywe: “Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het.  God self het gesê:  Ek sal jou nooit verlaat, jou nooit in die steek laat nie.  Daarom kan ons met vertroue sê:  Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie, wat kan 'n mens aan my doen”.  Hier is dit ook duidelik dat die skrywer die gelowiges daarop wys om tevrede te wees met wat hulle het.  Maar juis ook as gevolg van die diepe oortuiging  dat die Here sorg, dat die Here jou nie sal verlaat en in die steek sal laat nie.  Hierdie ingesteldheid kan ook natuurlik saamgevat word met die woord vergenoegdheid . . . om vergenoeg te wees.  Want 'n vergenoegde mens is juis iemand wat tevrede is met sy omstandighede, juis omdat die Here sorg.

Toe ek bogenoemde aanhaling lees asook die twee gedeeltes uit die Bybel, toe besef ek hoe belangrik hierdie ingesteldheid vir ons as Christene is in die tyd waarin ons leef. In die tyd waarin ons leef  word die gevoel gewek wat ons aardse gewone lewe betref, dat die ware lewe êrens vorentoe nog lê.  Wat jy het is nog nie die volle lewe nie, maar as jy jou ideale eers kan bereik, dan sal jy 'n lewe hê  Ons raak ontevrede met wat ons het  en hou aan strewe na iets wat ons nooit bereik nie.  Ons ly aan 'n honger wat nooit gestil word nie.  Ek lees 'n aanhaling van John van der Bergh wat kom uit sy boek 'n Rusplek langs die pad: Die jeug glo  soos 'n mens maar altyd glo voor jy anders geleer het, dat die rus elders te vinde is . Eers later leer jy, deur stampe en stote, dat die rus nie elders is nie.  As jy dit ooit vind is dit op jou drumpel, dit kom as 'n genadegawe van binne af, nie van buite nie.  In sy boek Rykdom in eenvoud skrywe dr Willem Nicol dat hierdie geloof, dat die lewe en die rus elders lê, dus hierdie inherente ontevredenheid, is die kanker van die siel.  Ons moet genesing daarvoor in ons geloof vind.  En verwys dan ook daarna waaroor Paulus skrywe asook die Hebr skrywer  dat hierdie tevredenheid begin diep binne in die verhouding met God. Hoe meer God vir 'n mens 'n werklikheid word, hoe meer ons sy teenwoordigheid as troos  ervaar, hoe minder plek is daar in jou hart vir ontevredenheid.    Ek glo die Here wil ons ook vandag nog help om  vergenoegd te wees.  Om tevrede te wees.  Om te erken dat die ware lewe nie ver van jou is nie, maar baie naby aan jou . . . beginnende by jou eie hart.     Om dus nie toe te gee aan die versoeking dat die geluk van jou lewe altyd elders geleë is nie.  

'n Joodse legend lui:  Isak, ‘n arm Jood, het in 'n armsalige pondokkie ver van die groot stad geleef.  Een nag droom hy dat hy 'n lang reis na die groot stad onderneem  waar hy 'n groot sak goud vind onder  die  brug wat na die hoofpoort lei.   Hy het die droom geÏgnoreer, maar dit het telkens teruggekeer.  Isak was so arm dat hy gevoel het hy het in elke geval niks om te verloor nie.  Daarom het hy besluit omn sy droom te toets en die lang tog na die stad te voet aan te pak.  Na dae het hy uitgeput  en voetseer daar aangekom.  Tot sy teleurstelling  was die poort swaar bewaak.  Verlore het hy toe maar by die brug rond gestaan in die hoop dat daar tog 'n kans sou kom om die skat te soek.  Die kaptein van die wag het sy onrustige bewegings opgemerk en vir hom geskree : Wat doen jy hier ou man?  In sy eenvoud vertel Isak die kaptein van sy droom.  Die kaptein lag hom uit en antwoord:  Jou dwaas. Wat sou van ons word as ons drome moes glo.  Net laas nag het ek gedroom dat ek reis na 'n gehuggie  ver van hier  waar ek die armasalige pondokkie van 'n ou Jood binnegaan. Agter die vuurherd het ek 'n skat gevind.  Dink jy dit is waar?  Nee wat die lewe werk nie so nie . Weg is jy jou domkop.  So vinnig as hy kon, is Isak terug huis toe.  Daar het hy, so lui die legende, die skat in sy eie huis agter die vuurherd gevind.  Die storie beskryf dit waaroor ons teksgedeelte handel so pragtig.  Die skat van die lewe, is nie daar ver nie, maar hier by jou.

Daar is nie 'n lewensterrein waarop ons hierdie dinge nie behoort toe te pas nie.  Baie mense is nie gelukkig met wie hulle nie.  Dink aan 'n persoon vir wie die sielkundige gesê het om bietjie eenkant te gaan en vir 'n ruk op sy eie te wees. Die persoon se antwoord was dat hy nie aan iets slegter kan dink nie. Want dit kan nie slegter wees as om in sy eie geselskap te wees nie.  Sommige  vergelyk hulself ook gedurig met ander.  Vir hulle lê geluk daarin om iemand anders te kan wees.  Ons kan maar net bid dat hulle vrede met hulself sal maak en ook hulleself sal aanvaar.   Baie is nie gelukkig waar hulle bly nie en verlang gedurig om op 'n ander plek te kan woon.   Hulle dink die skat van hulle lewe lê op 'n ander plek. Ek dink aan waar ons gebly het, Cookhouse. Die plek het baie agteruitgegaan en as mense sou vra waar kom ons vandaan, gesê van 'n plek naby Somerset- Oos.  Maar natuurlik is niemand tog seker ongelukkig om hier te bly nie.  Ons kan net bid dat soveel mense wat wel ongelukkig is waar hulle bly,  ook sal ontdek dat die lewe wat die Here gee juis nou is waar hulle bly.  Om in die omgewing  te ontdek wat die Here deur hulle in die omgewing wil bereik.   Baie is ook nie gelukkig met hulle werk nie.  Wou dalk iets anders geword het of hou nie van die mense nie. Maar solank hulle in die huidige werk sit, is dit die werk  wat die Here vir hulle gegee het  en is dit net om te ontdek van die goedheid van die Here wat dit betref.   Elkeen van ons is deel van 'n familie en 'n vriendekring.  Elkeen het ook maar sy gebreke, maar die geheim van gelukkig lewe, is om te aanvaar dat dit die familie en vriende is wat die Here jou gegee het.

Kan ek dit ook op die kerk en die gemeente waaran ons behoort van toepassing maak?   Want sekerlik is dit so dat waar die die wêreld jou wysmaak dat geluk elders lê, die kerk of die gemeente nie onaangeraak sal wees daardeur nie.  Natuurlik  sal hierdie ontevredenheid ook daar  uitgeoefen word deur sommige. In die boekie My ds is hopeloos, geskryf deur ds Schalk van Wyk, word gepoog om hierdie ontevredenheid in die kerk bietjie aan te spreek.  Iemand het nogal eendag gekla oor sy dominee en die volgende opgemerk: My dominee is hopeloos.  In die week is hy onsigbaar, op 'n Sondag onverstaanbaar en aan die einde van die maand onbetaalbaar.   Hier kan ek net sê:  Ook hierdie kerk en gemeente het baie gebreke, maar  dit is  die gemeente wat die Here vir jou gegee het en kan ons daarom ook in staat wees om ook hierdie kerk en gemeente te waardeer.  Die skrywe van die apostel Paulus in Fil 1:3 en 6  is  veelseggend: "Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink"  "Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie erk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom" Kan 'n mens  dit toepas op die land waar ons bly?   Ek dink so. Ten spyte van die talle en talle dinge wat jou bekommer wil 'n mens glo dat ons almal op hierdie tydstip hier woon en dat dit die plek is wat die Here in sy goedheid vir ons gegee het. Ek dink sommer aan die waardering van die omgewing, van die natuur. 'n Mens hoef nie ver te gaan soek na wat mooi is nie, want dit is ook hier. Ons moet net leer om dit raak te sien en te waardeer. 'n Mens kan so baie voorbeelde opnoem en die beginsel toepas op talle terreine van die lewe. Die  punt is ware geluk begin daar waar die Here jou help om te besef dat die ware lewe, ware geluk nie ver van jou is nie, maar naby.  

'n Mens hoef nie op soek te bly na 'n skat wat elders lê nie . Wat jy nodig het, is om gevoeliger te word vir die rykdom van jou eie lewe. Om as 'n ware agter jou eie vuurherd te grawe  tot jy jou skat vind.  Die filosoof Martin Versfeld het gesê:  die paradys is daar waar jy tuis is,  die hemelpoort is jou eie hek. Bedoelende natuurlik wat geluk betref van hierdie aardse lewe.

My gebed is dat die Here ons sal help om te besef omdat Hy hier by ons is, ook in ons hart, dat ons  geluk nie ver van ons is nie, maar naby. Ons het reeds soveel om oor dankbaar te wees..