Die skepping behoort aan die Here
In die boek Joël word die Here se volk platgeslaan deur ‘n sprinkaanplaag. ‘n Wolk van verwoesting wat hongersnood en magteloosheid tot gevolg het. Ons lees van die verslaendheid in die eerste gedeelte van die kort boek, maar ook van hoop. Hoop nie net vir die mens nie, maar ook vir die grond:
“Jy moenie bang wees nie, ploegland,
jy moet bly wees en juig…” (2:21)
“Julle moenie bang wees nie,
vee in die veld..” (2:22)
Hoekom nie? Volgens 2:18: “Die Here het vir sy land opgekom, Hy het medelye betoon vir sy volk…” (Then the Lord became jealous for his land, and had pity on his people). Ons loop nooit die pad na vervulling van God se beloftes alleen as mens nie, ons is deel van iets groters, en God se skeppingshand is oor alles, mens, grond en dier. Miskien moet ons nie so verwaand raak om te dink dat ek die spil is waarondom alles draai. Die storie is altyd groter, maar met my hand in die grond waar ek plant en bewerk ook nader.