Die vrede van Kersfees

Skriflesing: Lukas 2:25-40

Dit is vandag die tweede advent sondag. Die tema deur die jare vir hierdie Sondag is vrede... en hoe kan dit anders. Kersfees gaan by alles oor vrede. Dink aan die woorde van die engele volgens Lukas 2:14: "eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het". En hoe sou Simeon ook dan volgens v 29 sê: "Here laat u dienaar nou in vrede gaan  volgens u woord . . . "
Ek wil dat ons vanoggend bietjie nadink oor hierdie vrede en onsself afvra wat hierdie vrede regtig beteken. Nou by die lees van hierdie gedeelte  en veral die profesie van Simeon oor Jesus sal ‘n mens by alles oor die vrede verseker wou sê dat hierdie vrede nie ‘n soort  oppervlakkige welwillendheid of ‘n oppervakkige gemoedelikheid is nie. Nee, hierdie vrede sny baie diep, dit bring selfs verdeeldheid, dit  stel bloot, dit bring uitdruklike keuses mee, dit vra verandering,  dit  vra versoening. So bv kan jou eie getuienis lei tot teenstand en selfs verdeeldheid. Sommige Christene ervaar hierdie spanning  waar  mense bv  uit die Moslem geloof tot geloof in Christus kom. Jesus self het die volgende gesê volgens Lukas 12:49. Die opskrif daar is nogal heel gepas. "Jesus die oorsaak van verdeeldheid."   "Ek het gekom om vuur op die aarde aan te steek en hoe wens Ek dat dit al aan die brand is.  Maar daar is ‘n doop waarmee ek gedoop moet word en dit sal My heeltemal in beslag neem totdat  dit  afgehandel is.  

Dink julle dat dat Ek gekom het het om vrede op die aarde te bring. Nee, sê Ek vir julle, eerder verdeeldheid.  Want van nou af sal  daar vyf mense in een huis onderling verdeeld wees, drie teen twee en twee teen drie. Hulle sal verdeeld wees: vader teen seun en seun teen vader, moeder teen dogter  en dogter teen moeder, skoonmoeder  teen skoondogter en skoondogter teen skoonmoeder." Jesus het goed geweet dat geloof in Hom spanning sou bring tussen mense onderling. So kan ‘n mens  vra of dit regtig die vrede van Kersfees is as mense om vredeswil maar liewer stilbly  en dan nie praat oor Jesus ter wille maar net van die vrede nie.   Daarby kan dan ook gesê word of dit regtig die vrede van Kersfees is as mense in verhoudinge  maar eerder stilbly ter wille van die vrede en daar eintlik van versoening geen sprake is nie. In verhoudinge kan daar mos nie van vrede sprake wees  as daar nog nie uitgepraat is na konflik  en dit terwyl  mense dalk dink  ter wille van die vrede sal ek  maar eerder stilbly nie, veral in die kerstyd.    

Ek lees net weer  van talle insidente in oorlogstyd dat die vyande  tydens kersfees eers die stryd staak om na kerstyd weer die stryd voort te sit. Nee, dit kan ‘n mens by alles wat oor die vrede gesê kan word, dat  dit definitief nie  ‘n oppervlakkige  gemoedelikheid  of welwillenheid is nie. Nee hierdie vrede sny diep  . . .
Hierdie aspek van die vrede van Kersfees word baie merkwaardig geillustreer in die profesie van Simeon oor Jesus se geboorte.  

Kom ons lees dit net weer, vanaf v  34.  "Simeon het hulle geseën en vir Maria sy moeder gesê: Kyk hierdie Kindjie  is bestem tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word. So sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan." Simeon het vier dinge oor Jesus se geboorte gesê. Kom ons kyk vir ‘n oomblik daarna. Die eerste  wat  hy gesê het was dat hierdie Kindjie bestem is tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel. Hiermee sou Simeon  die beeld gebruik  van ‘n steen wat deur God gestel  word   tot  sowel  ‘n struikelblok vir sommige as ‘n hoeksteen vir andere.  Vir die vroeëre kerk was dit ‘n baie belangerike beeld van die evangelie. Veral die negatiewe aspek daarvan sou dien as verklaring  van die verwerping van Jesus deur Israel  terwyl die heidene Hom sou aanneem.  In 1 Petrus 2:6-8 lees ons dan ook: "Daarom staan daar in die Skrif:  Kyk  Ek lê in Sion ‘n hoekklip, uitverkies vir die ereplek.  Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie. n  Klip waaroor ‘n mens struikel  en ‘n rots waarteen jy jou stamp."  Sommige sal  dus heil vind en ander sal struikel  as dit kom by die evangelie.  

Die tweede wat Simeon in verband met die geboorte van Jesus gesê het is dat Hy  ‘n teken sal wees wat weerspreek word.  Die klem is hier op die negatiewe reaksie wat Hy sal  teëkom. In Jesaja  7:14  lees ons dat die kind met die naam Immanuel  ‘n teken  sal wees  wat meer van ‘n negatiewe as ‘n positiewe resultaat sal hê. Dit sal  heftig deur mense ontken word dat hy deur God gestuur is.  Simeon het hier eintlik reeds voorspel dat Jesus  verwerp sou word en het reeds voorspel van sy lyding en sterwe.  In die verband sou Jesus dan ook ‘n teken  van oordeel wees oor ‘n bose en onbeerlike geslag soos Hy daarna verwys in Lukas 11:29-32. Die derde ding wat Simeon gesê het was  "so sal die gesindheid van baie mense aan die lig kom."  Daar staan eintlik dat die gedagtes van baie mense geopenbaar sal word. En hierdie gedagtes is slegte, bose en ydele gedagtes. In Lukas 5:22  asook Lukas 6:8  is daarvan sprake dat Jesus elke keer die skare se slegte bedoelings bemerk en daarop ingaan.  Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê:  Wat redeneer julle by julleself.  Maar Hy het hulle gedagtes geken. Jesus se geboorte sou mense se bedoelinge kom ontbloot vir wat dit in werklikheid is. Dit sal aan die lig kom.  

Ook met hierdie woorde sou dit dan net verder bevestig word dat die Kind se koms sou lei tot  skeiding  en oordeel. Die laaste wat Simeon gesê het was die merkwaardige woorde oor Maria: "en wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan."  Oor jare heen sou mense daaroor redeneer oor wat dit tog kon beteken. Party sou redeneer dit dui op Maria se eie twyfel, haar eie verwerping, asook  haar medelye met haar kind wat verwerp sou word,  asook haar eie worsteling. Hoe dit ookal sy,  die  belangrikste egter is net dat  ook hierdie woorde van Simeon daarop dui dat  die koms van die Kind lei tot skeiding, oordeel en lyding. Dus sou die vrede wat die Kind sou bring  ver verwyderd wees van ‘n oppervlakkige gemoedelikheid of welwillendheid.

God se vrede,  dus die vrede van Kersfees  lê anderkant die versoening en dit beteken anderkant die sonde, bekering, die berou, die breuk, die onvrede.   En omdat dit  so is, is daar natuurlik teenstand teen die evangelie van Kersfees. Dit was nog altyd so en sal  altyd so wees. En hierdie weerstand is nie ‘n toevallige reaksie nie, Nee, die Kind is soos Simeon gesê het daartoe bestem. En nou moet ons  dit nie  net dink van die wêreld nie. Nee, die aanstoot leef maar ook in ons harte. Ook ons dra maar ‘n stuk wêreld in ons  en daarom ook ‘n stuk weerstand. Ook ons  gedagtes word gedurig blootgelê deur die evangelie. Anders gestel: ook ons  het steeds ‘n menigte van onbekeerde gesindhede en lewenskeuses.    As Simeon  gesê het dat  die gedagtes van baie openbaar sal word, dan is dit maar waar van ons self ook.   Daarom is die profesie  dan ook eintlik ‘n oproep aan ons dat ons  onsself gedurig sal ondersoek in die lig van die Woord.  

Kersfees is dus geen oproep tot oppervlakkige gemoedelikheid nie, maar ‘n oproep tot getroue getuienis en ook ‘n oproep tot getroue selfondersoek, kritiese selfbeoordeling  en onderwerping in gehoorsaamheid.