Onbeantwoorde gebede

TEKS:  HAB 1:1-4 EN 3:17-18

Onbeantwoorde gebede.  Daar is seker vir die gelowige geen groter geloofsteistering  as gebede wat nie beantwoord word nie.  Miskien het u al in u lewe gebid: Here my kind is siek - help my, Here my besigheid gaan te gronde, Here ek kan nie meer met hierdie pyn saamleef nie, Here  ek kan die ouderdom nie meer vat nie, kan nie meer die geweld en onreg verdra nie, help, Here my huwelik maak my dood, help my.  Jy pleit by God om hulp,  maar geen antwoord word gegee nie, geen uitkoms is sigbaar nie, dit voel of God nie hoor nie, voel of God nêrens is nie.

Hierdie ervaring dat jy verniet wag op ‘n gebedsantwoord is ‘n eeu oue probleem.  Die profeet Habakuk het alreeds in die jaar 600-700vC geworstel met hierdie probleem. Alhoewel Habakuk ‘n profeet is,klink die boek Habakuk  nie na ‘n profesie nie,maar klink dit meer na ‘n Ps of anders gestel na ‘n gebed.  In sy gebed spreek hy sy ontsteltenis uit oor dit wat in Juda gebeur.  Hy beskryf die toestand in Juda met die volgende woord: "Geweld”, “onreg”, “ellende”, “onderdrukking”, “getwis” en “gebaklei”.  In vers 4 lees ons: "die wet het nie meer krag nie,en daar geskied nie meer reg nie, slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg verkrag”  Volgens Habakuk het mense in die land geen respek vir mekaar, vir die lewe en vir God nie.  Daarom bid hy,daarom pleit hy dat God moet help.

In 1:5-17 lees ons dat God uiteindelik antwoord. In hierdie gedeelte sien ons dat God se antwoord totaal en al die teenoorgestelde is wat Habakuk verwag het of waarvoor  hy gebid het.   In vers 6 lees ons God sê:  “Ek gaan die Galdeërs laat kom..”  Vir Habakuk moes God se antwoord ‘n skrikwekkende, angswekkende antwoord gewees het.    Dit is nie waarvoor hy gebid het nie.  Die Galdeërs was ‘n wrede en woeste nasie(vers6).  In verse 14-15 lees ons hoe wreed hierdie mense was.
Habakuk  het gehoop het op meer reg, vrede en wetsgehoorsaamheid, nou lyk dit of die Galdeërs meer geweld, meer onreg gaan saam bring.  Op die punt begin sy(Habakuk) se gebedsworsteling.

Habakuk se grootste gebedsworsteling het nie net te doen met die toestand van die land nie of te doen met die wreedhede van die Galdeërs nie. Sy grootste worsteling is met God self.  Hoekom doen God nie iets nie?  En as Hy iets doen, hoekom doen hy dit so totaal anders as wat hy voor gevra het?  Hier lê seker Habakuk se grootste worsteling.  God antwoord wel sy gebed, maar totaal anders as waarvoor hy gebid het.

Habakuk se worsteling is ook ons worsteling.  In die lig van al die ellende in die wêreld wil ons ook vir God vra waarom al die lyding? Hoekom doen God nie iets daaraan nie? Ons wil vra kan God dan nie  maar Sy towerstaf  swaai oor hierdie planeet nie?  Kan God nie maar Sy towerstaf swaai oor SA, oor Amerika, Afganistan, oor die Kongo en Rwanda, oor die bomplanters en bomslagoffers nie, oor hospitale, oor hongersnoodgetysterde gebiede nie, oor my stukkende huwelik, ens?  In die verlede het mense al verskeie antwoorde/oplossings  probeer gee op hierdie hoekom en waarom vrae:  So hoor ons byvoorbeeld antwoorde soos:

  “Toemaar, dis nie so sleg nie,  Môre gaan dit beter”; Of  "Jou lyding is nie so erg soos sommige ander mense se lyding nie, jy het nog rede tot dankbaarheid”; Of  “Die Here het maar net die mooiste blom uit sy tuin kom pluk, daarom moes jou kind sterf”  Vir baie bring hierdie woorde troos, maar in die boek Habakuk sal u nêrens hierdie soort trooswoorde hoor nie.  Israel bly in die ellende tot aan die einde van die boek.  Die doring word nie uit die vlees gehaal nie.  Blybaar verander niks aan die uiterlike situasie van Israel nie.  Wat wel verander, is Habakuk

Habakuk se gebed verander nie sy omstandighede nie,maar dit verander sy lewe.  In vers 18 lees ons uit sy mond die aangrypende woord  “nogtans”.
* Al sou die land deurtrek wees van ellende, al sou daar geen olyf en wingerdoes wees nie, al sou daar geen diere meer oor wees nie, nogtans, sê Habakuk sal ek in die Here jubel.  
* Al word Habakuk se gebed nie verhoor soos hy verwag het, nogtans glo hy God sal nie Sy volk vernietig nie,
*   Habakuk leer soos iemand dit gestel het: “om teen die skyn van dinge in, teen die verloop van sake in, teen die oënskynlike oormag van die kwade en bose in, te vertrou dat God goed, genadig en regverdig is, hy moet leer om God se beloftes te glo al het hy nie al die antwoorde op moeilke lewensvrae nie”
* Habakuk moes ook leer dat ‘n mens nie in God glo, op God vertrou ter wille van sy gawes nie, m.a.w. al sou daar geen loon op sy gebed wees nie, glo ons ondanks alles nogtans in God, want dit gaan om God en nie om sy gawes nie.  Al wat vir Habakuk oorbly is ‘n oorgawe in God se hand.  
Ek sluit af  met ‘n aanhaling wat treffend aansluit by die kern van vanoggend se boodskap:
"Baie van ons gebede,dikwels die innigste en dringendste, bly onbeantwoord.  Die deure van die hemel val in hulle grendels toe en ons klop tevergeefs daaraan.  Ons gebedspogings bly stry teen die wil van die magte, en die bitter beker gaan nie by ons verby nie, maar tot op die bodem toe deur ons leeggedrink word.  Selfs die Seun roep die Vader (skynbaar) tevergeefs aan . . .
Maar kom ons hou by die simboliek van juis hierdie verskriklike gebeure.  Die beker moet gedrink word, maar die engel van die Here verskyn en gee dit aan jou.  Wat beteken dit?  Dit waarom jy bid, word jou geweier.  Maar dit waarom jy nie gebid het nie,word aan jou geskenk, nl die krag van God om die bitter beker leeg te drink.  Ek wil daarby sê:  Slegs diegene wat dit ervaar het en nogtans bid, kan bid.  Want elke gebed gaan uiteindelik om die Engel van die Here, ja om  die Here self, en nie om die nalaat van die beker nie.  Dit het niks met heroïsme te doen nie.  Maar dit is die Christendom.  En, soos jy seker kan aflei, ek het in my lewe ook al skynbaar tevergeefs gebid”

Habakuk wil sê:  Hou goeie moed.  Ons onbeantwoorde gebede is dalk ons “beste” gebede  Amen.