Dekades - 1953-2013 : Die Kerkgebou in Gansbaai 60 jaar oud

Na die groot griepepidemie van 1918 is die kerkie in Baard-skeerdersbos in 1921 voltooi en ‘n jaar later, in Maart 1922, is die eerste kerkie in Gansbaai ingewy (saal by die laerskool).

Die hoeksteen van die NG kerk in Gansbaai is op 28/3/1953 deur ds. J.P.L. Zietsman, wat leraar van 1950 tot 1959 was, gelê. Op die steen staan geskryf: “Die Here sal voorsien”. Vandag getuig ons dat die Here die afgelope 60 jaar mildelik voorsien het!

Ds. Zietsman was die dryfkrag agter hierdie groot kerkbou-projek en het dit beskryf as: “n projek sonder geld wat ‘n geloofsuitdaging en ‘n geestelike ervaring was”. Die bouwerk wat vir hom en die kerkraad na ‘n onoorkomelike berg gelyk het, het volgens God se Woord soos was weggesmelt.

Op 11/12/1953 berig die Caledon Venster onder die opskrif: “Groot skare teenwoordig op Gansbaai”: “Op Sat 5/12/1953 is die kerk te Gansbaai ingewy. Tereg is opgemerk dat hierdie kerk ‘n landmerk is, want dit kan met sy hoë toring van ver gesien word. Die inwyding het geskied in die teenwoordigheid van ‘nskare van oor die duisend mense. Dit is voorafgegaan deur ‘n feesbasaar ten behoewe van die boufonds”.  Die kerk kan sowat 600 mense huisves. In die berig word ds. Zietsman en sy kerkraad gelukgewens met die groot onderneming wat slegs 9 jaar na die stigting van die gemeente deur die betreklik klein Gansbaai-gemeente deurgevoer is.

Desember 2003 is die 50ste verjaardag van die kerkgebou in Gansbaai gevier. Op Saterdag 6/12/ 2003 is ‘n feesbasaar gehou. Op Sondag 7/12/2003 is nagmaaldienste gehou, met feesvieringe daarna in die Pretoriussaal om dié 50 ste verjaardag te vier. ‘n Hoogtepunt was die teenwoordigheid van ds. J.L.P. Zietsman, die leraar wat die dryfveer agter die bou van hierdie kerkgebou was. Ds. Zietsman se gebed vanuit sy rolstoel dié dag in die kerk sal nooit vergeet kan word nie! Sy opregte smeking om genade vir ons gemeente hier op aarde móés in die hemel gehoor word.

By dié geleentheid (7-12-2003) het mev. Zietsman van haar herinneringe aan 1950 tot 1959 met die   bou van die kerk met die gemeente gedeel:

“Ons het ‘n hele paar jaar lank in die kerksaal (saal by die skool, gebou in 1922 )  eredienste gehou. Die gedagte is geopper  dat ons ‘n kerk dringend nodig het, maar daar was nie geld nie. In die geloof het die gedagte vorm aangeneem en met entoesiasme en gebed is die poging van stapel gestuur. Verskeie pogings is aangewend om fondse in te samel:
Koekverkopings: Ons vroue was dadelik gewillig om Saterdag-oggende koekverkopings op oom Willie Swart se winkelstoep aan te bied. Vrywilligers het om die beurt hul gebak gebring.
Hou van Nuwejaarsfunkies by Uilkraal:  In daardie dae het vakansiebesoekers van oral kom kampeer en hulle het ons baie goed ondersteun. Van ons kerkraadslede van die dorp en die distrik het die terrein op die sand afgebaken waar die tafels geplaas is vir die verversings wat aangebied is (baie koue poedings, gebakte vis, ens.). Dominee en sy helpers het die terrein vir die strandspeletjies afgebaken. Die kinders was baie entoesiasties. Voordat ons afgesluit het, het Dominee sekere items opgeveil. Die besoekers was baie geesdriftig om te bie. Selfs vir ‘n geringe artikel het hulle teen mekaar gewedywer, en ons kon baie gelukkig huiswaarts keer met aardige bedrae. Van hierdie besoekers het ons jaarliks kom ondersteun.
Spontane bydraes: In daardie dae het ons gemeente meestal uit vissers bestaan en elkeen het hard gewerk. Tog het die bydraes nie weggebly nie. Van tyd tot tyd het bydraes ook by die pastorie aangekom. Ek herinner my aan ‘n ouderling en sy vrou wat by die pastorie aangekom het. Hy haal toe ‘n rolletjie note uit sy sak, nie minder as 100 pond nie! Vir ons was dit ‘n wonderlike inspirasie. Selfs vreemdes van buite het ook bydraes gestuur.‘n Suster wat in die pogings geÑ—nteresseerd was,  het vir ons 200 pond gestuur. Later het Dominee en ‘n ouderling by simpatieke mense in Caledon se distrik ook bydraes gekry.

Intussen het die kerkraad ‘n klipbreker gehuur. Vrywilligers het klippe aangery en gehelp. Elke dag was daar vrywilligers wat klippe gebreek het. Intussen is die fondamente van die kerk uitgemeet en die gemeentelede is genooi om te help met die uitgrawe van die grond. Manne, vroue en kinders was op die terrein, elkeen met hul eie graaf. Dit was ‘n heuglike dag en ons het die Here gedank dat die wiele aan die rol was. Ek herinner my nog aan ons dogterjie van 3 jaar wat ook met haar eie grafie grondjies uitgespit het, en hoe almal saam ‘Prys die Here’ gesing het.

Die bouery het voorspoedig gevorder en elke oggend was Dominee op die terrein. Die toring was byna klaar gebou en toe besluit Dominee dat hy graag by die toring wil opklim tot bo. Die boumeester het hom vergesel tot bo, maar toe hy weer moes afkom, het sy moed hom begewe. Gelukkig het die boumeester hom vergesel en alles het darem goed afgeloop.
Die vreugde was groot toe die kerk klaar gebou was en die fondse was ook voldoende, waarvoor ons innig dankbaar teen-oor die Here was. Vir my was dit ‘n baie groot voorreg om die voordeur te kon oopsluit sodat die gemeente kon binnegaan.”

Vandag, in 2013, kyk ons terug met groot dankbaarheid op 60 jaar van genade en ‘n kerkgebou wat vir ons gemeente ‘n pragtige huis van God is. Die lidmaatgetalle het gegroei tot meer as 2 000 belydende lidmate.
Kyk ons nog verder terug, sien ons hoe God deur die jare vanaf ongeveer 1906 die kerk en gelowiges in Gansbaai en die NG gemeente, in hierdie gebied laat groei het. . . en ryklik voorsien het . . . 
Ja, dekades vol genade in die Hawe van God se Genade!

(Foto : ds Zietsman en die boukomitee)