Waardigheid

Teks: Jak 3:9(1-12)

Die tweede  Wêreld Ooorlog was ‘n tyd wat gekenmerk is aan die verontmensliking van die ander.  Levinas vertel  van een van hierdie ervarings van ontmensliking. Hy vertel hoe hy saam met talle ander mense op treintrokke vervoer is na die konsentrasiekamp. Die hitte was ondraaglik. Hy het ervaar dat almal op die trokke nie meer mense is nie, net ‘n massa vlees. Jy  kon nie meer onderkei tussen ma’s, pa’s, kinders of oupas en oumas nie.  Hulle was mense sonder identiteit, gestroop van alle menswaardigheid. Terwyl hulle die kamp binne stap het een van die wagte se hondjie  vir hom geblaf en teen hom opgespring. Skielik besef hy die hondjie sien hom aan as iemand anders. In ‘n oomblik besef hy hy leef nog, is nog iemand met ‘n identiteit.  Na die oorlog sou hy baie skryf oor die gedagte dat ons mens word deur die gelaat van die ander.  Ek is bewus van my bestaan, my menswees deur die erkenning, oë van die ander wat my bevestig as medemens, as iemand. 

Dit is ‘n verhaal wat ons as mens diep raak. Ons verstaan wat  hier gebeur, want ons is almal mense. Ons smag elkeen na erkenning, na  menswaardigheid, na ‘n iemand wees.  Ons elkeen ken die ervaring, miskien nie in die graad van gevangenes in konsenrasiekampe,  van verneder word, behandel word asof jy niemand is, asof jy ‘n ding is. Ons herken iets van onsself en van ons wêreld in die verhaal.

In die brief van Jakobus gaan dit juis hierom, of dan eerder om mense wat mekaar nie menswaardig behandel nie.  Gelowiges is in konflik met mekaar.  Mense is onderling besig om mekaar te beledig, te verskeur met woorde en gedrag van liefdeloosheid, besig om  mekaar  te minag. 

Waarom nie? Waarom kan ons nie mekaar kwaad aandoen, beledig, vals beskuldig, besteel en aanrand nie?  Want, sê Jakobus in hfst 3 :9: Met die tong loof ons die Here en die Vader, en met die tong  vloek  ons die mense wat as beeld van God gemaak is. So behoort dit nie te wees nie.

Christene behoort nie so op tree teenoor mekaar en ander dat hulle daardie mens se waardigheid, menswees skend of aantas nie omdat ons elkeen na die beeld van God geskape is.  Ons is elkeen draers van God se beeld.   As beeldraers van God is elke mens, ongeag wie ons is, wat ons doen, hoeveel ons besit of nie besit nie, ongeag of ons man of vrou is,  dit werd om waardig behandel te word.

Omdat ons beeldraers van God is, skryf  Jakobus,  moet ons nie die armes verneder nie(2:1-13) en hulle met leë beloftes in die nood laat bly nie(2:14-26).  Omdat ons beeldraers is van God moet ons nie kwaad bring oor mense deur hoe  en wat ons praat nie(3:1-12), moenie leef asof ons ander niks gun nie(4:1-10). Daarom moet ons nie veroordeel(4:11-12) of onreg pleeg of laat geskied nie(5:1-6). Daarom moet ons geduldig wees(5:7-11) en die waarheid praat(5:12), daarom help ons mekaar as iemand swaarkry of siek is(5:13-20), want as beeldraers van God is elke mens dit werd.

In Kol 3:8-9 sê Paulus: Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie,en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met  die ou, sondige  mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.

Ons word vernuwe na die beeld van God, die God wat alles gekep het uit  liefde. Uit liefde skep God ons na Sy beeld .  God is getrou aan Sy handewerk. Hy laat vaar nie die werk van Sy Hande nie, want Hy bemin die werk van Sy Hande.  Luther het by geleentheid gesê:  Sondaars is aantreklik omdat hulle bemin word, hulle word nie bemin omdat hulle aantreklik is nie”  In Christus, wat self die beeld van God is(Kol 1:15) sien ons God se opofferende liefde vir ons.  In 2 Kor 3:18 lees ons:  “…ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal,neem steeds toe. Dit doen die Here wat Gees is”

Wat beteken dit in ons daaglikse lewe dat die ander mens, net soos ek, beeldraers van God is. In ons dag beteken dit dat elke mens regte het. Die reg het om waardig, menslik behandel te word. Dat kinders die reg het om nie verneder en mishandel te word nie, dat ouers, onderwysers  en  volwassenes die reg  het om nie geminag en disrespekvol  behandel te word nie.(voorbeeld van kinders wat onderwysers aanrand in klaskamers- fisies en emosioneel) Dat vrouens die reg het om nie misbruik, en benadeel te word nie of minderwaardig behandel te word nie  Dat weerloses(soos bejaardes en armes) die reg het op beskerming, versorging, kos, water, werk en lewe. Dat almal ‘n reg het op menslike behandeling. Waarom? Omdat ons almal beeldraers van God die Skepper is.  Ons is nie maar net ‘n massa vlees, naamlose goed of dinge nie, maar  mense, gevorm na God se beeld. Voorwerpe van God se liefde.

Wat ervaar mense in ons teenwoordigheid? Dat hulle ‘n niemand is, betekenisloos en waardeloos?

Of medemens geskape na die beeld van God?

Amen.