Met “sports” en baie lag kon die inwoners van Herberg-Aan-See (HaS) die winterkoue verdryf. Die jaarlikse “Winterspele” het op 27 Julie plaasgevind, met hope pret en plesier vir die inwoners, asook personeellede.
Die dag het oudergewoonte met ‘n lagsessie begin om die ys te breek. Daarna het die bestuur van HaS almal vermaak deur soos haweloses op te tree.
Dit was weer eens speletjiename wat skrik vir niks: ping-pong-broodjie; gegeurde malvalekkers van ‘n tou af eet (bestuur), angry birds (personeel van HaS); vlieënde papierbordring wat oor ‘n paaltjie gegooi moes word; balontrap; afblaas van papierbekers van ‘n tafel af; eet ‘n koekie sonder om hande te gebruik (Goue Hande - organiseerders) en vele meer, tot groot vermaak van almal.