Elfjarige vreesloos agter stuur

Die elfjarige Charl Eksteen, ‘n Graad 6 leerling van Gansbaai Laerskool, het in sy eerste stampmotor (Stock car) seisoen vier trofeë ingepalm.

Charl se prestasies in die Austin Mini stampmotor by Bredasdorp Motorklub was uitmuntend:

Trofeë ontvang: wisseltrofee vir sy derde plek; wisseltrofee as jongste bestuurder; wisseltrofee as die beste presteerder.

Die stampmotorseisoen strek vanaf September 2015 tot Junie 2016, wat dus beteken dat Charl maar tien jaar oud was toe hy vir sy eerste seisoen begin bestuur het.

Sy groot liefde (en vreesloosheid!) vir hierdie sport kom ‘n ver paadjie. Sy oorlede pa, JP Eksteen het vir sowat vyf jaar aan die sport deelgeneem voordat hy vier jaar gelede oorlede is.

Charl se oupa, Anton Eksteen het self ook vroeër jare stampmotors gery.

Met hierdie seisoen se prestasies in gedagte, staan Charl beslis sy pa en oupa se skoene vol en vloei stampmotorresies beslis in sy are.

Hy sê hy sien baie uit na die volgende seisoen en bedank graag sy ondersteuners en borge.

‘n Trotse Charl Eksteen (11) by die Austin Mini waarmee hy die vier trofeë op die enjinkap tydens sy heel eerste seisoen ingepalm het.
Gansbaai_Courant