Dolos uitvinder sterf

 Dolos uitvinder sterf

Gansbaai Courant

Die ontwerper van die dolosse wat by Gansbaai Hawe gebruik word, Aubrey Kruger, is onlangs op die ouderdom van 81 jaar oorlede.

Sy afsterwe volg kort op die eer wat hom te beurt geval het toe die Suid-Afrikaanse Munt twee muntstukke ter ere van die legendariese uitvinder bekendgestel het.

Die twee spesiale silwer-muntstukke is ‘n R2 en ‘n 2½c waarop die dolosse verskyn.

Sy seun, Ross Kruger, het gesê die familie was baie emosioneel nadat hulle die munte by sy siekbed aan hom oorhandig het.

“Ons was almal in die kamer en my pa het die munte styf in sy hand vasgehou, kort voordat hy ons verlaat het. As familie is ons baie trots op hierdie nalatenskap.”

Aubrey, destyds ‘n ontwerptekenaar by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens in Oos-Londen, is in 1966 deur die hawe-ingenieur, Eric Merrifield, genader om ‘n plan uit te dink om die krag van branders teen  die hawemuur  te versag.

Aubrey het op sy Vespa-bromponie geklim, huis toe gery en sy vrou, Daphne, vir ‘n besem gevra. Hy het die besemstok in drie dele gesaag en dit in die vorm van ‘n “H” gesit, met een van die twee bene wat hy 90° gedraai het. Hierdie ontwerp was in die vorm van ‘n duwweltjie-doring.

Aubrey het ‘n prototipe gebou en op die hawe-ingenieur se tafel neergesit. Ross vertel dat sy oupa, Joseph, wat in die droogdok gewerk het, die kantoor op daardie oomblik binnegekom het en ewe droog gesê het: “Ek sien julle speel met dolosse!” (dolosse was aanmekaar gehegte dierebene waarmee kinders destyds gespeel het). Só is die naam “dolos” gebore. Hierdie uitvinding sou uiteindelik as ‘n betonkolos van sowat 20 ton opeindig, waarvan daar tans miljoene in meer as 100 lande gebruik word. 

Die drie-dimensionele vorm daarvan, asook die ruimte tussen die soliede stukke, versprei die energie van die branders, eerder as om dit te keer.

Volgens Ross het sy pa aan Eric Merrifield en Harvey Pelser, die assistent hawe-ingenieur, voorgestel dat hulle die ontwerp wêreldwyd patenteer, wat nie gebeur het nie. Die patent is destyds as die eiendom van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens beskou.  In 1972 is Eric Merrifield na Japan waar hy vir Aubrey se ontwerpte dolosse met die Jaarprys van International Shell Design vereer is. In 1975 ontvang Eric ‘n Goue Medalje van die NSTF vir “sy” uitvinding.

“My pa het homself elke dag verwyt omdat hy toegelaat het dat mense hom van sy voorstel om die dolos te patenteer, laat afsien het,” het Ross gesê.

Gansbaai hawe was die tweede hawe ter wêreld wat van Aubrey se uitvinding gebruik gemaak het. Die eerste was Oos-Londen.

Aubrey het in 1998 afgetree  en na die Port Alfred-omgewing verhuis.

 Dolos uitvinder sterf

Gansbaai Courant

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Embracing True Happiness: Finding Peace Within

Embracing True Happiness: Finding Peace Within

Can you experience pure happiness in this moment, without any external factors affecting it?

Jaarlikse Ope-dag Bonanza Visvangkompetisie

Jaarlikse Ope-dag Bonanza Visvangkompetisie

Die boothengelkompetisie van 30 April 2024 wat deur die bestuur van die Birkenhead Boothengelklub gereël is, verskil so 'ietwat' van die klub se gewone maandelikse kompetisies.

Gans-Berg Nuus / News
Empowering Entrepreneurs with Grootbos Foundation Mentorship

Empowering Entrepreneurs with Grootbos Foundation Mentorship

Exciting update from our Entrepreneurship Programme and Enterprise Development at Grootbos Foundation!

Grootbos Foundation
Transform Your Business Space with Paint

Transform Your Business Space with Paint

Paint plays a pivotal role in setting the tone and ambience of commercial spaces, from cosy cafes to bustling stores and elegant restaurants.

Join Us in Protecting Pearly Beach!

Join Us in Protecting Pearly Beach!

The Pearly Beach Ratepayers Association works to keep Pearly Beach beautiful and safe.

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Skilder, skrywer, digter, beeldhouer, fotograaf, skut, liefde vir renmotors, Kayalami-ritte, blinde navigasie betrokkenheid, landloop-skeidregter, vryskutjoernalis, rubriekskrywer...

Gans-Berg Nuus / News
See All Articles