Vroeër jare is Pinotage afgemaak met geen bestaansreg in die wynbedryf nie as gevolg van ‘n bitterheid in die smaak.
Danie Steytler van Kaapzight Landgoed was die aanbieder tydens Gansbaai Wynproegilde se byeenkoms in Julia Barlow se Lighthouse Tavern naby Danger Point. Hy is deur sy eggenote, Yngvild (bemarker) bygestaan.
Danie was deel van ‘n span wat met ‘n minder bitter Pinotage bewys het dat Pinotage ‘n spogwyn is en hy het dit gemaak wat dit vandag is.
In 2006 is Danie se Pinotage as Kampioenwyn aangewys, wat negatiewe Pinotagemonde gesnoer het en vandag word sowat 85% van sy Pinotage uitgevoer.
Altus le Roux, ‘n bekende in die wynbedryf en ‘n goeie vriend van wyle Helmie de Vries (stigter van Gansbaai Wynproegilde), se opmerking was dat Danie sy Pinotage byna vervolmaak het.
Die familieplaas is in 1946 gekoop en Danie en sy jonger broer, George, is die derde generasie eienaars van Kaapzight Landgoed.
Kaapzight se uitstekende wyne wat te proe aangebied is, met jaartal en lede se evaluering in hakkies, is: Pinotage Rose (2016 - verwelkomingswyn); Chenin Blanc (2016 - sterk silwer); Sauvignon Blanc (2015 - sterk goud); Kaleidoscope White (2016 - sterk silwer); Estate Red, Shiraz/Cabernet Sauvignon (2012 – sterk silwer); Bin 3, Merlot/Cabernet Sauvignon (2013 - sterk goud); Pinotage (2013 - vol goud). Julia en haar sjef vir die afgelope elf jaar, Joyce Hdlazi, het vir ‘n uitskenede spyskaart gesorg, met Monique Hartman wat flink as kelnerin opgetree het. Danie het ‘n uitstekende kortingsaanbod aan die gaste gebied wat goed benut is.