Verstofte lakens en spinnerakke

Wat is die reorganisasie ‘n wondersoete ding. Sommige doen dit met die draai van winter na lente. Ander, soos ek, wag vir die stilte na Nuwe Jaar wanneer die harwar van die Kerstyd verby is. Dis asof ek myself op hierdie wyse inlyf in die nuwe era.

In my heel hoogste kaste staan die plat bokse netjies opmekaar gestapel.
Elkeen se inhoud is op die voorsy geskryf. Gaan ek ooit weer ‘n navy bedstel gebruik?    Sien ek regtig kans om die twee vloerlengte pynappel motief sytafeldoeke wat ek eiehandig gehekel het, weg te gee? Indertyd het ek dit gereken as erfstukke, maar dit is ‘n gebruik wat skynbaar heeltemal verval het tussen die rakke van Mr Price Home. Die idee van uittrek en iets anders hekel, kom lê tussen my ore. Hmmm, met hekeldrag die “in” ding en hekelgare die prys wat dit is, is dit hul voorland.

Die stapeltjie oorgetrekte notaboekies noop my om op die bed te gaan sit daarmee. Ek is nie ‘n dagboek-mens nie, maar op die besigste stadium van my lewe, was hierdie aantekening-boekies altyd in my handsak. Die oudste een is behoorlik in rooi fluweel geklee, met my voorletters in goud voorop gestensil. Dit kom onmiskenbaar uit die tyd toe ek my klerereeks vir voller en ouer vroue ontwerp het . Sommige van die sketse was vir spesifieke klante; die ander was idees wat ek met die oog in boetieks gesteel het en vinnig buite op die sypaadjie of in ‘n koffiewinkel neergepen het.

Geplakte tydskrif advertensies duik sporadies tussen blaaie op. Eenduisend knope vir tien rand; gedrukte katoen etikette teen ag-en-dertig rand per gros; ‘n nuwe Lentheric oogskadu teen sewentien rand en vyf en neëntig sent.

Die agterstrate van Elsiesrivier, Soutrivier, Athlone en Woodstock was my eens bekende terrein, maar ek twyfel of ek dit nou vrou-alleen sal aanpak.
Ek sien die kaleidoskoop van duisende rolle Oosterse materiale. Nie net op die rakke nie, maar ook ‘n bondels op die vloer en in kratte.

My beste kopies in daardie winkels het ek op my knieë of op my sitvlak uitgegrawe, tot groot plesier van die winkelpersoneel. Gefrommelde suiwer katoen wat die hele Voortrekkerweg sou toemaak vir so min as vyftig rand. Die geur van speserye tussen daardie lappe vul opnuut my sinne.

Vroue se mates vul ‘n groot deel van boekie nommer een. Agterlangs is daar ook die mates van ene André. Volgens die binnebeenlengte en die voor- en agterste okselnate was hierdie man op die lys vir ‘n langbroek. Ek kan my glad nie voorstel hoe ek aan die mates gekom het nie. Mog die inligting maar via sy vrou in my boekie beland het.

Hierdie boekies het spyseniering gedoen; onthaalsale versier; vergaderings en seminare bygewoon en sommer net huishoudlike kruideniersware gekoop. ‘n Vliegtuigkaartjie bespreking lê lepel met ‘n rowwe diagram van ‘n muurskildery. Resepte skuur skouers met die naam van ‘n mooi liedjie en ‘n pittige aanhaling.
Dis egter nie net my kaste en rakke wat herorganiseer word nie; saam daarmee word die psige ook sommer ‘n slag skoongevee van allerlei spinnerakke wat oor die afgelope jaar daar gevorm het.

Een van my geesteshoekies was soos ‘n ou-ou huis waar al die meubels met lakens toegegooi is. Ek wou nie  daar wees nie, het die deur vir ‘n onbepaalde tyd gesluit en padgegee. Maar dit bly steeds my huis met my eiegoed binne-in. Verkoop is nie ‘n opsie nie; brandsteek ook nie. Vandag is die dag dat ek soontoe teruggaan. Die verstofte lakens en die aangepakte spinnerakke spel Verganklik en Stoflik in hoofletters uit.  Geen mens kan in twee huise tegelyk woon nie. Ek doen die ondenkbare: gee dit vir hulle wat nie ‘n dak, ‘n bed of ‘n stoof het nie. Nie ‘n maklike besluit nie, maar een wat die las op my gees ligter maak.

Mens moet tyd maak vir her-organiseer. Jou kaste, jou laaie, jou rakke, maar ook jou binne-bêreplekke. Die stof wat op die oorgooi-laken vergader, maak dit mettertyd swaarder; die spinnerakke groter en digter. Vir my is nou die ideale tyd om te herrangskik. Mens maak tog spasies om kort voor lank weer met iets anders te vul, dan nie?
Carien Badenhorst