Die verhaal van ‘n merkwaardige man - Prof Dr Petrus J Nienaber
“Die Afrikaanse Skrywerskring het in September 1943 al, in samewerking met die Stadsbiblioteek van Johannesburg, ‘n uitstalling oor die Eerste Taalbeweging gehou,” vertel Leana Lategan. “Die kosbare en unieke stukke wat daar uitgestal is, was uit die tuisversameling van Petrus J Nienaber.” Hierdie uitstalling het unieke eksemplare van items bevat wat met die Bybelvertaling verband gehou het. Nienaber het hierdie stukke versamel terwyl hy aan sy doktorsgraad gewerk het - en met 'n skok besef dat baie dokumente, manuskripte en ander relevante stukke nie meer opspoorbaar was nie.
Nienaber was bekend daarvoor dat hy vars en innoverend kon dink, idealisties ingesteld was, en 'n buitengewone werkywer gehad het - ‘n werkslaaf wat nie tyd, eie geld, en selfs gesinsluukshede ontsien het om die inklusiewe bewaring van Afrikaanse boeke na te jaag nie.
Leana vertel dat die idee van 'n letterkundige museum in Suid-Afrika baie ouer is as dié van die noodsaaklikheid van 'n dokumentasiesentrum. 'n Bewaarplek vir Afrikaanse boeke is voorafgegaan deur sogenaamde boekweke, waartydens die publiek toegang kon kry tot besonderse boeke, die skrywers, foto's, manuskripte en korrespondensie tussen skrywers en hulle geesgenote. “Die uiteindelike amptelike opening van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum was ‘n klein, sekere begin vir die verwesentliking van Nienaber se ideaal,” het Lrana gesê.
Petrus J Nienaber is op 1 Oktober 1910 gebore en het ’n leeftyd van prestasies op die wenakker van Afrikaans op sy kerfstok. As die stigterskurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), was dit maar slegs een van sy vérsiende en ambisieuse drome wat hy deur vlytige arbeid en met deursettingsvermoë bewaarheid het. Nienaber se werkywer en passievolle toewyding aan alles wat met die Afrikaanse skrywer en woord te make het, was legendaries. Na deeglike navorsing het hy woordportrette en biografiese essays oor talle skrywers gepubliseer, genaamd “Hier is ons skrywers” - ‘n bundel wat tot vandag toe ’n bron van onskatbare waarde vir navorsing is.
Reekse soos die “Bibliografie van Afrikaanse boeke” en die “Bronnegids by die Afrikaanse Taal en Letterkunde”, was baanbrekerswerk, asook die eerste “Perspektief en Profiel”, wat reeds in 1951 vir die eerste keer saamgestel is. “Dan is daar ook nog ander werk wat ’n mens onwillekeurig in gedagte roep, soos publikasies oor die geskiedenis van die Bybelvertaling en die vroeë taalvegters, die Hertzogprys, ’n “Suid-Afrikaanse Pleknaamwoordeboek”, “Vroeë Afrikaans in die Vrystaat” en vele tekste oor bewaring, veral in die Vrystaat,” vertel Leana. “Hy kon oor pioniershuise skryf, spookstories vertel, kleiner kinders laat skaak speel en deur hulle mooi land laat reis; hy kon ook die beste van Afrikaanse poësie vir jong lesers opdis in bundels soos “Digters en Digkuns”.
“Daar was bitter min kultuurorganisasies waaraan hy nie deel gehad het nie, want hy het nie net gedroom nie, hy was bereid om die eerste sooie te spit en voor te vat - wat ’n merkwaardige mens om te onthou,” het Leana gesê. In 1982 word Nienaber vereer met die Dekorasie vir Voortreflike Diens (goud) deur die Staatspresident (1 Oktober 1910 - 24 Mei 1995) - die hoogste toekenning aan ‘n burger van Suid-Afrika.
Hardus Botha
Foto:
Petrus J Nienaber.
(Op internet gekry: PJ Nienaber)