Sin van die lewe

Teks:    Ps 148

Wie van julle het op ‘n dag julle kom kry dat julle net gewonder het waarvoor is alles daar en waarvoor is ek daar.    Anders gestel : wat is die sin van alles?    Miskien was jy sommer besig in die tuin, miskien was jy besig om na die see te kyk, miskien het dit by jou opgekom noudat jy ouer word, noudat jy sommer oor die lewe nadink en terugkyk. Ek lees iemand skrywe dat dit nou die een ding is waarvan jy nie by verby kom nie, jy kan jou nie daaraan onttrek nie, die een of ander tyd kom hierdie vraag . . . as jy werklik ‘n mens is. 

Maar dit is hoekom ons vandag Ps 148 gelees het, want hierdie Psalm gee soos die res van die Bybel die antwoord op hierdie vraag. . . wat is die sin van alles.  In hierdie Psalm word alle skepsels opgeroep om God te loof.   Dink net aan die inhoud van hierdie pragtige Psalm: Prys die Here vanuit die hemele, prys Hom in die hoë hemel!    Prys Hom, alle engele, prys Hom alle hemelwesens! Prys Hom, son en maan , prys Hom alles sterre!   Prys Hom, hoogste hemele, en waters in die hoë hemelruim!   Laat hulle die naam van die Here prys, want Hy het beveel en hulle is geskep;  Prys die Here van die aarde af,  seediere en al die oseane, weerlig en hael , sneeu en miswolke , stormwind wat sy opdrag gehoorsaam, berge en al die heuwels , vrugtebome en al die seders , wilde diere en al die vee, al wat kruip of vlieg, konings van die aarde, alle volke, vorste , alle regeerders van die aarde, jong manne en meisies, grysaards saam met seuns!  Laat hulle die Naam van die Here prys, want sy Naam is alleen is hoog verhewe, sy majesteit strek oor die aarde en oor die hemel.   Nou moet ek erken dat dit vir my aanvanklik by die lees van die Psalm  vreemd geklink het  dat die son en die maan en die sterre opgeroep word om God te prys, vreemd dat weerlig en hael,  asook berge, vrugtebome. Dit is wel aan die anderkant verstaanbaar dat mense opgeroep word, soos vanaf  v 11, konings van die aarde, alle volke, maar ‘n mens moet dit so verstaan . Hierdie oproep dat alle skepsels, en dit sluit alles in, kom daarop neer dat alles daar is ter wille van God.   God het alles gemaak ter wille van Homself.   En daarom kan die dinge ook geen ander sin en betekenis hê as om Hom te prys nie.   In hierdie verband lees ek iemand skrywe so aangrypend: Daarom breek die bloeisels en die botsels uit.  Daarom sing die tortel in die wonderlike stilte as die Suidoos gaan lê.  Daarom breek die branders eindeloos, onafgebroke op die strand.   Geen ding het ‘n ander sin as dit nie.  By die lees daarvan moet ek erken dat die gekoer van ‘n duif en die breek van die branders op die strand vir my sommer ‘n heel nuwe betekenis gekry.   Tewyl dit alles ons herinner aan die grootheid van God . Ons is in hierdie opsig so bevoorreg,   die pragtige natuurskoon hier by ons maak ons so bewus van die grootheid van die Here. Ons voel sommer om te sing, hoe groot is U. . . hoe groot is U. Die hervomer Calvyn het tereg opgemerk : die skepping is die teater van God se glorie. Die kyk daarna help om ook te besef dat dit eintlik alles soos ons as mense ook daar is ter wille van die eer van die Here.   In hierdie  opsig  is daar geen verskil tussen  die mense en die ander geskape dinge nie.    Ook die mens  se blote teenwoordigheid is daar tot eer van die Here.

Ook die mens se lewe is bedoel as ‘n voortdurende lofprysing van God.  Elke daad, elke woord, elke gedagte moet daarop ingestel wees om God te loof.   Of ons dan eet en of ons drink of enigiets doen,  ons moet alles doen tot verheerliking van God.  Dit is nie net in godsdienstige dade wat ons God loof nie, bv as ons bid of sing tot eer van die  Here nie, maar ook in ons  werk, in ons  sport, in ons kultuur moet die mens die Here loof.   Soos die hele natuur God loof deur bloot net die bestaan daarvan, so  moet die mens ook sy bestaan sien as lofprysing van God.   In hierdie opsig moet ons ons  doodgewone lewe van elke dag sien as ‘n lofprysing van God.  Dit is die betekenis van alles.  Dit is hoekom alles daar is, ook ons as mense. . . Ter wille van God.   Vandaar die oproep aan alles om God te prys.

Merkwaardig nou dat die mens bewustelik gekies het  om dit wel op ‘n goeie dag nie te wees nie. Eintlik verstommend. Dit is die verskriklike van die sondeval.   Hy het sy rug gekeer op God, maar so ‘n vreemdeling in die skepping geword.   Want soos iemand dit pragtig gestel het, die loflied  het op sy lippe verstom.  En daarmee het ‘n verskriklike iets gebeur.  Die mens het die sin en doel  van alles ook  van sy eie lewe gemis.   Want niks wil hierdie Psalm sê, kan aan  die mens se lewe soveel  betekenis gee as as dat hy die Here sal dien nie.  Sonder dit in sy lewe, verloor hy alle betekenis en sin.   Ons is geskep ter wille van God.   In hierdie verband bly die opmerking van Augustinus darem merkwaardig. God het ons vir Hom gemaak en ons sal net rus kry vir ons siele as ons dit vind in Hom

Maar God was ons genadig. Deur Christus het Hy ons verlos. . . en daarmee weer sin en betekenis aan ons lewe gegee.   In hierdie verband is van die mooiste stories darem die stories wat vertel hoe mense na sin en betekenis in hulle lewe gesoek het, dit nie kon kry nie, net om op ‘n  goeie dag deur die Here aangeraak te word en net te weet my lewe kan nooit weer dieselfde wees nie. Dit het nou weer betekenis en daar is ‘n doel. Dit gaan daaroor dat ook ek daar is ter wille van die grootmaak van die Naam van die Here.   Een so ‘n voorbeeld is die storie van Keith Miller, ‘n  Amerikaanse sakeman.  Hy was baie suksesvol in die oliebedryf, baie godsdienstig, ywerig,  meelewend  en selfs iemand wat leiding gegee het op kerklike terrein, maar hy het gelewe met ‘n diepe onrus.  Hy het gehunker na groter vreugde. Uiteindelik is hy na die kweekskool om op hierdie manier dieper lewe te soek, maar alles tevergeefs.  Hy is terug na die sake wêreld . Op ‘n dag het die evangelie van God se liefde egter skielik vir hom helder en daarmee ‘n vreugdevolle werklikheid geword.   Sy lewe is verander, vanaf sy huwelikslewe tot sy menseverhoudinge  en sy werk.   Hy het toe ‘n boek geskrywe,A taste of new wine.  Binne ses jaar was daar 21 herdrukke  en meer as ‘n halfmiljoen verkope. Hy het  deur God se genade die sin en betekenis van die lewe ontdek en daarmee rus gekry vir sy siel.

Daar is nog so baie mense wat leef met hierdie onrus, wat  soek na die betekenis en sin vir hulle lewe. Hulle gaan soek dit dan op soveel ander plekke wat dit nie kan bied nie. Ons kan net bid dat hulle hierdie genade sal ontvang om te weet waarvoor hulle daar is en so vrede te kry.

Maar juis daarom is dit so wonderlik as mense ook heel spesiefiek geleenthede skep om die Here te prys, as ‘n uitdrukking van ons dankbaarheid dat die Here ons verlos het  om weer God te prys.  So ‘n geleentheid is natuurlik die erediens.    Die erediens is by uitstek ‘n geleentheid om God te prys en te dank.    Natuurlik is daar ook die element van verkondiging, die boodskap wat gebring word. Maar dit gaan eintlik om die Here te prys en te dank.   Die hele erediens moet eintlik in die teken van lof staan.  Hier tydens die erediens  word ons telkens aangemoedig om  God te loof.  As iemand hier instap  moet dit sy waarneming wees . . . dit gaan daaroor om God te dank.    Ek dank die Here daarvoor dat besoekers dikwels opmerk hoe hulle die gemeente se sang  geniet.  Ek dink aan die storie van Bach wat besig was om ‘n koor af te rig en hulle op ‘n stadium onderbreek het en vir hulle gesê het hulle sing swak, en dat hulle moet onthou hulle sing nie vir hom wat Bach is nie, maar vir God. Ons moet altyd in gedagte hou dit gaan in die ererdiens om die prys van die naam van die Here.

Ja,  miskien het jy jou al kom kry dat jy nagedink het oor die vraag . . . hoekom is alles daar, hoekom is ek daar? Alles is daar ter wille van God.   Luister ‘n slag weer fyn na die gekoer van die duif . . . en kyk mooi na die see en kyk na die branders en kyk na die berge . . . ook Ps 150:6 Laat alles wat asem haal die Here prys!