Barmhartigheid

Teks : Mat 5:7 -  Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmartigheid bewys word

Ek lees die volgende in ‘n boek oor die saligsprekinge:  Die beste nuus wat ‘n mens ooit oor God kan hoor, is dat Hy nie ‘n masjien of ‘n beginsel is nie, maar ‘n Persoon, Iemand met ‘n hart wat kan voel,  wat kan omgee, wat liefhet, wat kan vergewe.   En dan lees ek ook: Wat sou u dink is die beste nuus wat God ooit oor ‘n mens sou kon hoor?   Daar is niks wat God gelukkiger maak as wanneer Hy van ‘n sondige, selfgerigte mensekind hoor dat hy ‘n hart gekry het vir ander nie.  ‘n Hart wat soos God s’n regtig kan omgee en voel en liefhê.   Dit is dan ook waaroor die vyfde saligspreking     handel   . . . dat God graag wil sien dat ons net soos Hy barmhartig sal wees.  

Eintlik  word ons herinner dat  dit vir die Here om mense gaan en dat dit vir ons ook om mense sal gaan, veral mense in nood. Dat ons soos die  Here ‘n hart vir mense sal hê.   Dit gaan dus in ons godsdiens nie om ‘n klomp reëls nie, maar om mense.   Dink maar net aan die gesprekke van Jesus met die Fariseërs. Meer as enigiets anders was dit wat Jesus teen die Fariseërs gehad het. Terwyl hulle so stiptelik was op minder belangrike sake, het hulle dit wat volgens die wet die swaarste weeg, nagelaat.    Volgens Mat 23:23 het  Jesus bv die volgende vir hulle gesê:    “Ellende wag vir julle skrifgeleerdes en Fariseërs , huigelaars.  Julle gee tiendes van kruisement , anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na:  geregtigheid , barmartigheid en betroubaarheid, Juis hierdie dinge  moet ‘n mens doen en die ander nie nalaat nie”.   Bly vir my altyd merkwaardig die woorde. . . wat volgens die wet van God die swaarste weeg - geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid. Hoe wesenlik dit vir die  godsdiens is, sien ‘n  mens  in die vers self. Geseënd is die wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.     Maar ook in ander verse.  Jakobus 2:13:  “Die oordeel sal onbarmhartig wees oor die  wat nie barmhartigheid betoon nie.  Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel”.   In Mat 7:1-2 lees ons dat Jesus sê dat ons versigtig moet wees oor hoe ons dink en oordeel oor ander mense, want die maat waarmee ons ander meet , sal ook op ons aangelê word.   Barmhartigheid is nie ‘n luukse of ekstra wat die geloof betref nie, dit is wesenlik deel daarvan.  Wie nie barmhartig wil wees nie, verstaan nie die hart van God nie.   As dit vir God gaan om mense, dan moet dit vir ons ook gaan om mense. Lukas 6:36: “Wees barmhartig soos my Vader barmhartig is”.    In hierdie verband is die volgende opmerkings van twee persone veelseggend. Luther het gesê:   ‘n gelowige is vry van reëls en wette, nooit vry van die naaste nie.    Oud aartsbiskop William Temple het weer die volgende gesê oor die voetwassingsepisode van Johannes 13: We would gladly wash the feet of our divine Lord; but He disconcertingly insists on washing ours , and bids us wash our neighbour’s feet.     Ons sal graag die voete van Jesus wou was, maar Hy dring daarop aan om ons s’n te was en beveel ons om mekaar se voete te was.   

Dit gaan in die evangelie om mense omdat dit vir God om mense gaan. Een van die aangrypendste beskrywings van die evangelie  bly darem  die vers in Johannes 1:14: “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die  Vader het, vol genade en waarheid”.    Die Woord het mens geword . . . en onder ons kom woon.  Ek dink oor in hierdie verband aan Fil 2:6: “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse  nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verder verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem  en aan mense gelyk te word”. 

Aangrypender kry jy dit nie. . . aan mense gelyk te word.  Dit is vandag Bybelsondag. Ons dank die Here vir die Bybel, natuurlik oor die boodskap van die Woord.    Juis hierdie boodskap van God se liefde vir sondaarmense. Ons beywer ons ook daarom dat hierdie Woord versprei word.   Maar ek vra ook dat ons daaroor sal nadink in hoe ‘n mate hierdie woord ook in ons lewens grondgevat het.    Iemand sê so mooi dat as ons wil weet hoe belangrik hierdie Woord vir ons is, dat ons eintlik ander mense moet vra daarvoor. . . dat hulle kan sê hulle kan sien in ons lewens dat dit belangrik is vir ons,  want hulle sien dit hoe ons teenoor hulle optree.    Dit gaan oor God se liefde vir mense en daarom ook ons liefde vir mense.

Die Nederlandse teoloog,  Van Ruler  verduidelik die betekenis aan die hand van wat ‘n mens kon beskryf as drie uitkringende sirkels.   Barmhartigheid  het te doen met mildheid, met ontferming, en met vergewing.

Die eerste sirkel, mildheid, dit kom op uit ‘n dankbare lewensgevoel en bestaan daarin om oop en ruimhartig te wees teenoor ander.  Dit gaan daaroor dat ek voortdurend sal onthou dat ek nie al mens op aarde is nie.   Daar is ook ander mense en ek moet ruimte maak vir hulle.  Ek moet onselfsugtig genoeg wees om ruimte te maak vir hulle.   En ek moet my kan verbly as vreugde na hulle kant toe kom.  

Die tweede sirkel is ontferming.    Hier gaaan dit oor die vraag wat gebeur wanneer my medemens nie op sy eie regkom in die ruimte wat ek gee nie.   Is ek veronderstel om hom ook  verder te help.    Of kan ek sê dat dit sy eie saak is.  Hier is ontferming meer as mildheid….dit vra nie net date k vir my medemens ruimte sal maak nie, maar ook dat ek bereid sal wees om betrokke te raak  as my hulp benodig word en dan oor te buig en in te gaan in sy of haar nood  en te help waar ek kan.   Soos God bereid was om betrokke te raak by ons nood, so moet ons bereid wees om met ontferming betrokke te raak by die nood van ander.  Barmhartigheid beteken beslis  ook ontferming.

Die derde sirkel is vergewing.  Hier gaan dit oor die vraag wat my te doen staan as my naaste lelik, sleg, vyandig en onaangenaam is.    As iemand in nood ‘n slagoffer van omstandighede was, is dit nie te moeilik om te help nie.   Daarvan sien ‘n mens baie van hoe mildelik rampfondse ondersteun word.    Maar as sulke mense nou ander te na  gekom het, dan verander die saak. Baie mense meen hier kan die streep maar getrek word. Geen regdenkende mens sal dink dat dit dan nodig is om steeds barmhartig te wees nie.    Die probleem is dat God  egter anders redeneer. Vir die Here was vergewing nog altyd deel van barmhartigheid. Dink aan Ef 2:4.  Paulus skrywe oor die gelowiges se verlede,  hoe hulle nie een  die Here gedien het nie en eintlik die straf van die Here verdien het. Maar dan staan daar: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het julle innig lief”. . . God is ryk in barmartigheid . Hier hou dit beslis verband met vergewing. . .

As ons tog net vandag uit hierdie vers, geseënd is die wat  barmhartig is, kan hoor dat dit in die geloof om mense gaan, omdat God omgee vir mense. Maar hoe sal  ons nou hierdie liefde vir mense kan hê?    Net as ons self vol van hierdie liefde  van die Here kan wees. Kom ons sê maar as ons as ‘n ware oorloop daarvan, dat dit as ‘n ware oorvloei  deur ons na ander. God se liefde deur Christus moet ook nie net vir ons wees nie, maar ook deur ons tot ander kom.    In hierdie verband dink ek aan die gebed van die apostel  Paulus vir die Efesiers,  volgens  Ef 3: “Mag julle in staat wees  om saam met al die gelowiges te begryp  hoe wyd en en ver en hoog  en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God”.    Ek dink aan  2 Kor 5:14: “die liefde van Christus dring ons”,  en dan ook natuurlik die mooi Ps 23, die ou vertaling, tot op die punt dat jou beker daarvan begin oorloop. 

Ter afsluiting: Iemand sê so mooi hieroor, dan is dit nie meer afknypseltjies van ons eie simpatie wat ons aan ander gee nie, maar dit is Christus se liefde wat oor ons en deur ons vloei . . .