Wat is die waarde van 'n mens?

Ps 8

Wat is die waarde van ‘n mens?  Wat is ek en u werd?  Of in die woorde van die psalm

 digter: wat is die mens dan dat U aan hom dink”(Ps 144:3)

 Wanneer ons vanoggend na ons samelewing, na die wêreld, kyk om vas te stel wat ons werd is, is die antwoord duidelik. Ons lewens is skynbaar nie veel werd nie.  Mense word vermoor vir ‘n rand, vir ‘n selfoon, vir geen rede nie. Ongeveer elke 26 sekondes word ‘n vrou verkrag. Dwelmhandelaars gee nie om of kinders se lewens vernietig word deur dwelms, want lewe is niks werd. Ons het al so gewoond geraak aan doodstatistiek dat die nuus van sterftes ons nie meer raak nie. Ons het al self onsensitief en gevoelloos geraak soos die geweldenaars om ons. Volgens ons samelewing is ons lewe nie veel werd.

Kyk ons saam met die digter na die skepping, voel ons veral nietig en onbenullig.

 In Ps 8 het die digter heelwaarskynlik op die dak van sy huis gesit en na die sterrehemel gekyk, gestaar in verwondering. Hy was diep bewus van die grootheid  van die skepping. Vandag kan ons amper meer verwonderd staan as die digter, want wetenskaplike kennis help ons om meer te ken van die grootheid van die skepping. Ons melkwegstelsel is een van miljoene melkwegstelsels. As ons teen die spoed van lig sou beweeg(300 000km p h) sal ons 7 keer om die aarde beweeg in een sekonde. Dit sal ons 8 min neem om na die son te reis(150milj km van ons). Dit sal ons 300 000 j neem om reg rondom ons eie melkweg te reis teen snelheid van lig. ‘n Reis na die middelpunt van die melkwegstelsel,sal 30 000j neem. Teenoor hierdie groot skepping,staan ons, die nietige, sterflike mens. Die mens wat net stof is, wie se lewe ‘n gedagte  lank is. Wat is ons tog werd teenoor hierdie wonderbaarlike groot skepping.

Kyk ons na die Bybel om vas te stel wat ons werd is, lyk die nuus oor die mens oënskynlik nie goed nie. Ons hoor in die Bybel dat ons sondaars is, mense wat God en naaste haat. Ons is die mens wat in Paulus se woorde gehoor word, “Ek ellendige mens, wie sal my van my doodsbestaan verlos”. Ons is die verlore mens onder die naakte hemel, ons is deel van die Kainsgeslag wat hierdie planeet vertrap onder ons gierige en gulsige voete, wat die skepping(aarde) uitbuit, verniel en besoedel. Sommige bekryf die mens as Killer apes(moord Ape) Waar die skepping God loof in haar blote bestaan, minag ons vir God en skepping.

En Tog staan die digter in Ps 8 verwonderd. Die Psalm digter verwonderd voor die groot heelal,maar hy staan veral verwonderd voor hierdie Skepper God wat hierdie nietige, onbenullige sondaar mens liefhet. Hy staan verwonderd voor hierdie God wat neerbuig na die mens en Hom oor ons ontferm. Trouens,God gee aan hierdie mens ‘n ereplek onder die hemelwesens. In verse 4-7 sê hy: God dink aan ons, Hy sorg vir ons. Hy stel ons selfs aan as Sy vennote, Sy verteenwoordigers , Sy beeldraers op aarde. In Ps 8 word die mens beskryf in ‘n taal wat normaalweg net gebruik word om vir God te beskryf, nl aansien,kroon en heers en onderwerp. Die digter staan verwonderd voor hierdie God wat die mens so hoog ag, kroon met soveel eer. Hy staan verwonderd voor die wete dat elke mens die draer is van God se beeld.

Dit is egter belangrik dat ons sal verstaan dat hierdie Ps die mens se waarde of heerlikheid besing,  nie op grond van ‘n grootheid of heerlikheid wat ons vanself in ons het nie. Die mens ontvang sy waarde,sy heerlikheid vanuit God se genade en goedheid. Luther het dit so verwoord: Sondaars is aantreklik omdat hulle bemin word,. Ons het waarde, omdat God ons liefhet, ons bemin.

 Dit gaan om ‘n verhouding tussen God en mens waardeur God die mens laat lewe. So dink Dawid oor die mens. Ons kan nie oor onsself los dink van ‘n verhouding met God. Dit is wanneer ons ons losmaak van ‘n verhouding met God, dat ons ons eie gode raak, dat ons  wil heers oor die skepping met mag en geweld, dat ons mense word met gierige harte, dat ons uitbuiters word, geweldenaars word, vernietigers word van die planeet, dat ons ons eie heerlikheid wil laat geld. So ‘n mens verwonder hom nie meer oor God, ook nie meer oor God se skepping  nie, maar net homself. In Ps 8 verwonder die digter nie homself nie. Hy staan verwonderd voor die Skeppergod wat die mens liefhet, wat aan hierdie nietige mens ereplek gee. Wat in verhouding tree met hierdie mens.

Ons hoor  die digter se verwondering in vers 5: wat is die mens dan, dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien”? God dink aan my, kroon ons met Sy heerlikheid, daar is sekerlik geen groter trooswoord as dit nie. Wanneer jy eensaam in jou kamer sit en wonder oor die waarde van jou lewe: God dink aan jou. Wanneer jy worstel met die raaisels van die lewe: God dink aan jou. Wanneer jy nie raad het met jou pyn nie: God dink aan jou. Hy dink aan ons almal. Aan die slimmes, belangrikes, aan die ellendiges, kinders en suigelinge,grotes en gebrokenes. Geen wonder die psalm digter staan verwonderd voor God nie : Here onse Here, hoe wonderbaar is U Naam oor die hele aarde?,Stann ons ook soos die digter nog verwonderd voor hierdie God? Amen