Kersfees 2015

Luk. 1:33: “. . . en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers  tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”  

Luk.2:11: “ Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die verlosser gebore. En dit is vir julle die teken: julle sal ’n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ’n krip lê”

Ek begin hierdie preek met ’n gediggie. Die gediggie is tekenend  van die wyse hoe baie mense Kersfees vier. Dit lui :

Alle winkels kaal gestroop
Alle goedjies klaar gekoop
Presentjies  netjies toegedraai
Hout en charcoal vir die braai 

Die bier al koud
Die wyn op ys
Versierings oral in die huis
Blink ster op die Krismisboom
Eetgoed om van net te droom

Die beste word daar uitgehaal
Vir al die vriende spesiaal
Op die partytjies wat ons gooi
Maar die eregas is nie genooi. 

Ek wil vanoggend oor Jesus as die Eregas praat en Hóm die Kind van die krip aan u bekendstel  deur 5 portrette van Hom voor u op te hang. Elkeen van hierdie portrette begin met die letter  K.

1.     JESUS IS DIE KIND WAT RED :

“ Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlossergebore, Christus die Here”

Met ’n lengte van 890 vt., gebou deur 14,000 mense is sy die onsinkbare skip genoem. ’n Koerantberiggewer het selfs geskryf dat God haar nie kon laat sink nie. Maar op Sondagaand 12 April 1912 terwyl  sy op haar nooiens vaart was, het die Titanic binne twee ure gesink en 1517 mense saam met haar na die watergraf geneem.  Dramatiese tonele het gedurende hierdie twee uur afgespeel. Die reddingsbote was te min en die rykes en vernames het gesorg dat hulle eerste plek op die reddingsbote kry. Die kaptein het toe oor die megafoon aangekondig dat net vroue met babatjies op die reddingsbote mag klim. Een vrou het dig by die reddingsbote gestaan, maar die aankondiging was vir haar soos ’n doodvonnis,want sy het nie ’n kindjie gehad nie.  ’n Man met ’n  kindjie in die arms het na die vrou gehardloop die kindjie in haar arms geplaas en gesê : “ Hy is joune, hardloop vir die reddingsboot sodat jy kan lewe”.  

Dít is wat God op Kersdag vir my gedoen het, Hy het sy kind in my arms geplaas sodat ek op die reddingsboot van sy genade plek kon kry. Gered kon word van sonde, dood en die verskrikking van die hel. ’n Redding baie groter en heerliker as die van ’n watergraf.   Die Kind en niks en niemand anders is die waarborg van redding.  Dit is die goeie nuus die blye tyding van Kersfees.

2 .JESUS DIE KONING WAT REGEER :

In die heel eerste aankondiging van Jesus  se geboorte hoor ons ( Luk. 1: 33  . . . Hy sal as Koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.)  Die wyse manne kom soek die koning wat gebore is om aan Hom hulde te bewys. In my kinderjare het ons ’n  Halleluja gesing met die woorde: “Hy is koning, Hy is koning, elke afgod moet nou heen, Hy voer heerskappy oor alles niemand anders Hy alleen”. Juis sy koningskap was vir Herodes ’n bedreiging en daarom het hy die kindertjies laat dood maak. Dit is wonderlik om te bely: Jesus is my Koning, ek kan  in die wonderlike voorregte van sy koningskap deel. Ek kan troos vind in die wete dat sy koningskap tot in ewigheid duur en Hy oor my lewe regeer.

Gansbaai se geskiedenis kan nie geskrywe word sonder die vermelding van meester Barnard wat baie jare gelede die skoolhoof hier was nie. Toe sy seuntjie so ’n knapie van vier jaar was, het die winkelier tot vermaak van die kliënte vir hom gevra wat hy eendag wil word. Dan het die outjie kiertsregop gaan staan en gesê : Ek wil ’n koning word, die kliënte het heerlik gelag en die winkelier het vir hom ’n tiekie gegee. Toe hierdie seuntjie al emerituspredikant van oor die 70 was, het hy eendag op Napier gepreek en toe gesê: “Ek het toe nooit ’n koning geword nie, maar ek het ’n kind van ’n Koning geword”.

Op die vraag, waarom noem jy vir Jesus Christus “ons Here”? antwoord die kategismus : “ Omdat Hy ons na liggaam en siel . . . uit die heerskappy van die duiwel . . . met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het”. Jesus die koning en Here en ek sy eiendom, sy kind!

In die tyd toe Paulus die brief aan die Filippense  geskrywe het, het  die Romeine ’n mate van godsdiensvryheid toegelaat. Daar was egter een vereiste: Een keer in die jaar moes almal ’n bietjie wierook brand en dan sê : Kurios Ceasar- Die keiser is hier. Dit kon die Christene nie doen nie, want hulle het bely Kurios Jysous – Jesus is die Here. As sy eiendom is ek aan Hom, my koning en Here getrou.Terwille van hierdie belydenis moes hulle die marteldood sterwe.  Kersfees wil vir my kom sê :  Buig voor Jesus, getuig van Jesus, juig oor Jesus  as  die Koning en Here van jou lewe : Wat ’n voorreg:  Kersfees vertel my: Hy maak sondaars God se kinders.

3. JESUS DIE KNEG WAT DIEN: 

 Alberts Schweitzer, mediese dokter, teoloog en musikus is in 1952 vereer met die Nobel Vredesprys. By geleentheid is hy na New York genooi.  Toe hy van die trein klim en op die perron staan was daar ’n menigte hoogwaardigheid bekleërs wat hom kom verwelkom het. Terwyl hy oor die mense kyk, sien hy ’n bejaarde swart vrou wat met twee tasse sukkel om die bus oorkant die straat betyds te haal. Schweitzer vra vir die mense verskoning, stap na die bejaarde vrou,  tel haar twee swaar tasse op en dra dit oor die straat na die bus. Hy help haar met haar bagasie op die bus en  wens haar ’n voorspoedige reis toe. Terug by die skare vra hy hulle om verskoning, en sê: “as ek haar nie gehelp het nie sou sy nie betyds die bus gehaal het nie”. Dis toe dat ’n geharde joernalis opmerk: ” Vandag het ek vir die eerste keer in my lewe, die evangelie op twee bene gesien”.

 Alberts Schweizer het vir ’n oomblik die lofprysing oor sy Nobelprys op die agtergrond geskuif om ’n nederige taak te verrig. Christus het egter veel meer gedoen. Hy het sy goddelike heerlikheid in die hemel prysgegee en onder ons kom woon. Paulus se Kersverhaal gaan nie oor engele en skaapwagters en wyse manne nie, maar oor Jesus die nederige kneg. Fil. 1 : 6-7  “ Hy wat in die gestalte van God was, het Sy bestaan op Godgelyke  wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word”.

Teenoor al die weelde en luukshede, die  sug na belangrikheid, duur presente, spogmaaltye en soms oordadigheid van Kersfeesviering, sien ons vir Jesus as die nederige kneg. Hy wat by Sy dissipels kniel en hulle  voete was. Hy het immers nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. En Hy wil hê dat ek wat my oor Sy geboorte verbly, vir Hom sal volg in Sy voetspore van nederige diensbaarheid . Op hierdie voetspore van Hom sal ek groter Kersvreugde ervaar as in al die ander dinge saam.

4. JESUS DIE KRUISELING  WAT DIE GEBROKE VERHOUDING MET GOD  HERSTEL:

Ons mag nooit die krip en die kruis skei nie. Wanneer ons dit doen verval Kersfees tot bloot emosionele of sentimentele gebeurtenis wat soos ’n ballon bars. Daarmee verdwyn ook spoedig dit wat vir my vreugde moes bring. Nee, oor die krip hang reeds die skaduwee van die kruis.  Elizabeth Eybers het hierdie waarheid verwoord in haar gedig: Maria: “En toe hy in jou arms lê, sy mondjie teen jou volle bors, het jy geweet dat hy sou sê, toe dit te laat was : Ek het dors. Toe dit verby was en jy met sy vriend Johannes huis toe gaan - Maria vrou van smarte, het jy toé die boodskap goed verstaan?” Dit is wanneer ek by die kruis gaan staan dat ek  die  boodskap van Kersfees verstaan. Slegs by die kruis ontdek en ervaar ek die ware betekenis van Kersfees . En wat is hierdie betekenis. Om mens en God weer in die regte verhouding met God te bring!  Petr.3:18 “Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely. Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring”.

Krip en kruis gaan oor dieselfde persoon: Jesus Christus. Tog is dit opvallend hoeveel kontraste daar tussen krip en kruis is. Op die een plek word hy in doeke toegedraai by die ander plek word sy klere uitgetrek. Teenoor die sagte strooi in die krip is daar die ruwe kruishout, teenoor die blinkende ster, die drie uur lange duisternis, teenoor hulle wat vir hom geskenke bring, hulle wat hom verneder deur ’n doringkroon op sy kop te sit, teenoor Emanuel - God by ons, sy uitroep aan die kruis : “My God, my God, waarom het U my verlaat”. Teenoor wat voor hom kniel, hulle wat op Hom spuug en Hom bespot. Miskien as ek van agter die kruis na die krip kyk, sal Kersfees vir my nuwe betekenis kry. Dan sal ek nie soek na ander dinge om vir my vreugde te bring nie, want dan sal ek ervaar: Jesus bron van al my vreugde, Jesus blydskap van ons harte!  Want Hy het my in die regte verhouding met God gebring. God Seun word mens in ’n gebroke wêreld, Hy maak weer heel wat sonde hier gebreek het. Hy bring weer hoop en redding ook vir my.

5. JESUS DIE KROONOORHANDIGER OP WIE ONS WAG:

Op Kersdag kyk ons terug na die Kind in die krip. Maar danksy die kind in die krip kan ons met vreugde vorentoe kyk na die kroon. Die kroon wag op hulle wat aan die Here Jesus Christus behoort. Dit is ons hoop selfs in die donkerste tye van ons lewe.

Die Bybel sluit dan ook met die wonderlike belofte van Jesus: “Ja, Ek kom gou!” en op hierdie belofte sê die bruid van Christus, sy kerk : “Amen! , Kom, Here Jesus.” Soos die gelowiges van die Ou Testament vir eeue verlangend uitgesien het na die koms van die Messias totdat  Hy in die krip van Bethlehem gebore is, so sien ons as gelowiges verlangend uit na die wederkoms van Jesus. Nou sal hy nie kom as vernederde, maar in glorie en heerlikheid. Die vreugde van hierdie tweede koms word met verskillende beelde beskrywe : Ons sing: Hy kom ons haal, Hy kom ons haal. Ons vier met Hom die bruilofsmaal. Maar luister wat skrywe Paulus in 2 Tim.2: 8 “ Nou wag die oorwinnaars kroon vir my, die lewe by God. Op die dag wat Hy weer kom, sal die Here , die regverdige Regter, dit vir my gee.” Wat ’n vooruitsig !

Ja, Jesus is die kroonoorhandiger. En ek wat die kroon ontvang, weet ek ontvang dit danksy die Kind wat vir my gebore is. Daarom is Kersfees geseënd. Daarom jubel ek op Kersdag oor krip en kruis en kroon. Amen.