Hoop as gevolg van nuwe lewe in Christus

Skriflesing :  1 Petrus  1:3-9

Die gelowiges aan wie die apostel Petrus hier skrywe, het  baie swaar gekry as gevolg van hulle geloof in Christus.   Hulle is verag en beledig.  Dit het gelyk asof niemand vir hulle omgee nie.    Hulle is uitgeskuif uit die samelewing.   Hulle het gevoel  daar is geen toekoms vir hulle nie.   En as gevolg daarvan het die vraag by hulle ontstaan of die Christelike  lewe  die moeite werd is. Is dit die moeite  werd om daarvoor so swaar te kry?  Ek wonder wie van ons het al in enige vorm hierdie versoeking ervaar, wat dalk ookal onseker gevoel het oor die geloof,  wat ookal getwyfel het, ook al gewonder het, is dit alles die moeite werd?

Dit is  belangrik om te verstaan dat Hy hulle wil bemoedig. Dat hy eintlik hierdie versoeking daarom wil aanspreek.    En hoe hy dit doen is iets waarop ons gerus kan let, want heimlik  moet dit ook vir ons tot aanmoediging dien. Ook ons wat partykeer sukkel, wat partykeer wonder en selfs twyfel. Hy doen dit deur aan hulle ‘n nuwe verstaan van hulle self te gee,   ‘n nuwe perspektief op hulleself,  op hulle plek en rol in die wêreld.   En daarom ook ‘n nuwe verstaan van die toekoms. Eintlik herinner hy hulle wie hulle ten diepste is. Reeds as jy die brief begin lees, sien jy hierdie benadering dat hulle opnuut moet dink oor hulleself. Hy noem  dat hulle die uitverkorenes van God is volgens v 1. Dit is geweldig . . . mense wat deur die Gees van die Here afgesonder is  vir die posisie waarin hulle nou staan.   Terwyl die wêreld niks van hulle dink nie, word hulle die uitverkorenes van God genoem.  In die gedeelte wat ons saamgelees het, herinner hy hulle daaraan dat hulle deel in die nuwe lewe  wat deur die opstanding van Jesus aan hulle geskenk is. Dink net aan die woorde van v 3 en verder. .Aan God die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!  In sy groot ontferming  het Hy ons die nuwe lewe  geskenk  deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.  Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou wor En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.  Verheug julle hieroor.

Die punt is hulle deel nou reeds in die saligheid, al sien hulle dit nog nie.  Hy wil as’t ware vir hulle sê: wie julle voor die Here is, wat Hy vir julle wil skenk, wat Hy ook daarom veilig vir julle in bewaring hou. Die woorde in v 10 en verder verwys daarna dat  dit oor hierdie saligheid  was waaroor die Ou Testamentiese profete getuig het. Daardeur moet hulle hulleself sien as  die erfgename van al die Ou Testamentiese beloftes.   Dit is so merkwaardig wat in v 12 geskrywe staan. Aan hulle is geopenbaar dat wat hulle geprofeteer het, nie vir hulleself bedoel was nie, maar juis vir julle.  Nou het dié wat die evangelie aan julle verkondig het, dit aan julle bekend gemaak deur die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is.  Dit is dinge waarin selfs die engele begerig is om insig te kry.

Ongelooflik! Hoor tog  wie julle is voor die Here. Dink tog daaraan dat die kosbare evangelie vir julle bedoel was. In v  18 staan net sulke merkwaardige woorde: Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. Inteendeel, julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.   Reeds voor die skepping van die wêreld is Hy hiervoor bestem, maar ter wille van julle het hy eers in hierdie eindtyd gekom.   En natuurlik dan die pragtige beskrywing van hulle volgens v 9 van hoofstuk 2: Julle daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig  van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.  Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God.  Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmartigheid bewys.   Prof Dirkie Smit skryf in ‘n  boek  Hoop in lyding  aangrypend  daaroor hoe Petrus  eintlik ‘n kontras teken tussen dit wat hulle is in die oë van die wêreld  en dit wat hulle is in die oë van die Here. Hy sê die kontras is eintlik ongelooflik.   Hy sê in roemryke taal word hulle ‘n nuwe selfverstaan gebied, word ‘n perspektief van hulle geskilder, van hulle verlede, van hulle toekoms, van hulle hede  waarop hulle kan hoop  ten spyte van wat hulle sien en ervaar.   Hoe sou hulle dan  as ‘n ware kon terugval. Dit is onmoontlik, gegewe die feit  wie hulle is in die oë van die Here. Hy wil sê : moenie perspektief verloor nie, dink aan wie julle is ten diepste, selfs hulle geloof  wat aangeveg word,  is eintlik  net n  toets. Dit is die suiwering van hulle geloof.

‘n Mens wil eintlik na aanleiding hiervan sê wie troos soek in swaarkry, kan gerus na hierdie boodskap luister. Wie troos soek in onsekerheid, wie troos soek in  tye van twyfel,  wie dalk sommer net  twyfel aan homself of haarself  en oor die waarde  wat jy aan jouself heg, kan gerus na hierdie boodskap luister:  dat ook ons deel in die nuwe lewe  wat ook aan ons geskenk is deur die opstanding van Jesus uit die dood.  Ons hoor dat hierdie nuwe lewe ook vir ons veilig in bewaring gehou word. Ons hoor  dat ook ons losgekoop is met die kosbare bloed van Christus.  Ons hoor die wonder van alles. Ons hoor dat ons  ook die uitverkorenes  van God is. Dat ons ook mense is wat vir God afgesonder is. Ons hoor ook dat God ons barmhartig was.  Die wonderlikste ding van die  evangelie en daarom die veronderstelde  rol en betekenis  van die kerk is die feit dat  dit help om mense te laat hoop om weer sin en betekenis te kan hê te midde van alles. Ons moet die rol van die evangelie en die kerk hierin nie onderskat nie. Mense mag dalk baie negatief  wees oor  die wêreld, maar die evangelie kom herinner hulle dat dinge vir hulle tog goed  sal uitwerk. Mense  mag dalk nie in die samelewing so geag word  nie, maar in die kerk word hulle geag. Mense mag dalk ‘n baie lae dink van hulleself hê, maar  deur die evangelie word hulle herinner hoe kosbaar hulle eintlik is.  Mense mag dalk as gevolg van moeilike omstandighede   voel dat hulle lewe geen waarde het nie, maar deur die evangelie  word hulle herinner  dat ook hulle ‘n plek het

Ek is oortuig dat die erediens veral daardie rol in ons lewens speel.  Ek meen  dat die Here dit gebruik om ons te herinner Sondag na Sondag  wie ons in werklikheid is. Dit terwyl die ou lewe daarbuite dit oënskynlik regkry om  ons diep onseker te maak  en ons eie waarde af te breek,  kom die Here en herinner ons  dat Hy ons liefhet en steeds ‘n plan met ons lewe het.    Aan die einde van elke diens is dit juis daarom ook vertroostend dat die  Here ons seën vir die week wat voorlê.  Dt is nie maar sommer om die diens af te sluit nie.  Die Here kom en wil ons seën; watter genade!  Die Here wil self deur Sy Gees vir my seën . . . ten spyte van die wêreld, ten spyte van hoe ek dikwels oor myself voel . . . vir my . . . watter genade . . .

Ek herhaal: julle is die uitverkorenes van God . . . julle is vir God afgesonder . . . julle deel in die nuwe lewe . . .