Hierdie jaar tot datum is Herberg-aan-See nog baie geseënd en ons glo opreg dat dit te danke is aan ons Hemelse Vader wat sy hand altyd oor ons hou. Vir die NG Kerk van Gansbaai se bydrae op geestelike gebied wil ons baie dankie sê, dit is die dienste wat uitgesaai word na die tehuis, asook die bidure Woensdagaande deur die leraars en ook persoonlike besoeke aan inwoners.
Danksy die hele gemeenskap van Gansbaai is ons geseën met bydraes soos fondsinsamelings, persoonlike aandag aan inwoners, stimulasie, spesiale etes, tee en verversings en sportdae as-ook finansiële bydraes. Die werk van die Goue Hande stel ons in staat om die inwoners te versorg en die wat dit finansieel nie kan bekostig nie, te kan bystaan.
Ons kan dit ook nie nalaat om die beheerraad te bedank vir hulle algehele ondersteuning aan die tehuis nie.
Ons nooi hiermee ook almal uit wat graag op een of ander gebied betrokke wil raak om ons te kontak. Graag wil ons by Herberg-aan-See van die geleentheid gebruik maakom u elkeen ‘n geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige nuwe jaar toe te wens.
- John van Rooyen.
Tehuis-bestuurder.