Goeie Vrydag

Skriflesing:  Lukas 23:26-31

Die een ding wat my altyd opval as ek die lydingsverhaal van Jesus lees voor en tot en met Sy kruisiging, is die feit dat die Bybelskrywers dit beklemtoon dat Jesus onskuldig was.  En hier kan ‘n mens dink aan die volgende voorbeelde:    die woorde van Judas volgens Matt 27:3: toe Judas sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry.  Hy het die dertig silwerstukke teruggebring na die priesterhoofde en die familiehoofde toe en vir hulle gesê:  Ek het gesondig . Ek het ‘n onskuldige man verraai.     Dink aan die woorde van Pilatus se vrou volgens Matt 27:19:  Terwyl Pilatus op die regbank sit, het sy vrou vir hom ‘n boodskap gestuur: Moet tog niks met hierdie onskuldige man te doen hê nie. Dink aan die woorde van Pilatus self volgens  Luk 23:14: Julle het hierdie man voor my gebring as ‘n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen  hom inbring nie. Luk 23:40: Toe hy die ander misdadiger teregwys en sê: Is jy nie bang vir God nie?  Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man.  In ons geval is dit geregverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade.  Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.  Dink aan die woorde van die hoofman toe hy vir Jesus sien hang aan die kruis volgens  v 47:Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê:  Hierdie man was werklik onskuldig.

Nou vra ek myself die vraag af :waarom sou hulle dit beklemtoon?   Was dit dalk dat ons heimlik vir Jesus jammer moes kry oordat Hy so onskuldig gely het.   Dat ons meegevoel moes kan hê. Want as daar nou een ding is wat ‘n mens nie kan vat nie is as ‘n mens sommer doodgewoon onskuldig  beskuldig word.   Vir my bly dit altyd so skrikwekkend as iemand veroordeel is, maar dit blyk later hy/sy  was eintlik onskuldig.  Dink aan hoe ‘n mens self al gevoel het as jy dalk van iets beskuldig is en jy weet jy was nie verkeerd nie.   Ek dink aan die reaksie van mense toe hulle die fliek  The passion of the Christ gesien het. Die ontsteltenis van baie; dit was net te erg vir hulle gewees. Miskien was dit die rede vir die reaksie van die vroue. Daar staan mos  die vroue het oor Hom getreur en gehuil. Hulle kon dit ook nie hanteer nie.

 Maar dit was tog nie oor jammerte, oor meegevoel hê dat die Bybelskrywers die onskuld van Jesus so beklemtoon nie. Nee, dit was oor iets anders wat hulle wou beklemtoon. Dit  sien ons in die opmerking van Jesus teenoor die vroue toe hulle so oor Hom gehuil het. Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julle self en oor julle kinders, want daar kom dae dat hulle sal sê: Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en die wat nooit ‘n kind in die wêreld gebring het nie of gevoed het nie. Dan sal die vir die berge sê:  val op ons en vir die heuwels :  bedek ons.  As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?   Hier het ons  te doen met een van die hardste woorde wat Jesus ooit gespreek.  Dit wil voorkom as of Hy glad nie hierdie simpatie vir Hom kon waardeer nie.  Wat wou Jesus sê? Ek dink Hy wou sê. . . sien julle dan nie julle eie skuld raak  nie . . . sien julle dan nie raak dat ek onskuldig vir julle gaan sterwe nie . .  sien dit tog raak en bely julle skuld voor God.  Want as ek, die groenhout, die een wat onskuldig is so iets moet deurgaan, hoeveel te meer sal dit dan nie gebeur met die droë hout, die wat werklik onskuldig is nie.   En ook ons wat opnuut  in hierdie dae kon terugdink aan die lyding van Jesus, ook ons word opnuut gekonfronteer met ons eie sonde en gevolglike skuld voor God.   Ons moet eintlik nie vir Jesus jammer kry nie,  maar ons moet huil oor ons eie sonde en oor die sonde van die wêreld.   Luther wat mos die wonderlikste wyse dinge kon sê, het opgemerk dat as hy aan die lyding van Jesus en die kruisiging dink dan besef hy dat geweet het dat hy vol sonde is, maar dat hy nou eintlik eers besef hoe groot sy sonde en ellende is.    As ‘n mens wil weet hoe groot jou sonde is, hoe verlore jy eintlik is, dink aan die kruis van Jesus . . . dink aan Jesus wat onskuldig  gesterf het vir ons sonde. 

Maar natuurlik  die feit dat Jesus onskuldig vir ons gesterf het, is ook terselfdertyd  die evangelie van God se genade.   Want dit was Jesus  wat onskuldig in ons plek, ons wat eintlik skuldig is, gesterf het.   Dink daaraan: Jesus ly onskuldig  om ons wat skuldig staan te verlos.   Luther sou hieroor  dit die gelukkige ruil noem.   Jesus onskuldig  gely vir ons wat eintlik skuldig is sodat ons  vrygepreek kan word.   In die verband dink ek aan twee tekste wat hierdie aspek so mooi illustreer.  2 Kor 5: 21: Christus was sonder sonde , maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel  sodat ons deur ons eenheid met Christus , deur God vrygespreek kan wees.  Galasiers 3:13:  Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring  deur in ons plek ‘n vervloekte te word.   Daar staan naamlik geskrywe :  Vervloek is elkeen wat aan ‘n hout opgehang is.    Dit is die evangelie. . .  Christus is in ons plek as sondaar behandel. Hy het die straf in ons plek gedra.    Hier dink ek aan die woorde van Jes 53:5: Oor ons oortredings is hy deurboor, oor ons sondes is hy verbrysel, die straf wat vir ons die vrede moes bring, was op hom , deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Dit is inderdaad waar van Christus.   In hierdie verband is die woorde in die Nederlandse Geloofsbelydenis darem ook aangrypend oor die  belydenis oor die versoening deur Christus: Ons glo dat Jesus Christus – kragtens ‘n eed -  ‘n ewige Hoë priester is  volgens die orde van Melgisedek.  Hy het Homself in ons naam voor sy Vader gestel  om sy toorn met volledige betaling te stil  deur homself aan die kruishout  te offer  en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sonde uit te stort, soos die profete dit voorspel het.  Want daar staan geskrywe dat die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom;  dat Hy soos ‘n lam na die slagplek gelei  en by die misdadigers gereken is; dat Hy as misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is, al het die Hom eers onskuldig verklaar.   Merkwaardig . . .

Daarom is dit ook so waar van wat Luther gesê het oor die ding van meegevoel hê met Jesus. Hy het gesê meegevoel met Jesus is kinderagtigheid en verwyfde onsinnigheid.  In plaas daarvan is die regte ingesteldtheid . . . geloofsekerheid.     Om die lydende Jesus deur die geloof te herken  as die Messias die Middelaar vir my. 

Dit tref my telkens as ek die lydensverhaal  lees, hoe die onskuld van Jesus beklemtoon word . . . Ek word opnuut daaraan herinner dat hy onskuldig vir my gely het om my te verlos . . . ek loof die Here daarvoor!!!