Liefde

Liefde

NG Kerk Gansbaai

Lees:  1 Joh 4:7-21 

’n Paar weke gelede het ons gepraat oor God se heiligheid.  Vandag kom ons by die bekende woorde van 1 Joh 4:8  . . . God is liefde.  God is liefde!  Kan daar ’n mooier uitspraak in die Bybel wees?   Op 41 plekke kry ons die woorde:  “Aan sy liefde is daar geen einde nie.”  (vgl. Ps. 136)  Sekerlik vorm dit die kern van die Evangelie – die blye boodskap.  God is in sy wese liefde.  (vgl. Joh. 3:16)

Daar word natuurlik baie oor God se liefde gepraat Soms word mooi dinge gesê.  ’n Bekende Ameri­kaanse predikant, Donald Barnhouse, het bv. n.a.v. die vrug van die Gees in Gal 5 gesê: “Liefde is die sleutel.  Vreugde is liefde wat sing.   Vrede is liefde wat rus.  Geduld is liefde wat volhard.  Vriendelikheid is liefde wat aanraak.  Goedhartigheid is die karakter van liefde.  Getrouheid is liefde se gewoonte.  Nederigheid is liefde se selfopoffering.  Self­beheersing is liefde wat die teuels vashou.”

Pragtig!  Maar dikwels word daar egter ook nonsens gepraat wanneer mense praat oor God se liefde.  Want liefde kan so maklik verkeerd verstaan word.   Of verskraal word.  Of ingeklee word met mense se eie idees of begeertes of aller­hande sentimentele snert.  Ons kom later daarby.

Kom ons kyk vandag na drie belangrike aspekte van God se liefde wat ons persoonlik aangaan:

1.      God se liefde – beteken vir ons – genade

Ons gebruik dikwels die woord:  Evangelie.  Letterlik beteken dit:  Goeie boodskap/nuus.  En dit is presies wat ons skrifgedeelte vir ons sê:

v9  Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.  v10  Werk­like liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

  • God se liefde – beteken – genade vir die sondaar!
  • Omdat God die mens liefhet – het Hy sy Seun gestuur om hulle van sonde te verlos. 
  • Omdat God die mens liefhet – sorg Hy vir sy kinders.
  • Omdat God die mens liefhet – gee Hy vir ons goeie riglyne vir die lewe hier op aarde
  • Omdat God die mens liefhet – hoef ons nie die toekoms te vrees nie
  • Omdat God die mens liefhet – berei Hy vir hulle ’n plek in die ewige lewe
  • Omdat God sy kinders liefhet - skenk Hy aan hulle sy vrede wat alle verstand te bowe gaan.
  •   Omdat God sy kinders liefhet – het Hy die Heilige Gees, die Trooster, gestuur om in ons te woon
  • Omdat God die mens liefhet - . . . noem maar op . . .   GENADE OP GENADE !!

In die verlede was dit nog altyd hierdie wete dat God Liefde is, dat Hy genadig is, wat die mens deur moeilike tye gedra het.  Ja, ons weet alles is nie altyd maanskyn en rose nie – maar wanneer die “donker dieptes” van Ps. 23 kom – dan weet ons waar om hulp en troos te gaan soek. 

Ons het seker almal al die “gedig” gelees:

Een nag het ek gedroom dat ek op die strand loop en gebeure uit my verlede het voor my afgespeel.  In elke toneel het ek twee rye voetspore in die sand gesien:  myne en die Here Jesus s’n.   Toe die laaste toneel voor my afspeel‚  het ek terug­gekyk na die voetspore in die sand en merk toe op dat daar soms net een ry spore was.  Dit was telkens gedurende die eensaamste en droewigste tye in my lewe!  Dit het my gehinder en ek het gevra:  “Here‚ toe ek begin het om U te volg‚ het U beloof dat U my nooit in die steek sal laat nie.  Hoekom was daar dan net een ry spore gedurende daardie moeilike tye in my lewe?  Ek kan nie verstaan waarom U‚ in die tye wat ek dit die nodigste gehad het‚ my verlaat het nie.”  Die Here het geantwoord: “My liewe kind!  Ek het jou lief en sal jou nooit verlaat nie.  Die tye wat jy net een ry spore gesien het, was die tye toe Ek jou gedra het.”

God is liefde – dit beteken – Hy is genadig!  Selfs oor ongelowiges.  Ons lees in Matt 5:45:  Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.  Dit is juis hierdie “algemene genade” wat verhoed dat die wêreld in absolute chaos oorgaan.    God is egter op ’n besondere manier genadig oor sy volgelinge, sy kinders.  Daarom word die sondaar opgeroep om God se uitgesteekte hand van genade te aanvaar - deur die Geloof in Jesus Christus as Verlosser!  Efes 2:8: Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof.

Wat beteken dit vir ons as Christene as ons sê dat God ons liefhet en daarom genadig is?  2 dinge:

Wees bly, dankbaar IN alles wat jy doen en wat met jou gebeur.  Sommige Christene is so swaar­moe­dig en gesprekke met hulle kan vrees­lik nega­tief wees.  Ja, ek weet, ’n opgeplakte glim­lag is vals – maar wanneer ons werklik glo dat God ons lief het, is ’n suurgesig sekerlik nie tot eer van God nie.

En – vertrou op Hom dat sy wil oor jou lewe sal geskied.  Sy wil is immers die beste, al verstaan ons nie alles nie.  Want Hy wil die beste vir sy kinders – omdat Hy hulle liefhet.  Daarom die lied:  Hal 245

1. As die lewenstorme woedend om jou slaan,
   en jy gans ontmoedig vrees om te vergaan
   tel jou seëninge tel hul een vir een en
   jy sal verbaas wees oor wat God verleen.

2. As jy ooit gebuk gaan onder sorg en pyn,
   as die kruis te swaar word en jou krag te klein -
   tel jou seëninge, dan vlug twyfel heen,
   en jy sien gods goedheid laat jou nooit alleen!

God se goedheid, sy liefde, sy genade!  En hierdie genade moet nie goedkoop gemaak word nie.

Bv. koop vir iemand wat regtig in nood is, ’n voertuig met al jou spaargeld.  Vind dan uit die persoon – jaag tussen duine en in soutwater – kar word nooit gediens nie, vol skrape en duike – bekleedsel geskeur – snags slaap die hond daarin - steur nie aan stampe of stote nie – hoe gaan skenker voel?

God se genade word goedkoop gemaak wanneer mense leef asof Jesus se dood aan die kruis geen verskil maak nie.  En ongelukkig is dit alte dikwels die geval by baie mense wat hulleself Christene noem.  Daar is geen verskil tussen hulle lewens en ongelowiges s’n nie.  En dit mag tog nie wees nie!

God’s genade moet nie goedkoop gemaak word nie – WANT God se liefde het ook ’n ander kant:

2.      God se liefde hou ’n waarskuwing in

God is nie net liefde nie – Hy is ook heilig.  Sy liefde kansel­leer nie sy heiligheid nie.   Ons lees in  Heb 12:28: Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil,  v29  want ons God is ’n verterende vuur.

“God is liefde” mag die mooiste boodskap ooit wees, maar ongelukkig word die woorde so dikwels misbruik dat ek baie bekommerd is.  Ek het al my bekommernis ’n vorige keer met u gedeel.  Mense gebruik die woorde om God voor te stel as ’n soort “vriendelike oupatjie” wat in die hemel sit en saggies en geduldig glimlag oor die stoutigheid van sy kleinkinders en wat hulle vergewe sonder om eers te dink oor wat hulle doen.  “God is liefde!” – en daarom is alles wat die mens doen eintlik OK.  God is so liefdevol dat Hy nooit die sonde kan straf nie, nog minder dat Hy sal toelaat dat enigiemand hel toe gaan.  Ons mag nie eers oor dinge soos sonde en straf en oordeel praat of dink nie!

Maar hierdie is een van die mees rampspoedige mensgemaakte leringe wat selfs kerkmense soms glo.  Want behalwe dat dit bots met die Bybel se lering oor God, is dit ten diepste besig om die hele morele fondament van die Christendom te onder­grawe.  Dit ontken die erns van sonde, dit ignoreer die feit van God se heiligheid!  En hierdie Heilige God haat sonde met ’n passie – soveel so dat Hy sy Seun gegee het om te sterf aan die kruis in die plek van die sondaar.  En die sondaar wat nie sy uitge­steekte liefdes-hand, sy liefdes-geskenk aanvaar nie – sal uiteindelik die ewige verdoemenis ervaar.

God mag nooit verstaan word net in terme van sy Liefde nie – maar ook i.t.v. sy Heiligheid.  Dit is waarom ons, soos die Rossing myn, streef na “zero accidents.” Daarom vra God se liefde – Heiligheid – vra dat ons in die woorde van Heb 12:4:  ten bloede toe weerstand bied in ons stryd teen die sonde . . .

3.      God se liefde gaan saam met ’n opdrag

1 Joh. 4:11:  Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.  

Een aand net voor ’n Broadway-vertoning van musiekblyspel “South Pacific” ontvang sangeres Mary Martin nota van Oscar Hammerstein wat op sterfbed lê: “Liewe Mary, ’n klok is nie ’n klok totdat dit lui nie.  ’n Lied is nie ’n lied totdat jy dit gesing het nie.  Liefde is nie in jou hart geplaas om daar te bly nie.  Liefde is nie liefde totdat jy dit weg­gegee het nie.”  Na haar vertoning het bewon­der­aars na die verhoog gestorm en gevra:  “Mary, wat het vanaand met jou gebeur.  Ons het nog nooit so ’n vertoning van jou gesien nie.”  Terwyl Mary ’n traan afvee, wys sy vir hulle Hammerstein se briefie.  Toe sê sy: “Vanaand het ek my liefde weggegee.”

Die mooi van die verhaaltjie is natuurlik nie die vertoning van Mary Martin nie;  dit is in die briefie van Hammerstein.  “Liefde is nie liefde totdat jy dit weggegee het nie.”  Liefde word weggegee – deur dit na buite uit te leef, deur ander lief te hê.

Ons sou lank hieroor kon praat.  Paulus skryf in 2 Kor 5:14:  Die liefde van Christus dring ons . . .  M.a.w. – die ware gelowige kan nie anders nie as om lief te hê, want ons is deur God totaal verander.   Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens.  Die oue is verby, die nuwe het gekom.  (2 Kor 5:17)

God se liefde vra dus – wederliefde – nie net gevoelsliefde nie, of belydenisliefde nie.  Die Griekse woord “agape” dui op DOEN-liefde – daarom dat sommige Engelse vertalings die woord “charity” gebruik.  Paulus skryf in:  Gal 5:6: Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

Die tweede gebod is:  Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  En Jesus bevestig dit in Joh 15:12 Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. 

Weet u wat is hartseer?:  Ons Christene sê so dikwels:  God is liefde.  Maar – hoekom word die kerk so dikwels van liefdeloosheid beskuldig?  Is dit altyd vals beskuldigings?  Of moet ons werk maak daarvan om meer lief te hê

Liefde

Ds. H. Basson

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Embracing True Happiness: Finding Peace Within

Embracing True Happiness: Finding Peace Within

Can you experience pure happiness in this moment, without any external factors affecting it?

Jaarlikse Ope-dag Bonanza Visvangkompetisie

Jaarlikse Ope-dag Bonanza Visvangkompetisie

Die boothengelkompetisie van 30 April 2024 wat deur die bestuur van die Birkenhead Boothengelklub gereël is, verskil so 'ietwat' van die klub se gewone maandelikse kompetisies.

Gans-Berg Nuus / News
Empowering Entrepreneurs with Grootbos Foundation Mentorship

Empowering Entrepreneurs with Grootbos Foundation Mentorship

Exciting update from our Entrepreneurship Programme and Enterprise Development at Grootbos Foundation!

Grootbos Foundation
Transform Your Business Space with Paint

Transform Your Business Space with Paint

Paint plays a pivotal role in setting the tone and ambience of commercial spaces, from cosy cafes to bustling stores and elegant restaurants.

Join Us in Protecting Pearly Beach!

Join Us in Protecting Pearly Beach!

The Pearly Beach Ratepayers Association works to keep Pearly Beach beautiful and safe.

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Fenominale Franskraler - Natalie Louw

Skilder, skrywer, digter, beeldhouer, fotograaf, skut, liefde vir renmotors, Kayalami-ritte, blinde navigasie betrokkenheid, landloop-skeidregter, vryskutjoernalis, rubriekskrywer...

Gans-Berg Nuus / News
See All Articles