Die oorwinning van Christus

Die oorwinning van Christus

NG Kerk Gansbaai

Teks:  Kolossense 1:12

Ek was lanklaas so met weemoedigheid vervul oor ons land na aanleiding van die laaste tyd se gebeure.   Soos nog nooit tevore vra ’n mens jouself die vraag af waarheen ons oppad is en onwillekeurig  doem die prentjie van nog ‘n Zimbabwe voor jou op.   Ek self  was dadelik baie bekommerd  oor bv wat van my pensioen gaan word.  Ek is seker daarvan julle  ook. Kan dit dan wees dat  magsbeheptheid, korrupsie  en oneerlikheid  tog  die finale sê het oor ons land en sy toekoms. Ek moet sê ek  was regtig  moedeloos en  weemoedig oor alles. En het uitgelewer gevoel.    En het dan ook  soos meeste van ons glo ek  gehoop  op daar iets sal gebeur  wat dinge in ‘n ander rigting sal stuur... bv dat  mense na vore tree,  uit regeringsgeledere  mense met invloed,  wat  sal sê tot hiertoe en nie verder nie. Daar is  stemme, maar helaas, het  daar nog nie enigiets drasties  plaasgevind nie. ‘n Mens is dankbaar  vir al die stemme  wat  in hierdie dae van gewone mense uitgaan . . . dink aan Vrydag se protesoptrede, veral die vreedsame wyse waarop dit plaasgevind het. Dit het my regtig  dankbaar gemaak.  Mag die Here dit dan ook gebruik  sodat geregtigheid sal geskied . . . 

Maar toe lees ek weer hierdie gedeelte  en besef  net  dat  die beloftes van die Here  kan nie deur mense  verongeluk word nie.     Die apostel Paulus skryf  destyds aan die gemeente van Kolosse  wat  so bewus was van magte en kragte aan die werk in hierdie wêreld waarmee hulle ook rekening moet hou.   Die gevaar het gedreig dat  hierdie gemeente mislei  sal word, dat hulle naas hulle geloof in Christus, ook hierdie magte van die heelal moet ken  en daarvolgens moet kan leef.  Die magte moet ook gedien word, want slegs langs hierdie weg sou daar kastig  vir die Christene beskerming  teen die magte wees.  Wat hierdie magte presies was is nie seker nie, maar basies kom dit neer op iets soos geskape werklikhede wat  te belangrik geword het.   Hy herinner hulle aan die mag van Christus.   Hy die Here is van die hele heelal nadat Hy die magte aan die kruis oorwin het.  

Die kruisiging, wil Paulus sê, was  soos ‘n magstryd en die  Here het die oorwinning behaal.  Dink maar aan die posisie van  Christus: v15 - 18: Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.  God het deur Hom alles geskep  wat in die hemel en op die aarde is:  alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders.  Alles is deur hom en vir Hom geskep. Voor alles was hy al daar  en deur Hom bly alles in stand.  Hy is die Hoof van die liggaam, van die kerk.  Hy is die oorsprong daarvan, hy is die Eerste, die een wat uit die dood opgestaan het, sodat Hy  die eerste plek in die heelal inneem.   En die gemeente deel in hierdie oorwinning.   In verse 2:12-13 herinner hy hulle daaraan.   Deur julle verbondenheid met Hom, is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het  in die krag van God  wat Hom uit die dood opgewek het. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk  en ons onder die heerskappy  gestel van Sy Seun wat Hy liefhet. Deur die  Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.  Die apostel  Paulus  herinner hulle  dat hulle daarom nie die magte langer hoef te vrees nie, nie langer hulle moet dien  nie,  want Christus het die oorwinning behaal oor hierdie magte.   Hy is nou die Here ook van hulle lewens.

Ook  ons  wat aan Christus verbonde is, deel in hierdie oorwinning van Christus aan die kruis.  Daarom hoef ons ook nie so beangs te wees  wat van alles word nie.   Want Christus is nou die Here oor die magte.   Anders gestel,  Hy is daarom in staat om ons hopelose situasies  te  verander  in hoopvolle situasies.    Hy kan nou lewe bring waar dit lyk die wanhoop  en desperaatheid  oënskynlik blyk te seëvier.  Daarom kan Hy dan ook  hierdie  huidige  krisis  verander.  Met die oorwinning van Christus aan die kruis  kan ons bly hoop, ook vir ons land.   Kan ons bly hoop dat die kwaad  deur die goeie oorwin word.  Ek besef toe hoe maklik ‘n mens kan toelaat,  omdat  jy dit nie altyd in gedagte hou nie, selfs partykeer sommer vergeet, dat die siniesheid en die  moedeloosheid  op die einde van die dag  die oorhand kan kry.   Nee, Christus is nou die Here.  Die bekende Negro Spiritual lui: He’s got the whole  world in His hand, He’s got you and me brother  in His hand, He’s got the whole world in His hand . . .

Daarom is dit belangrik om weer stil sal word voor die Here.   Natuurlik moet ons koerante lees, TV kyk, (koerant  lees in die een  hand, maar ook met die Bybel in die ander hand). Ons moet  weet wat in die wêreld aangaan, sodat  ons  ook kan weet waarvoor om te bid, maar nooit so dat dit ons moedeloos  sal maak nie.  Ek moet sê ek het self dit toegelaat, dat  ek so bewus geraak het  van die situasie, en nie genoeg  stil geraak  voor die Here daaroor nie.   Nou moet ons soos nog nooit tevore bid tot die Here. Daarom is al die aksies  van  gebed  so  belangrik; dit behoort ons eerste reaksie te wees om ons toevlug  na die Here te neem.    Ek dink aan die situasie destyds toe  Petrus en Johannes gedreig was by die Joodse Raad om  nie oor Jesus te getuig nie. Toe hulle vrygelaat  was  nadat hulle ernstig gedreig is,  kom hulle terug na die gelowiges en vertel wat die  priesterhoofde  en die familie hoofde  alles vir hulle gesê het. Dan staan daar so mooi in Handelinge 4:24: Toe hulle dit hoor, het hulle almal saam tot God gebid en gesê:   Here, dit is U wat die hemel en die aarde  en die see en alles wat daar is, gemaak het.   Soos nog nooit tevore, neem ons ook nou ons toevlug na die Here, ook oor ons land.  Maar ons doen dit met die verwagting dat die Here wat die Here is van die hele heelal, sal sorg en voorsien.  Saam met duisende ander wil ons ook ons verootmoedig oor ons land. Ons is tog in Sy hand.  Hy sorg vir ons.

Maar dan moet ons ook nie net bid nie, nee, as dit dan so is dat Jesus die Here is van die ganse heelal, dan beteken dit ook dat Christus God se kragtige aanspraak op ons hele lewe is en daarom ook op die openbare lewe. Daarom roep die Here die kerk om in hierdie dae ook profeties op te tree.  Om teenoor die regering van die dag ook daarvan te getuig  en  die regering  aan sy verantwoordelikheid  te herinner   dat hy geregtigheid sal  bevorder.   En dat die kerk ook die moed van sy oortuiging sal hê om te kritiseer as daar magsmisbruik, onreg en korrupsie is.   Ek is baie dankbaar dat die NG Kerk dan ook ‘n verklaring uitgereik het oor die huidige situasie in die land.  Daarin skryf die Algemene Moderatuur  dat die kerk nie in party politiek betrokke wil raak nie, maar  kon tog  oor die afgelope jare nie swyg wanneer die president en regeringslui so optree dat dit vrede, versoening en geregtigheid van  ons mense in gedrang bring nie.  Die kerk het immers ‘n profetiese roeping om geregtigheid na te jaag en om veral ‘n stem te wees vir die magteloses  en die wat deur beleid en sisteme buite rekening gelaat word  of benadeel word.   Die kerk as deel van die groter kerk in Suid Afrika  teken dan ook weereens beswaar aan teen die optrede van die president  en doen ‘n beroep op die parlement  om sy leiers verantwoordelik te hou  vir die ernorme skade wat die land aangedoen is.   Die moderatuur wil ook graag die lidmate aanmoedig om alle moontlike demokratiese maatreëls  saam met ander landsburgers in te span  in verset teen die misbruik van mag  deur die politieke leiers van ons land. Ons wil egter Christene ook oproep om hulle waardigheid te behou  en so op te tree dat dit Christus se liefde en vrede waardig sal wees.  Dit is nou die tyd vir gelowiges om met hulle optrede  van die lewende hoop in Christus te getuig.  Mag die Heilige Gees vir ons almal in hierdie tyd ‘n verbeelding gee vir ‘n land  waarin ons versoend en menswaardig saamleef. Ons roep ook hiermee  ons lidmate op om saam met ons dringend en toegewyd  vir ons land en  leiers te bid.  Mag Hy ons land begenadig met leiers met ‘n visie wat tot almal se voordeel  strek.

Laat ons tog in hierdie dae onthou dat Christus die Here is.    Laat die wete ons bemoedig in hierdie dae.  Laat ons ons Hom opnuut vertrou,  dat Hy die verskil kan maak.   Laat ons daarom ons toevlug na Hom neem en ook getuig dat Hy die Here is van hierdie land.  

Gebed
Hannes Theron, Helderberg gemeente, Somerset-Wes

Here, ons huil oor ons land se uitvoerende beampte, ons president,  die korrupsie,  nepotisme en blante persoonlike bevoordeling.  Ons huil   oor ons rommelstatus in die ekonomiese wêreld.  Ons huil oor ons eie onvermoë om ‘n verskil te maak  aan armoede en ongelykheid.  Ons huil oor die geweld in ons land waar  mense vir R10, ‘n selfoon en skootrekenaar vermoor word.  Ons huil oor elke vrou wat verkrag en kinders wat seksueel  gemolesteer en misbruik word.    Ons huil oor mense wat nie besef hoe nodig ons U het nie en nie die waarde van U kruisiging en opstanding besef nie. Ons huil oor ons onvermoë om as kerk waarlik sout en lig te wees. Ons huil oor mense  wat hoop verloor het, bang, verward en onseker is. Here hoor ons huil . . .ons huil . . .ons huil . . .Amen   

http://kerkbode.christians.co.za/2017/04/05/brief-van-moderator-oor-zuma-debakel/

Die oorwinning van Christus

Ds. Dirk van Dyk

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Gansbaai Wynproegilde - Arabella Wyne se Geurige Wyne

Gansbaai Wynproegilde - Arabella Wyne se Geurige Wyne

Gansbaai Wynproegilde se suksesverhaal het geen einde nie - die gilde groei van krag tot krag, met die een byeenkoms so gesellig soos die volgende een.

Gans-Berg Nuus / News
Local Press and Media Foundation Open Day Hosted on 4 April 2024

Local Press and Media Foundation Open Day Hosted on 4 April 2024

On 4 April 2024, we invited local press and media for an informative Open Day. 

Grootbos Foundation
Easter Bunny Visit at Herberg aan See

Easter Bunny Visit at Herberg aan See

The Easter Bunny delighted everyone at Herberg aan See during the recent Easter weekend.

Herberg aan See
Overcoming Mental Mountains: Embracing Life's Beauty

Overcoming Mental Mountains: Embracing Life's Beauty

Do you ever feel like life is a constant struggle? One step forward, two steps back, and you're exhausted before the week even starts?

Monthly Home Maintenance Tips

Monthly Home Maintenance Tips

Stay on top of home maintenance with these monthly tips.

Explore Duiwelsgat Hiking Trail near N०1 Harbour Way!

Explore Duiwelsgat Hiking Trail near N०1 Harbour Way!

If you love hiking, you're in luck! N०1 Harbour Way is conveniently close to the breathtaking Duiwelsgat Hiking Trail, leading to Walker Bay Nature Reserve.

N०1 Harbour Way
See All Articles