Ons sal die Here dien

Ons sal die Here dien

NG Kerk Gansbaai

Rigt 2:7-10;  21:25 Gansbaai 14/01/18

Agtergrond:  Moses het volk uit Egipte gelei - o.l.v. Josua het die volk die beloofde land in getrek.  Beide hierdie leiers was manne van God - wat met hulle woorde en voorbeeld gelei het.  Soveel so dat van Moses gesê word: Hy het die Here persoon­lik geken.  (Deut 34:10)  En wie van ons sal ooit daardie woorde van Josua vergeet in Jos 24:15  “. . .  kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: . . . ; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” Pragtig! - maar dan lees ons in:  (effens verkort)

Rigt 2:7 So lank as Josua geleef het, het die volk die Here gedien. Dit was ook nog so terwyl die leiers ge­leef het wat vir Josua oorleef het. Hulle het nog al die groot dade beleef wat die Here ge­doen het om vir Is­rael te help.  8  Josua, . . die­naar van die Here, . . . het gesterf . . .10 Al die mense van sy leeftyd het ge­sterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.

Daar was ’n probleem: Die geslag mense na Josua het nie die Here geken nie - hoofsaaklik omdat hulle ouers nie vir hulle vertel het van die Here se groot verlossingsdade nie. (En al praat ons nie eintlik vandag hieroor nie, moet alle pa’s en ma’s en oumas en oupas ernstig hiervan kennis neem!)

Die gevolg van gebrek aan kennis van God was chaos - soos wat mens kan verwag as mense vir God buite rekening laat.  Die tipiese patroon van Rigters lyk dan ook min of meer so: (Rigt 3:7-12)

Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. . . . Toe het die Here kwaad geword vir die Israeliete. Hy het hulle oorgegee in die mag van koning Kusan­–Risatajim van Mesopo­tamië.  Toe het die Israeliete tot die Here geroep, en Hy het vir hulle ʼn redder na vore laat kom wat hulle gered het. Hy was Otniël.  Die Gees van die Here was op hom en Hy het vir Kusan–Risatajim verslaan.  11  Daarna was daar veertig jaar lank vrede in die land, en toe is Otniël dood.  12   Die Israe­liete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en Hy het koning Eglon van Moab mag oor hulle laat kry . . . (Ehud . . Gideon . . Simson)

Oor en oor dieselfde storie:  sonde – oordeel – be­ke­­ring – verlossing – weer sonde.  Geen besten­digheid!  Daarom dan ook dat die laaste vers in die boek Rigters so half verskonend sê:  In daardie tyd was daar nog nie ʼn koning in Israel nie, en elk­een het gedoen wat reg is in sy eie oë.  (Rigt 21:25)

Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë. En dit is die probleem: Want wat is reg? Wie of wat be­paal wat ek moet doen? Wie of wat dui vir my rig­ting aan op my lewenspad? Ons ken almal die antwoord. Ps 121:12 sê: My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Ons ken die ant­woord - en tog sien ons soveel mense wat hulleself Christene noem wat hulle nie steur aan wil van God nie, maar eenvoudig doen net wat hulle self wil. Tot skande van die kerk en tot oneer van die Here!

Dit het sleg gegaan in die tyd van die Rigters. En dit gaan vandag nie juis beter gaan nie. Paulus skryf in Rom 1:29-31: “Mense” is een en al ongereg­tigheid, slegtheid, hebsug en gemeen­heid; hulle is vol jaloesie, moord, twis, bedrog en kwaad­­willig­heid. Hulle skinder en praat kwaad; hulle haat God, hul­le is hooghartig, aanmatigend, verwaand; hulle is mense wat kwaad uitdink, ongehoorsaam aan hulle ouers;  hulle is onverstandig, onbetrou­baar, liefdeloos, hardvogtig.

Maar dit gaan nie vir ons oor die wêreldse mense nie - net soos dit nie in die Rigters se tyd ge­gaan het oor die heidense volke nie.  Dit gaan oor mense wat hulleself op een of ander manier vereenselwig met die lewende God, mense wat hulleself Chris­tene noem. Mense wat in die kerk kom, al is dit dikwels net op spesiale geleent­hede.  En ongelukkig is dit so dat hierdie Christene soms onder die dek­man­tel van sg. “vryheid” reken hulle kan maar enig­iets doen wat reg is in hulle eie oë. “Want,” sê hulle “ons is immers vry gemaak deur bloed van Jesus.”    

Maar vryheid is nie onge­bon­denheid nie. Ons vryheid is die vry­heid om die pad van Gods Woord te loop.  Die sg. vry­heid van die wêreld is eintlik ’n verskrik­like gebon­denheid - gebon­den­heid aan die bose. Spr 14:12   Daar is ʼn le­wens­­wyse wat vir ʼn mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood. ’n Mens kan nie maar net doen wat jy wil nie, of wat jy dalk dink reg is nie! 

Ja, ons weet ons moet ons laat lei deur die Woord van God. Hoe dikwels het ek nie al die leraars van die ge­meen­te hoor beklemtoon dat ons erns met die Bybel moet maak nie. Christene weet dit, ons bely dit, maar al te dikwels weerklink die woorde van Rigt 21:25 maar weer by so baie: elkeen doen wat reg is in sy eie oë. M.a.w. - elkeen reken hy of sy kan self bepaal wat reg is. 

Weet u wat?  Mense erken die belang van die Woord - maar hulle ken nie die inhoud van die Woord nie!  En dan trap hulle maklik in slaggate:

1. Hulle laat hulle lei deur hulle sg. rede of  “gesonde” verstand - hulle tree “logies” op.

Sekerlik het die Here vir ons verstand gegee - en somtyds gebruik ons dit heeltemal te min. Ek is soms verbaas oor die sg. “Christelike” nonsens wat op e-pos aangestuur word en geglo word sonder om eers te probeer uitvind of dit waar is.  Die probleem kom wanneer mense dink hulle weet beter as God; die probleem kom wanneer God self in ge­drang kom, wanneer bv. die opstan­ding van Christus be­twy­fel word, wanneer Jesus as die enigste weg tot verlossing bevraagteken word. Die probleem kom wanneer mense self wil besluit wat reg en verkeerd is op grond van hulle sg. “logika” of gesonde ver­stand. Maar al te dikwels is die logika nie so logies nie, en die ver­stand ook nie so gesond nie. (Om nou maar die voorbeeld te noem van aborsie op aan­vraag. Mense reken dis tog logies dat ’n vrou oor haar eie liggaam besluit. Maar dit is glad nie so logies nie - veral nie as die baba wat geaborteer moet word ook ’n stem kry nie.)

Vriende - wanneer ons te doen het met die Christe­like Godsdiens gaan dit nie in die eerste plek oor gesonde verstand of logika nie. 1 Kor 3:18-19  Nie­mand moet homself mislei nie. As een van julle dink dat hy volgens die maatstaf van hierdie wêreld ʼn wyse man is, moet hy dwaas word sodat hy werk­lik ʼn wyse mens kan word, want die wysheid van hier­die wêreld is dwaasheid by God.

Dit is onlogies om te glo dat Jesus uit die graf opge­staan het, dat Hy vir jou en my sondes gesterf het. Maar dit is waar!!!  As ons dit nie glo nie (en maak nie ’n fout nie, daar is baie sg. Christene wat dit nie glo nie!) - as ons dit nie glo nie, dan het ons geloof geen vaste fondament nie. En hoe kan ons dan glo dat God ons sondes vergewe, hoe kan ons glo dat Hy ons gebede verhoor? 

Vriende - dit gaan nie in die eerste plek oor gesonde verstand nie - dit gaan oor geloof! 

2. Hulle laat hulle lei deur hulle emosies

Jare gelede het ’n predikant se vrou opgemerk dat sy haar kinders “intuïtief” opvoed;  m.a.w. nie volgens die normale opvoedkundige - en Bybelse beginsels nie, maar hoe sy voel op daardie oomblik. Sy het ook intuïtief teenoor haar man opgetree - en ongelukkig het die huwelik nie lank gehou nie. Jer 17:9  Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?

Sekerlik is ’n persoon sonder enige emo­sie iets vreesliks - dit is een van die kenmer­ke van ’n psigopaat.  ’n Persoon wat baie onemosioneel is, word dikwels gesien as ’n “koue” persoon. Maar dit is net so ’n groot probleem as mens jou deur jou emosies laat lei.  Want emosies is per definisie ver­an­derlik.  Mense voel nie altyd dieselfde nie.  Daar­om lei emosies maklik op ’n dwaalspoor. (Dit is dikwels  juis op hierdie punt dat mens die gesonde verstand wat die Here jou gegee het, moet gebruik.)

Die probleem is juis dat ons dikwels die Here die nodigste het wanneer ons emosies op ’n laagtepunt is. Daarom moet die gelo­wige hom laat lei deur die Woord van God - want die Woord is onverganklik en onveranderlik. 

Ek het ’n probleem met daardie (TV) predikers wat mense emosioneel opsweep, maar die oomblik as daardie mens weer deur die realiteite van die wêreld gekonfronteer word - dan word hy of sy wreed ontnugter. Natuurlik is ons Christelike godsdiens nie sonder emosie nie, maar dit is beslis nie gebou op emosies nie!  Dit is gebou op vertroue!

3. Hulle laat hulle lei deur hulle eie begeertes

Die Here het die mens geskep met natuurlike dran­ge en begeertes. Dit is waarom ’n mens eet wan­neer jy honger is. Dit is waarom ons soms iets koop wat mooi is. Dit is, met respek gesê, waarom ons kinders het. Maar die gevaar kom wan­neer die mens sy hele lewe laat beheer deur sy drange en begeertes.  Dan word ’n mens veel erger as ’n dier.

Jak 4:1 Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?  . . . 3 As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid:  julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.

1 Pet 4: . . . 2  vir die res van sy aardse bestaan word die gelowige se lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God.  . . .  4  Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.

Ongelukkig vind die heidene dit nie vandag meer vreemd vind nie - want baie sg. “Christene” loop eenvoudig saam met die stroom van losbandigheid.

Bv.  Gemaksug – begeerte na gemak en luuksheid - beheer wat mense koop of doen - lei dikwels tot groot ongelukkigheid.

4. Hulle laat hulle lei deur verkeerde raadgewers

Van die begin af lees ons dat mense na verkeerde raadgewers geluister het.  Adam en Eva - luister na duiwel - en verloor daardeur alles wat werklik saak maak;  Salomo het na sy vrouens geluister - en God se guns verloor;  Rehábeam het na die dwase raad van sy vriende geluister - en sy koninkryk is in twee geskeur.  En ook vandag sien ons alte dikwels dat mense wyse raad in die wind slaan en dan probleme optel.

Jer 17:5 So sê die Here: Daar rus ʼn vloek op die mens wat sy vertroue in mense stel, wat sy krag soek by sterflike mense en van My af wegdraai;  . . . daarteenoor - . . . 7 Dit gaan goed met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ʼn veilige vesting

Waar kry mense deesdae leiding en raad? Dikwels by populêre tydskrifte met sy tipiese “7 reëls vir ’n gelukkige huwelik” soort artikels, vlak godsdiens­tige boeke, ongelowige vriende, ligge­lowige Chris­tene, alleswetende TV-predikers met dikwels goed­koop raad. En ironies ook hoe baie Christene hulle deesdae laat lei deur veral die Oosterse godsdienste. Om nie eers te praat van politieke partye nie!. . .

Geen wonder die kerk vandag lyk soos hy lyk nie. En geen wonder dat die Hoof van die kerk deur die wêreld bespot word nie!  Want elkeen doen net wat reg is in sy eie oë. Of kom ons sê darem - baie, te veel! - doen net wat reg is in sy eie oë. Genadiglik is daar darem ook baie uitsonderings!

Hos 4:6 (Ou vertaling)  My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis. . .  Daarom, sê Rigt 21, doen elkeen wat reg is in sy eie oë. En wat reg is in mense se oë is nie altyd reg in God se oë nie.

Wat bepaal dan wat reg is? Ons logika? Ons ge­son­de verstand? Ons gevoelens? Ons begeertes? Wêreldse raadgewers? Politieke partye?  TV-predikers? Ander godsdienste?

Sekerlik nie. Nou wat dan? Paulus skryf aan sy jong vriend Timoteus:

2 Tim 3:14  Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was 15 en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. 16  Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waar­heid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerd­hede reg te stel en ʼn regte lewenswyse te kweek, 17 sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.

Dit is waarom ons predikante soveel klem lê op God se Woord. Want mense ken nie meer hulle Bybel nie - en daarom weet hulle nie meer wat God van hulle verwag nie. En daarom doen elkeen wat reg is in sy eie oë. 

Daarmee wil ek dan afsluit: Broers en Susters - maak tyd vir God se Woord.  Leer Hom ken uit sy Woord! Leer om te doen wat sy Woord van ons verwag.   En - deel hierdie kennis, die Woord, met die volgende geslag. Dan en slegs dan, sal die kerk oorleef! 

Ons sal die Here dien

Ds. Hennie Basson

Hierdie historiese kerk is geleë in die hart van Gansbaai se middedorp en staan al vir meer as 50 jaar in die bediening van jonk en oud. Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug tot 1909 en vandag het die kerk meer as 2550 lidmate en oor die 300 doop lidmate. Die kerk bedien die hele Gansbaai wat d...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Gansbaai Wynproegilde - Arabella Wyne se Geurige Wyne

Gansbaai Wynproegilde - Arabella Wyne se Geurige Wyne

Gansbaai Wynproegilde se suksesverhaal het geen einde nie - die gilde groei van krag tot krag, met die een byeenkoms so gesellig soos die volgende een.

Gans-Berg Nuus / News
Local Press and Media Foundation Open Day Hosted on 4 April 2024

Local Press and Media Foundation Open Day Hosted on 4 April 2024

On 4 April 2024, we invited local press and media for an informative Open Day. 

Grootbos Foundation
Easter Bunny Visit at Herberg aan See

Easter Bunny Visit at Herberg aan See

The Easter Bunny delighted everyone at Herberg aan See during the recent Easter weekend.

Herberg aan See
Overcoming Mental Mountains: Embracing Life's Beauty

Overcoming Mental Mountains: Embracing Life's Beauty

Do you ever feel like life is a constant struggle? One step forward, two steps back, and you're exhausted before the week even starts?

Monthly Home Maintenance Tips

Monthly Home Maintenance Tips

Stay on top of home maintenance with these monthly tips.

Explore Duiwelsgat Hiking Trail near N०1 Harbour Way!

Explore Duiwelsgat Hiking Trail near N०1 Harbour Way!

If you love hiking, you're in luck! N०1 Harbour Way is conveniently close to the breathtaking Duiwelsgat Hiking Trail, leading to Walker Bay Nature Reserve.

N०1 Harbour Way
See All Articles