Makarios/ Salig/ Geseënd is die. . .
Matt 4:23 en 9:35 omraam Matt 5-7 en 8-9. In Matt 4:23 en 9:35 lees ons dieselfde woorde :”Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak.”
Tussen hierdie twee teksverse vind ons die verkondigende, lerende en genesende aktiwiteite van Jesus Christus. Die Saligsprekinge vorm die verkondigende(kerugmatiese)inleiding tot die bergrede in sy geheel. Verder is dit die eerste groot toespraak van Jesus, wat so pas sy dissipels geroep het met die doel om hulle vissers van mense te maak. In hierdie konteks moet die funksie van hierdie aankondiginge van seën en geluk nou verstaan word.
Die merkwaardige en eintlik skokkende is juis dat hierdie toeseggings van seën en heil gedoen word aan hulle van wie dit per definisie in die wêreld van daardie tyd(en vandag ook nog) nie verwag sou word nie.
Die betekenis van die woord Makarios is baie belangrik vir die verstaan van die saligsprekinge. Die woord kan vertaal word met die woord “gelukkig”. Uitleggers is van mening dat hierdie vertaling nie reg laat geskied aan die boodskap van die saligsprekinge nie. Die woord “gelukkig” kan verstaan word as die beskrywing van ‘n persoon se innerlike toestand. Met ander woorde as “Iets” wat jyself het. Dit gaan in die uitspraak makarios egter om ‘n toesegging van heil en seën. Jy ontvang makarios. Die woord “geseënd” is om hierdie rede meer van pas. Die NAV gebruik dan ook die vertaling “geseënd”. Geseënd veronderstel dat Jesus die gesag het om deur Sy woorde die toestand van sy hoorders ingrypend te verander.
Die aktualiteit van die saligsprekinge is geleë in die feit dat dit gelowiges help om nou reeds te kan leef as mense wat nie onderworpe is aan vrees vir die dood nie, maar as mense wat bereid is om afstand te doen van hul gewone sekuriteite, en teen die algemeen heersende ideologieë in te gaan. Die saligsprekinge wil gelowiges bevry tot ‘n nuwe perspektief op die wêreld waarin hy/sy geroep is om as burger van die koninkryk van God te leef. Die geseëndes is hulle wat bereid is om ‘n naaste vir hulle medemens te wees, wat bereid is om op te offer vir God en naaste, bereid is om prys te gee, in te boet en selfs te ly.
Die saligsprekinge staan binne die breë verband van die bergrede. Die saligsprekinge moet dus binne die konteks van die bergpredikasie gelees word. Die Bergpredikasie moet weer verstaan word binne die konteks van die evangelie van Matteus. Dit is onmoontlik om in die bestek van ‘n paar sinne die saligsprekinge en die bergpredikasie binne die konteks van die Matteus Evangelie, volledig te bespreek. Enkele opmerkings kan help om die breër konteks te verstaan. Dit gaan in die Evangelie van Matteus om die aanbreek van die Koninkryk van God. Die Koninkryk van God vorm die raamwerk waarbinne geregtigheid vereis word.
Die bergrede dien as die beskrywing van die kwaliteit van hierdie lewe wat dissipelskap binne die sfeer van die koninkryk kenmerk. Matteus beskryf die koninkryk as ‘n werklikheid wat alreeds in Jesus Christus aangebreek het, maar ook as ‘n werklikheid wat nog tot volle voltooiing moet kom in die eindtyd.
Die bergrede benadruk die doen van die wet (Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en verstand…Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”) en die soek van die geregtigheid