Weskaap Sinode 2019 by Goudini
Tydens die week van 13 tot 17 Mei het ons drie leraars en drie afgevaardigdes (Hannes Cilliers, Kris Jooste en Ilse Kloppers) die sinode bygewoon. Ons was deel van ongeveer 750 mense wat daagliks bymekaargekom het. Die sinodegangers het rondom tafels gesit en baie gesprekke het rondom die tafels plaasgevind, sodat almal gevoel het hulle neem deel. Wat ons opgeval het is hoeveel jong dominees leiding geneem het met ons dagwydings en in gesprekke. Dit gee ons baie hoop vir die kerk van die toekoms. Ons is met behulp van verskillende media ingelig oor wat die NG Kerk in die Weskaap die afgelope 4 jaar by betrokke was. Die sinodegangers is diep onder die indruk gebring van ons verantwoordelikheid rondom die ekologie, ekonomie en Vroeë Kinderontwikkeling ter wille van die toekoms van ons land. Ons is ook gedurig herinner aan die waardes van die sinode wat vloei uit die belydenis: “Ingenooi deur God en daarom een in die Gees en gelyk langs Christus.” Hierdie oortuiging reflekteer in die manier wat jy met ander omgaan wat anders is as jy. Ons het amper 8 ure ‘n dag gesit en was baie verlig as ons sommige aande tyd gehad het om te gaan week in die baddens van Goudini. Jy kan nie so ‘n sinode bywoon en nie bewus word van hoe diep die spore die kerk in elke gemeenskap in ons streek al gelaat het nie.