Was dit Erfenisdag of was dit Braaidag? Was dit Braaidag omdat ons die kultuurerfenis van braai wou herbevestig? Elke omroeper oor die radio en programaanbieder op televisie het ons met ‘n desperaatheid in hul stemme daaraan herinner dat ons asseblief tog net moet braai op Erfenisdag.
Om ‘n Suid-Afrikaner daaraan te herinner om te braai is om’t ewe as om vir ‘n narkotiseur te herinner dat hy ‘n pasiënt moet ondersit voor die chirurg begin sny. Dis totaal onnodig, want by elke bloedgesonde burger van hierdie land is vuuropsteek ‘n instelling - nes Nagmaal. Jy doen dit omtrent outomaties ongeag van die omstandighede of jou geestelike gesondheid; dis ‘n verheerlikende gebeurtenis keer op keer. Ons kies nie ons braaityd nie; ‘n braai kies vir ons wanneer om te gebeur. Geen dag van die week is uitsluitlik ‘n dag om te braai nie; ons doen dit van Sondag deur tot Saterdag. Enige tyd is reg vir vuuropsteek. Dit is ook lankal nie meer net ‘n geleentheid om saam met vriende of familie te verkeer nie. Wat is dan lekkerder as so ‘n spontane, impulsiewe braai vir net twee mense? Al is dit net ‘n worsie en broodjie, natuurlik met ‘n glasie van wat-ook-al, ter wille van die samesyn en lekker gesels oor allerlei belangrike en onbelangrike dinge. Dis die eweknie van “date nights” wat die huweliksraadgewer deesdae so uitskreeu. ‘n Mens het nie nodig om te soek vir ‘n kinderoppasser vir daardie tyd wanneer julle iewers in ‘n restaurant gaan eet nie. Jy maak net asof dit ‘n gewone aand is, pik saam met die kinders terwyl hulle eet en gaan sit hulle soos oudergewoonte in die bed. Intussen knipoog julle geheimsinnig vir mekaar in die wete dat julle hulle uitoorlê het. Hopelik. Wanneer hulle tot ruste gekom het, pak julle ‘n vuurtjie aan. Dit is die numero uno van klein braai: daardie net-ek-en-jy-gevoel. Aan die anderkant is daar die groot braai. Die een waar mens en dier in die buurt en/of familie en/of vriendekring genooi word om te kom deel in die roesemoes. So ene laat hom nie van kos afsit nie. Dáár is dit die gesels en die kuier wat van bo tot onder op die ongeskrewe spyskaart verskyn. Die kindertjies gil, stamp hulle tone en mekaar terwyl musiek bydra tot die toenemende crescendo rondom die vuur. ‘n Groot braai het net één onontbeerlike vereiste: ‘n Vasvoetige gasheer wat die braaiery op homself neem, anders word daar nooit geëet nie.
Braaidag op Erfenisdag doen myns insiens afbreuk aan die Erfenis-aspek. Dit is erg genoeg dat die Geskiedenis handboeke deesdae by die “struggle” begin en daar eindig. Wat het geword van die landstigting, die pioniers, die opbouers en die instandhouers van dit wat vandag ‘n verwaarloosde, plek-plek vervalle en trotslose, steeds “struggling” nasie geword het? Weet ons kinders waar hulle vandaan kom? Ken hulle ‘n kakebeenwa, ‘n vetkers en ‘n peepot? Weet hulle hoe sakkoffie en vetkoek wat in skaapvet gebraai is, smaak? Dat Afrikaans ‘n bedreigde taal raak en dat godsdiens en die Bybel as ‘n lastigheid in skole beskou word, ontneem die nageslag van die belangrikste nalatenskap nog. Die maklikste uitweg is om jou kinders groot te maak om hulle erfenis sover terug te voer as tot by Ouma en Oupa. Dit is nie genoeg nie; dit gee daartoe aanleiding dat hulle ‘n oppervlakkige lewe leef.
Grootouers is nie erfenis nie. Húlle ouers, grootouers en dié se voorsate, hulle leefwyse, beginsels en moralitieit is die ware erfenis van ons kinders. Kyk hoe word Robbeneiland aan die wêreld verkoop as Suid-Afrika se belangrikste erfenis-gebied, alles ter wille van net een mens. Daar het niks van Robbeneiland se trots oorgebly nie; dit is ‘n vervalle woesteny met ‘n paar gepoleerde tronkselle. Dalk moes dit verval om die sodanige wreedheid van apartheid te illustreer? Nee, ons het ‘n baie mooier, eerbiedwaardige erfenis om op trots te wees; ‘n erfenis wat nie vir ons kinders verlore mag gaan nie. In my wildste drome sien ek ‘n Erfenisterrein op Baardskeerdersbos: ‘n lewende museum waar die kinders van die Strandveld en Overberg volgende jaar ‘n koei kan melk, botter kan karring, kan kerse maak en kan broodbak in ‘n buite-oond. En as ‘n bonus, gaan sprokkelhout soek vir ‘n braaivuur.
Carine Badenhorst