Jack in the Box

Toe ek gedurende die week lees van nog ‘n moord in ons geweste, kom die prentjie van ‘n  jack-in-the-box heel ongevraagd voor my geestesoog op. 

As kinders het ons met verlangende oë gekyk na hierdie nar wat uit die boksie spring en ons het  gekerm om ook so ene te kon hê. “Nie in hierdie huis nie” het Mamma gesê, “want dis ‘n duiwelse speelding.”  Ons het ons oë gerol en gesug. Daardie helderkleurige hanswors, wat uitspring op die deuntjie van die liedjie Pop! Goes the weasel?  Maak nie sin nie. In daardie dae durf jy nie vir ‘n ouer “hoekom?” vra nie. Jy het vir jou eie gesondheid ingeval by hulle besluite, of jy verstaan het ofte nie.

Later eers het ek gaan oplees oor Jack. In die veertiende eeu het ‘n biskop in North Marston in Buckinghamshire op die stadsplein gestaan en ‘n sedeles vir die inwoners afgesteek. ‘n Biskop was die hoogste gesagspersoon in daardie tyd se dorpies.  Om sy outoriteit te bewys het hy sy stewel uitgetrek – ek neem aan hy het op dieselfde platform gestaan waar mense tereggestel was, sodat almal hom kon sien – en toe die duiwel in sy stewel gesit voordat hy weer sy stewel aangetrek het.  Hy het dus die behoeder van sy dorp gespeel met hierdie edele daad om die duiwel onder sy voet te hou. Dit was so ‘n indrukwekkende gebaar dat dit blykbaar aanleiding gegee het tot die speelding wat toe die naam van jack-in-the-box gekry het.

Hoe die duiwel by ‘n nar uitkom, weet ek nie. Dalk was die enigste verpersoonliking wat in die biskop se skoen kon pas, ‘n klein narrepoppie.  En wat het die biskop saans met die duiwel gemaak wanneer hy sy skoene uitgetrek het om te gaan slaap?  Ek stel my voor daardie duiwel het met ‘n massiewe sprong uit die benoude skoen gespring en die res van die nag in die biskop se kamer deurgebring. Dalk was die biskop net superslim en wou hy maar die duiwel gedurende die nag in sy slaapkamer hê?  Biskoppe  is tog ook mense onder die sware togas en nog swaarder hoofbedekkings waarmee hulle bedags rondgeloop het. ‘n Bietjie nagtelike sedeloosheid was seker nie te versmaai nie.  Hierdie speelding het oor die Engelse kanaal na Frankryk getrek waar dit  diable boîte  genoem is, wat “duiwel in ‘n boks” beteken.

Die liedjie Pop! Goes the weasel hou ook niks goeds in nie. Dit vertel van armoede: geld wat opraak en ‘n apie wat die kos van die stoof af opeet.  Die slangmuishond (weasel) naby ‘n huis was ‘n slegte teken. In Japan het die fenomeen plaasgevind dat niksdoeners uit die bloute bytplekke opgedoen het. Die shinto leiers het die slangmuishond hiervoor die skuld gegee.

Die losbandige en boosaardige leefwyse van die jeug laat my dink aan ‘n bose nar wat met ‘n veer onder sy stert die lug in spring die oomblik wanneer die kans hom voordoen.  En al gaan daardie boksie se deksel nie oop nie, forseer hulle hom oop. Maar hulle sin sal hulle kry, al moet hulle daarvoor moor. Hulle sien die geld is min en die kos is min,  maar hulle sal in die son sit en niksdoen.  As die muishond hulle byt, gaan haal hulle dit op ander, onskuldige mense uit. Die kletsrym-groep  Ice Cube noem in hulle uiters vuil en vloekerige,  sogenaamde liedjie met die naam Jack-in-the-box die volgende: “some rappers claim that they got a heart full of anger...see my head is so big they call me Jack-in-the-box.”  Kletsrym is myns insiens niks anders as die vryheid van spraak van mense wat dink die gemors wat hulle kwytraak gaan hulle verlos van die ellende waarin hulle hulself bevind.  Dit is ‘n diaboliese kultus wat die swakkelinge in die samelewing saamsleep na die donker wêreld van selfbejammering waar  dwelms en bendegeweld voorgehou word as die enigste wyse van ‘n menswaardige bestaan.

Solank as wat kinders nog klein is en onder die ouers se dak eet en slaap, moet ons hulle met beslistheid en regverdigheid begelei en dissiplineer; hulle leer om te kan werk en te onderskei tussen reg en verkeerd. Ouerliefde hoef nie populêr te wees nie; dit moet respek by die kind inskerp. Dit is wat Mamma destyds probeer doen het – en reggekry het.   

Carine Badenhorst