Nog n asem op die werf

Sowat van afgesonder kan g’n mens ook darem nie, tref dit my kort anderkant eenuur in die nag terwyl ek kruisbeen met ‘n koppie tee op die bed sit.  Iets het my opeens helder wakker gemaak. Daardie wakker wat nie tevrede is met ‘n vinnige badkamerbesoek nie. Nee, hierdie een kom met die gevoelte dat ‘n beker tee en ‘n storieboek die enigste weg is tot weer aan die slaap raak.  En dit is nie daardie angstige wakkerword wat my my ore laat spits vir moontlike vreemde geluide nie; hulle kry ek ook sporadies.  Dan is daar nog ander wakkerword-skokke van die haastige voetval van iemand wat in die pad – of is dit in die agterplaas – verbyhardloop, tesame met die buitehond se blaf. Ja, hier slaap een hond buite en een binne. So ‘n wakkerword skok my tot ondersoekende paraatheid. Ek loop in die donker van die een venster na die ander om te gaan loer of ek enigiets sien. As die sensorlig nie aangegaan het nie, vertel ek myself, is dit nie so erg nie.  Die res van so ‘n nag is uiteraard onrustig en met my een oor ‘n aks of wat bokant die kussing.  Toe die sensorlig wel ‘n week gelede, redelik vroegaand, aangegaan het en die buitehond taamlik kwaai geblaf het, het dit my egter geensins gepla nie. Vyfuur die volgende oggend word ons wakkergeklop deur iemand van ‘n sekuriteitsmaatkappy wat kom sê die hele straat is vol water. Ons buitekraan, vir ses jaar al diep agter die Nylriete weggesteek, het iemand se oog gevang. Vroegaand, terwyl ek nog televisie gekyk het.

Hierdie onbeklemde, rustige soort van opwekking in die diepnag, so mymer ek, moet seker maar net te doene hê met die feit dat ek môre weer alleen gaan wees.  Ek het iewers in die afgelope jaar of wat mos ‘n afhanklikheidsgevoel ontwikkel.  Teenoor my man – van alle dinge of mense. As iemand dit vyf jaar gelede in my glasbal gelees het, sou ek gesê het hy of sy  het die verkeerde bal beet, want ek is op my beste op my alleenste.  Maar dit het verander.  Daar is net nie meer ‘n aardigheid daaraan om bedags alleen agter veiligheidshekke opgesluit te sit nie. Nog minder om elke oggend daaraan herinner te word om die hekke te sluit nie. Dit demp my vrygekoopte gees en gooi my kreatiwiteit met ‘n vaal laken toe. Dis een ding om in geloofsvertroue  agter die skilder-esel op die stoep te sit;  ‘n ander ding om die verbystappers vas in die bevraagtekende oë te kyk en te groet, net sodat hulle vyftig treë verder omswaai en aangedrentel kom met een of ander storie of behoefte wat geen sin maak nie, behalwe dat hulle hul  nekke rek om te sien wat anderkant die oop voordeur aangaan.  Ja, hier is ‘n meneer, maar hy is gou kafee toe. Om brood te gaan koop, want ek weet dit gaan die volgende vraag wees. En nee, Meneer sny sommer self die gras en het iemand wat die verfwerk gaan doen.  Na dese is my sin vir stoepskilder daarmee heen en trek ek maar weer binnetoe. Soveel vinniger wanneer hulle doellose drentelstap hulle in die groen blok oorkant die pad laat verdwyn; dieselfde groen blok waarvoor ek so mooi gevra het toe ons destyds huis gesoek het om te koop. Vir die sewe katjies destyds en vir my siel, want ek moet groen  om my hê.  Nou is daar net een katjie oor en die groen hou meer bedreiging in as sielsgenot, want dit is daarheen dat die honde tydig en ontydig staan en blaf. Selfs die bevolking van bokkies en fisante wat ons so gereeld vermaak het, het uit die groen blok verdwyn. Het hulle uit vrees weggetrek, of is hulle uitgedun deur mense wat selfs nie skroom om slange en vinkies te vang, af te slag en te eet nie?

My man moet iets hê om hom mee besig te hou, maar hy weet ewe goed hoe om glad niks ook te doen nie. Solank as wat hy dit hier op ons werf doen, of nie doen nie, waardeer ek sy teenwoordigheid deesdae ten seerste. Alleen is nie meer lekker nie.  

Carine Badenhorst