Die arme bloedjies

Die arme bloedjies

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Op Napier in die bodorp het ‘n Juffrou Le Roux onderwyseres gebly.  Weens die aard van haar temperament het sy nooit vir lang tye aanmekaar skoolgehou nie. Geen kind kon heelhuids en met ‘n ongeskonde siel langer as ‘n kwartaal in haar klas oorleef nie. Sy was die tipiese bolla-agter-die-kop-oujongnooi en met die wysheid wat ek nou het, moet ek die aanname maak dat sy grensloos gefrustreerd was. Seksueel, want wat anders kan ‘n oujongnooi so frustreer dat sy dit op onskuldige kinders uithaal?  Seunskinders het sy sommer maklik met ‘n taai klap teen die kop uit die skoolbanke gehaal. Die meisiekinders het sy met haar vlymskerp tong gegésel. Kaalvoet-kinders – en daar was baie van hulle in die laerskool – het haar nie aangestaan nie; dit was ‘n teken van armoede. En armoede was vir haar ‘n slegtigheid en ‘n skande.  Sy het nou eenmaal die idee gehad dat kinders wat in  minder gegoedeomstandighede grootword, dom moes wees.  ‘n Arm kind wat goeie punte behaal het, se sukses het sy voor die res van die klas in twyfel getrek met vernederende opmerkings eerder as om die kind te prys.  Sy het gedurig smalend verwys na “Die arme bloedjies.” Gelukkig  was ek nooit by haar in die klas nie. Ek het darem skoolskoene gehad, maar my gestel sou nie sterk genoeg gewees het om stil te bly as sy vir Martha of vir Jannie nog verder verneder het as wat hulle koppe alreeds gehang het nie.  Nadat sy selfs nie meer as aflos-onderwyser ingeroep is nie, het sy ekstra klasse by haar huis aangebied. Een van die plaasseuns het selfs by haar tuisgegaan.  Van watse staal sy senuwees gemaak was, weet ek nie, maar hy het tog heelhuids anderkant uitgekom.

“Die arme bloedjies” kry vir my weer lyf wanneer ek aan die jong geslag ouers van vandag dink – my kinders en hulle porture.  Mense van my ouderdom sê so maklik dat ons kinders dit so gemaklik het en plek-plek stem ek saam, maar dit kan darem ook nie ‘n algemene veronderstelling wees nie.  Vandag se jong ouers in die middel-inkomste groep, sukkel maar met hul huishoudelike begrotings.  Albei moet ‘n inkomste verdien en as minstens een van hulle se werk nie binne loopafstand van die huis is nie, het elkeen sy eie voertuig nodig.  “Daar is baie ander wat wag om ‘n werk te kry” word al te vinnig en al te dikwels ‘n dreigement in die werkplek. Met die rye werkloses wat net al langer en langer word, moet die jonger geslag vandag klou aan watter werk hulle ookal het. Vermindering van personeel is aan die orde van die dag en dit bring mee dat die werknemers wat gelukkig genoeg is om dit te kon vryspring, soms soos pakdonkies gelaai word om die vakant pos se take ook te verrig.  Tydens kantoor-ure kom ‘n mens nie die versteuring van balans agter nie. Ongelukkig tref dit jou wanneer jy tuiskom en jou eie veilige hawe bereik.  Die futloosheid en irritasie word op die res van die gesin uitgehaal.  Aandete is die vinnigste van boksie hamburgers wat Mamma kan optower. Duur en ongesond, maar gerieflik. Boksiekos is ‘n gesmokkel met mense se koppe. Watter hamburger kan lekkerder  wees as gelyke hoeveelhede gemaalde beesvleis en slagters-varkwors of boerewors wat gemeng, gevorm is  en vir ‘n halfuur in die vrieskas gerus het? Heilsame huiskos. Dis algemeen aanvaarde praktyk dat Pappas ewe hard saamwerk om die huishoudelike pligte afgehandel te kan kry. Ek verstaan wanneer hulle verweer dat dit nie anders kán nie, maar ai, ek kry hulle tog maar jammer.

Kan ‘n mens die arme bloedjies nie terugstuur in tyd nie? Daardie tyd toe daar minder van alles was. En omdat daar minder van alles was, was dit wat gedoen moes word nie so gejaagd nie.  Vandag is daar net te veel kompetisie op elke vlak van die samelewing.  Almal wedywer teen mekaar om voor te kom en om bo te kom. Vir my lyk dit na ‘n ongenadige, onontbeerlike gejaag na wind. En dertig jaar van nou af gaan my kinders dieselfde voel oor die leefstyl van hulle kinders – my kleinkinders.  Teen watter spoed gaan daardie  arme bloedjies dan tog voortspoed!  

Carine Badenhorst

Die arme bloedjies

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

COMING HOME TO YOURSELF

COMING HOME TO YOURSELF

At the heart of all these conversations lies a single truth.

Ready for Adoption - Meet Benso

Ready for Adoption - Meet Benso

Benso is a sweet male dog, about 2 years old, and he is now ready to find his forever home.

BARC Animal Welfare
Daily Blog: 25 June 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

Daily Blog: 25 June 2026 | Shark Cage Diving in South Africa

A successful day on the water with plenty of marine life to keep us company at the dive site! 

Finding Clarity in Life: What Do You Truly Want?

Finding Clarity in Life: What Do You Truly Want?

As awareness grows, something interesting begins to happen.

Generator Hire in Gansbaai: Reliable Power When You Need It Most

Generator Hire in Gansbaai: Reliable Power When You Need It Most

Power interruptions can bring work to a standstill, disrupt events, and create costly delays. 

Coastal Hire Gansbaai
Creating Opportunities for Youth

Creating Opportunities for Youth

Today's update from Grootbos Foundation is from the Employability Team...

Grootbos Foundation
See All Articles