Jan het hom reeds in vorige publikasies bewys as ‘n besondere essayis en storieverteller. Van sy boeke is dikwels herdruk, maar sekeres nie. Weens gedurige navraag, het hy besluit om ‘n keur uit sy werk oor die jare saam te stel. ‘n Tydige en goeie besluit.
Jan het ‘n onortodokse skryfstyl wat so eg soos die Strandveld spreek in die taal van die mense en die landskap. Ja, mens moet die landskap ook noem, want in sy vertellings word dit ook ‘n karakter.
Hy roep mense uit vervloë tyd op met soveel piëteit dat hulle weer sprekend voor jou staan. Hoor jy die unieke visserstaal en deel jy hul drome. Weergalm die see in jou ore en ruik jy die souterige lug op die vroegoggend wind.
In Vlugroep van die Tawiep is die stories wat die hart raak saamgevat in ‘n kosbare bundel wat jy, besoeker buite die grens van die Strandveld, sal geniet. Strandvelders sal dit koester en dit, wanneer verlange na dié verlede en mense knaag, lees en herkou. En onthou.
Oor meer as ‘n halfeeu het Jan sy liefde met twee wêrelde gedeel. Die Strandveld en Namibië, daarom is beide vervat in die bundel. Die boek adem sy herinneringe en verbondenheid aan die streke van sy hart.
In die bundel wou die ou tawiep solo vlieg. En ek gun hom dit. Ontkussing jou drome, Jan. Die bekbreek van baie seisoene is vir jou verby – jou eie woorde. Ek sal agter die duin uit die wind uit vir jou wag. Vir die vlugroep van die tawiep.
SD Fourie