Wie oe het

Verlede week het ek die arme bloedjies jammer gekry, maar daar is ook ‘n ander kant. En daardie kant het ook nog ‘n ander kant.

Vrydagaande is skemerkelkietyd.  Ons sit om die huis se toonbank asof in ‘n kroeg, elkeen met sy kelkie van keuse. Een het ‘n wynglas met wyn en ‘n bondel ys. Die ander het ‘n highball glas met wodka en water (jighh!), die ander met rietspiritus, Pepsi en water. Nog een het wodka en Kola Tonic in ‘n Collins glas, terwyl die ander Collins gevul is met Kola Tonic, suurlemoenskyfies en water. So hang ons aan die toonbank en ons grawe die verlede op. Meer spesifiek die skooldae en onderwysers. Ons almal was in dieselfde skool en ons haak almal vas by die standerd  een-juffrou. Sy het nie ‘n naam nie en tot hede dese onthou ek nognie wie sy was nie. Ons doen wiskunde en koes vir die filt-beplakte houtblokke waarmee die swartbord skoongevee is. Die manne steel die houtwerkonderwyser se sigarette uit sy kantoortjie en staan en rook dit sommer net daar onder die geraas van skawe en sae van hul mede-skoliere wie dit erns het met voeë en tappenne. In die naaldwerkklas het ons aandklere gemaak – van brokaat, satyn en crépe, want dit is sover as wat die keuse van materiaal ons toegelaat het. Myne was ‘n minirok van wit brokaat met silwer rose oraloor en dit het ek na my matriekafskeid gedra met blinkwit kouse en silwer skoene en handsakkie.  Netjies. Ons het nagklere gemaak van dacron, myne was babapienk  shortiepajamas. En die verpligte borduurwerk op die skouerstuk was wit blomtakkies in fyn satynsteek.  Ure se werk met uitgeflansde velletjies aan die linkerhandse wysvinger as bewys van  my toewyding. Selfs hoedemakery was deel van die naaldwerk kurrikulum en alhoewel dit my nie toegeval het nie, kon ek nogtans in verwondering toekyk terwyl my ma ons hoede gemaak het.  Daar was vir my ‘n groot bekoring in die vorm van ‘n stuk nat bokram (buckram) oor die houtvorm wat die volgende dag as die stywe bol-basis van ‘n hoed daar afgehaal is.  Die hele proses om die rand aan te heg en dit oor te trek met materiaal  het my vasgenael gehou aan die oorkant van ons eetkamertafel.  Die lap is gedrapeer en plek-plek met fyn stekies vasgevang. Of dit is sommer so na gedagte bymekaargetrek en vasgewerk, amper soos vryhand smokwerk. En daar was altyd ‘n fokuspunt: blomme van dieselfde lap of ‘n mooi groot borsspeld. Die maak van die blomme was op sigself  vir my ‘n proses om oopmond te aanskou.

Met al hierdie gesels, kom ons op die onderwerp van die gebrek aan waarneming by kinders in dit wat hulle ouers doen.  Of dan, die behoefte om waar te neem.  Dit is asof kinders nie meer belangstel om te kyk wat Ma in die naaldwerkkamer doen of  hoe Pa ‘n stuk diefwering in die garage aan mekaar sweis nie; hoe Ma ‘n gereg maak of koek bak, of hoe Pa tuinmaak en uiteindelik die vrieskas volpak met die opbrengs. Daar is geen nuuskierigheid by hulle te bespeur, met die oog daarop om dit ook eendag te kan doen nie.  Maar eendag, op ‘n dag, roep die gene in die bloed – of die winkelpryse - hulle tot selfdoening.  Ek neem dit by ons eie kinders waar.  “Pa, ek wil nou....hoe moet ek....”  of  “Ma het my nooit gewys nie; niemand sê my mos nooit niks nie.”  Feit is, toe hulle moes waarneem, het hulle ander, waardelose prioriteite nagejaag.  Wou hulle nie ophou met oumensgoed nie, min wetend dat lewensvaardighede  jou eintlik niks meer kos as belangstelling nie. ‘n Mens se oë bly jou beste leermeesters.  Ons neem nie meer waar nie; nie volwassenes nie en daarom ook nie meer ons kinders nie.  Ons gebruik nie meer al die spieëltjies wat omrede van ons eie veiligheid aan ons voertuie aangebring is nie; ons wys ons kinders nie meer die stringetjie miere in die tuin wat hulle kos aandra huistoe nie; ook nie hoe om saadjies te saai en te soek vir die eerste teken van groen bo die grond omdat hulle dit gereeld natgemaak het nie. As onsself toe-oë deur die lewe gaan, hoe gaan ons ons kinders se oë oophou?

Carine Badenhorst