As ‘n mens mooi daaroor nadink, is ons almal eintlik maar net ‘n klomp narre.
So sit ek half sinies en dink onderwyl my kleindogter en haar mede-maatjies van die kleuterskool hulle passies op die verhoog uithaal en hulle resitasies voordra. Laas jaar het haar moed haar nog begewe en het haar aand in traantjies geëindig, maar hierdie jaar staan sy daar met 'n guitige selfversekerdheid. En sy dans met oorgawe dit wat sy geleer het, terwyl die andertjies rondom haar nog onseker rondtrap. Ek was ook so oud soos sy toe ek die eerste keer op die verhoog moes optree. Daar was nie speelgroepies, kleuterskole of voorbereidingskole nie, maar ek het alles agter my Sub A sussie aan nageboots: die Sus en Daan leesboek, die somme op die telraam en natuurlik al die liedjies wat hulle in die skool geleer het. Drie dae voor die skoolkonsert, het almal in die kerksaal geoefen, net om gewoond te raak aan die verhoog en die groter spasie. Op daardie stadium was die skoolsaal niks meer as 'n dubbel grootte klaskamer tussen die Standerd Twee en Standerd Vier klasse nie. Dit het sommer ook gedien as personeelkamer. Daar was nie eens 'n namaaksel van 'n verhoog nie en die stoele wat daar was, het aan die onderwysers behoort. Al wat kind was, moes kruisbeen op die vloer sit.
Ek is seker dat wanneer 'n mens tydens 'n saal byeenkoms die span kinders van die skuinskant afgekyk het, hulle koppe sou gelyk het soos 'n Mexikaanse golf wat gevries het. Die ou kleintjies heel voor se nekkies ongemaklik agteroor geknak soos die van 'n amoreuse mannetjies kropduiwe en namate die rye verder van die aan-die-woord skoolhoof af agtertoe strek, normaliseer die boë van die kinders se nekke tot doer agter waar die matrieks hulle status in die normale houding van nek en kop kan geniet. Met die totale ontoereikendheid van die skoolsaaltjie as konsert-ouditorium, bevind die Sub A klassie hulle dan agter die swaar, rooi fluweel gordyne van die kerksaal op die Maandagmiddag voor die skoolkonsert. Ek sit en voete swaai in die eerste ry onderkant die verhoog, want ek het saam getrippel van die huis af. En ek sing saam, noot vir noot, versie na versie. “If you go out in the bush today, be sure of a big surprise…”
Op die verhoog hou 'n klompie teddiebere kwansuis piekniek. Daarna is dit die duiwe en ek sing mee “Hoor hoe die tortel roep…” Lang storie kort, eindig ek saam met die skoolkinders op die verhoog met my eie solo. Vreesloos en glad nie geïntimideer deur 'n donker see van gesigte aan my voete nie. Sedertdien het geen podium, verhoog of mikrofoon my nog afgeskrik nie. Ek is seker van nature 'n nar. Maar gelukkig is ek nie alleen nie. Die meeste mense – indien nie alle mense nie – is tog maar narre. Sommiges dalk net vir 'n vlietende oomblik, terwyl ander hulle, bewustelik of onbewustelik, toe kokon in die bont pak klere, rooineus en windverwaaide, goudgeel hare. Niemand kan daarop roem dat hy of sy altyd net hulle suiwer self is nie. Ons moet soms voorgee; die samelewing vereis 'n sekere protokol wanneer ons in die openbaar verskyn. Soos in die natuur moet ons inval by die rangorde; by die huis, in die werkplek en by samekomste en vergaderings. Dis egter nie te sê dat ons inskiklikheid altyd 'n teken van aanvaarding van daardie rangorde is nie. Ons het mos maskers om oor ons gesigte te trek; nie soseer om die gesigte verdoesel nie, maar om die aandag weg te lei van die ware gevoelens wat ons oë bloot lê. Die mens is 'n natuurlike toneelspeler; ons almal is bekroonde akteurs. Ons vertolk ons rolle volgens die verhoog waarop ons staan en onderdruk die oer-instinkte ter wille van opvoeding, respek en afgerondheid. Ek moet my andersins spontane, luide lag verander na gelang van die gedekte tafel waarby ek sit. As ek so kwaad is dat ek die borde op my rak soos op 'n Griekse troue wil stukkend gooi, stap ek liewer uit en gaan sit buite in die wind. Terwille van ander, nie terwille van myself nie. Want ek moet toneelspeel; ek is die nar.
Carine Badenhorst