Ons is in die middel van die sestien dae aktivisme vir die veldtog teen mishandeling van vroue en kinders, maar wie is die aktiewe deelnemers en hoe lyk daardie deelname? Gaan dit enige uitwerking hê op die ernstige oortreders en wie is die ernstige oortreders? Dit is ‘n aaklige besigheid wat besig om in ‘n horribale, wêreldwye pandemie te ontwikkel. Drie gevalle van kindermishandeling, wat weggooi in ‘n put, fatale mishandeling deur ‘n ma en ‘n ouma en diefstal met die oog op handeldryf insluit, alles binne die halfuur bestek van ‘n halfuur se nuusprogram, is net te erg. En dan is dit nie eens die punt van die ysberg nie, dit is die ysmolekule wat aan die verste punt van daardie tip vaskleef, want dit wat die nuus haal, is net enkele voorbeelde van wat agter die skerms aangaan. Veral waar kinders die teikens raak van volwassenes se frustrasies, is daar altyd iemand wat die oortreder wil beskerm. En frustrasie – so kom dit vir my voor – kon in al drie die scenarios ‘n rol gespeel het en ‘n lafaard sal altyd die sagste teiken uitkies om sy frustrasie op te lug.
Verlede week was daar op Facebook ‘n waarskuwing deur die Struisbaai Gemeenskaps Polisiëring Forum geplaas, na aanleiding van ‘n kennisgewing vanaf SAPD Napier, oor ‘n rapportering van intensie tot mensehandel op die plaas Skietpad in die Napier distrik. Een bruin en drie swart mans in ‘n wit Toyota sedan met ‘n Kaapse registrasienommer en donker vensters het die plaas se werkers genader met ‘n aanbod om kinders by hulle te koop. Die mans het almal goue ringe en kettings gedra en ook baie goud in hulle tande gehad. (Sersant Jafta van Napier het dit telefonies aan my bevestig). Onmiddelik vat my kop spoor na die mense wat so aan ons deure klop op soek na goud om te koop. Dit mag ‘n verregaande assosiasie wees, of dit mag dalk nie. Wie sal weet of hulle nie eintlik soek vir kinders nie? Al beteken dit dan dat ons in ‘n wantrouige nasie moet verander, bly sestien dae van aktivisme nie genoeg nie. Ons moet ons maar instel om elke dag aktief op te tree deur sulke stories te verkondig sover as wat ons gaan, dit in die plek van skinder van ons naastes te stel. Net soos met skinder, gaan mense dit glo, of hulle gaan dit afmaak as sinneloos. Praat! Dit is die enigste pro-aktiewe optrede wat gaan werk.
Daar is egter ‘n ander stil, sluipende oortreder: die emosionele mishandelaar, die manlike feeks. Dit is die een wat geen erkenning gee aan die behoeftes van sy lewensmaat nie; wat selfbejammering gebruik om die maat te manipuleer; wat gedurig kritiek lewer teen dit wat die vrou doen en opmerkings en “grappe” oor haar maak. Hierdie teisteraar se stemtoon is gedurig snedig of sarkasties wanneer hulle alleen is; hy skuif die slagoffer uit, of ignoreer haar; hy neem geen besluite rakende die gesin nie, maar is vining om te verwyt as dinge nie na sy sin verloop nie. Hy leef net vir homself en sien sy lewensmaat as ‘n verlenging van sy eie persoonlikheid in plaas daarvan om haar te erken as ‘n individu met eie gedagtes, gevoelens, opinies en optrede. Die uitwerking van hierdie tipe molestering is dat die slagoffer sosiaal terugtrek, omdat sy haar selfwaarde en selfvertroue verloor. Weens gedurige negatiewe aanvalle raak sy onseker, skaam, en haar voortvloeiende besluiteloosheid kan dan lei tot passiwiteit. Omdat so ‘n mens se energie getap word in ‘n poging om die situasie innerlik te beveg, lei dit tot apatie en depressie; die chaotiese gedagtes breek die liggaam en sy sisteme stuk-stuk af. Daar is geen sigbare blou kolle of wurgmerke nie; dus geen bewyse om ‘n klag mee te gaan lê nie. Emosionele mishandeling is nie vervolgbaar nie. Miskien behandelbaar, met die konsent van die oortreder. Maar wys vir my één manlike feeks wat bereid is om sy foute te erken. Die oplossing vir emosionele mishandeling is nog nie gevind nie, en tog is daar miljoene vroue wat in stilte verneder en afgebreek word. Sestien dae doen aan hulle saligheid net mooi niks. Dalk kan ‘n baksteen of ‘n goeie, sterk plank iets doen!?
Carine Badenhorst