Advent die aftel na Lig

Die dag van 1 Desember het ‘n ander ambience aan hom as al die vorige dae van die jaar. Dit is die maand van skole wat sluit, vakansie, bonusse en natuurlik Kersfees.  Daar hang ‘n afwagting in die lug. Selfs al is daar geen vooruitsig om van die huis af weg te gaan nie, bly die gevoel van afwagting steeds vaskleef.  Kom dit van ons kinderdae af, toe ons opgewonde gemaak is oor Kersfees, Vader Krismis en geskenke? 

Advent – wat “koms” beteken – is ‘n tyd van afwagting op die viering van Kersfees. In Westerse kerke lui dit ‘n nuwe liturgiese jaar in en strek oor die vier Sondae wat Kersdag voorafgaan.  Dit is dus eintlik ‘n feestyd ter voorbereiding van Kersdag en die verlossingsverhaal wat daarop volg. Hierdie gebruik strek sover terug as die sewende eeu.  Dit was die tye van barbarisme, die totstandkoming van die Islamitiese geloof en die gevolglike  inname van Jerusalem. Maar dit was ook die tyd toe kerke vir die eerste keer met orrels toegerus was en die eerste kerkklokke hul roepstemme oor die dorpe en vlaktes uitgebeier het.  Vir die sendelinge was geen reis te ver of te gevaarlik nie.  Die Fees van Advent het dus ‘n nuwe welluidendheid gekry.

Saam daarmee het die gebruik van ‘n Advent-kalender gekom.  Vier en twintig kaartjies is iewers in die huis saam gegroepeer en daar is elke dag vanaf die eerste Desember ‘n kaartjie oopgemaak.  Die inhoud van die kaartjies het gewissel tussen  die verloop van Josef en Maria se reis tot en met die geboorte van Jesus, ‘n versie van’n Kersliedjie wat die gesin dan saam gesing het, spesiale barmhartigheidswerkies vir kinders en koekies om te eet. Die hoofdoel van die kalender is uiteraard maar net om kinders te laat aftel tot by Oukersaand.  Die ware instelling van Advent het, soos die meeste ander geestelike simbole vervaag tot ‘n wêreldse speletjie.  In Protestantse kerke word Advent Sondae soms nog gebruik vir die regte redes.  Die Koms wat gevier word, is drieledig:  die koms van die Verlosser soos alreeds deur profete en Johannes die Dopervoorspel, die koms van Jesus in die harte van gelowiges  en die Wederkoms. Baie kerke gebruik ‘n Adventkrans  as simbool tydens hierdie tyd van afwagting. Dit raak ook toenemend gewild in huishoudings, in die plek van, of saam met die Advent kalender.  Die krans word van groen loof gemaak, met vier kerse buite-om en een kers in die middel.  Die groen sirkel van die krans dui op die nimmereindigende en altyd lewende liefde van God. Met die weeklikse aansteek van ‘n bykomende kers word die lig elke keer sterker, soos die Lig van die Wêreld vir die gelowige.

Histories het ‘n Adventkrans bestaan uit drie donkerpers, een ligroos en ‘n groot wit kers.  In sommige kerke is die pers met donkerblou of helderblou vervang.  Die ligroos kers is die vreugdekers of die Maria-kers genoem en word op die derde of vierde Sondag aangesteek. Die grootste kers, die witte in die middel van die krans word elke Sondag saam met die ander aangesteek en is simbolies van die Ewige Lig van liefde, vreugde, hoop en vrede.  So donker soos wat dit vandag letterlik en figuurlik  is, is dit die kers  wat ons sommer heeljaar deur elke aand moet aansteek en heelnag moet  laat brand. ‘n Mens het soms iets tasbaars nodig om jou te herinner dat jy nie nodig het om deur die donkerte van ‘n gewelddadige en onregverdige wêreld en die ineenstorting van  ‘n elektrisiteit netwerk oorweldig hoef te word nie.

Dit is so ‘n natuurlike instelling om voorraad te neem van ons kruidenierskaste, om  seker te maak al die voorbereidings vir die Kersmaal is getref,  ‘n pen, optelmasjientjie  en die begrotingsboekie te gryp om te kyk of ons begroting nog in lyn is  en  om  die inkopie- en geskenklysies af te merk in die aanloop tot Kersfees.  Daarvoor het ons nie juis lig nodig nie; dit kom so half outomaties,  soos elke ander maand van die jaar.  Maar, o wee, met al die opwinding verby  en die kruidenierskas en yskas se rakke leeg,  is die kanse dalk goed dat die donkerte ons oorval.  Laat ons dus maar erns maak met Adventtyd sodat die Lig vir ons kan aanhou brand.

 Carine Badenhorst