Wat gedenk ons dan tog?

Wat gedenk ons dan tog?

Gansbaai Courant

In hierdie genre moet ‘n skrywer liefs nie te religieus of te polities wees nie,  maar hoe op dees aarde vermag ‘n mens dit op 16 Desember 2014?  Of altemit op enige publieke vakansiedag, want was dit nie vir godsdiens of politiek nie, was hulle nie daar nie. Dus, met apologie aan my redakteur, sal ek dit probeer lig hou, maar die antwoord op wat om te gedenk op hierdie dag, bly my ontwyk.

Tydens my skooljare het al wat lands-leerling was, hetsy  of hulle van neus en hare verskil, gesing:  “Uit die blou van ons hemel...” en met ons oë op die landsvlag wat hemelwaarts hys: “Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra...” In die bloedige twaalfuur-son, op die skool se paradegrond,  het ons met ‘n sedige gewydheid op die laaste skooldag voor 16 Desember eer gebring aan die dag. Geen onderwyser of ouer wat in die skadu van die stoep se onderdak op stoele gesit het, het simpatie gehad met ‘n smoorwarm, donker serge skoolrok - drie maal diep geplooi voor en agter – onder ‘n skoolbaadjie en ‘n das wat styf onder die wit boordjiehemp vasgetrek was  nie.  Die dominee het sy preek vir die Geloftedag kerkdiens kom oefen. Die hele toetie, geloofsbelydenis, die lot. Daar was ooms in uniforms: ‘n lid van die Polisie, iemand van die Kommando,  enigeen in die klein gemeenskap van Napier wat nog kon pas in die tenue uit die oorlogskis op die solder. En almal wou iets sê. Dié wie se uniforms te knap was, het vinnig gepraat, maar hoe beter die uitset gepas het, hoe langer was die toespraak. 

Nee, hulle had geen medelye vir die somersweet wat straaltjies teen jou binnebene afgeloop het of kom damlê het teen die reeds oorversadigde boordjie wat om jou nek gewurg het nie. Tot ‘n bloedarmoedige seun in die kadetkorps die res van die perfekte formasie uitmekaar  geval, of ‘n premenstruele dogter soos ‘n klaar gespeelde konsertina in mekaar gevou het nie. Die afleiding was van korte duur, want Meneer het vinnig vir Dokter – wat op die skoolkomitee gedien het, hoe dan anders? -  opgekommandeer en sy noodhulpspan uit die personeel bymekaargeroep om die verfloude te verwyder, voordat die verrigtinge hervat het. 

Jy het maar daar gestaan  en dink aan die naderende vakansiedag, planne in jou kop gemaak van hoe jy dit ten beste kon benut. Maar dit het niemand tog geweet nie. Terwyl die sweet geloop het,  het jy maar op rus en op aandag gestaan, na gelang van wat die seremonie van jou verwag het. Al het jy aan die einde van die verrigtinge nie ‘n kwart  van al die toesprake onthou nie, het jy  sonder enige twyfel geweet dat jy deel was van die herdenking van ‘n Godsbelofte van baie lank gelede. 

Wanneer die hoogmiddag oestyd-son van die Overberg jou elke jaar vir twaalf jaar lank in ‘n sonsteek in gebak het, dan het dit onthou in jou ingebrand. Wat jy egter nie van geweet het nie, was dat daar binne die verloop van jou twaalf jare van eerbiediging, in 1961, ook op 16 Desember, ‘n nuwe militêre mag gebore was; ‘n gebeurtenis wat seker net aan Nasionale Intelligensie bekend was. ‘n Mag wat die grense van jou bestaan sou verskuif soos ‘n vars breuk in die aardkors na ‘n hewige aardbewing.  Die klein begin van daardie mag het soos ‘n tsunami  dit waaraan jy geglo het en vasgehou het, platgevee. ‘n Nuwe vlag is gehys en16 Desember het Versoeningsdag geraak. Dit is hier waar ek vashaak.

My Tesourus verklaar  “versoening” as volg : “s.nw. vrede, wêreldvrede, godsvrede, innerlike vrede, pais en vrede, pais en vree, skynvrede, vredestyd, vredesband, vreedsaamheid, vredeliewendheid, harmonie, eensgesindheid, eenstemmig-heid, vriendskap, vriendskaplikheid, koëksistensie, ko-eksis-tensie, eendrag, toenadering, pasifisme, rustigheid, berusting, kalmte, kalmheid, sereniteit, stilte”  Elkeen kan vir homself ‘n toepaslike sinoniem uit hierdie lys kies, maar ek kan net volstaan by één, naamlik “godsvrede” met ‘n hoofletter “G.” Dit is die alfa en omega van my herdenking op 16 Desember: dat ek my vlag kan hys vir  Hom wat opregte vrede in my hart gee. Hy is die enigste met wie ek in versoening  moet leef.    

Carine Badenhorst

Wat gedenk ons dan tog?

Carine Badenhorst

Gansbaai Courant provides the Gansbaai community with the latest in news and interesting stories about and around the area.

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Embracing True Happiness: Finding Peace Within

Embracing True Happiness: Finding Peace Within

Can you experience pure happiness in this moment, without any external factors affecting it?

Jaarlikse Ope-dag Bonanza Visvangkompetisie

Jaarlikse Ope-dag Bonanza Visvangkompetisie

Die boothengelkompetisie van 30 April 2024 wat deur die bestuur van die Birkenhead Boothengelklub gereël is, verskil so 'ietwat' van die klub se gewone maandelikse kompetisies.

Gans-Berg Nuus / News
Empowering Entrepreneurs with Grootbos Foundation Mentorship

Empowering Entrepreneurs with Grootbos Foundation Mentorship

Exciting update from our Entrepreneurship Programme and Enterprise Development at Grootbos Foundation!

Grootbos Foundation
Transform Your Business Space with Paint

Transform Your Business Space with Paint

Paint plays a pivotal role in setting the tone and ambience of commercial spaces, from cosy cafes to bustling stores and elegant restaurants.

Join Us in Protecting Pearly Beach!

Join Us in Protecting Pearly Beach!

The Pearly Beach Ratepayers Association works to keep Pearly Beach beautiful and safe.

Save the Date! 25 May 2024: Autumn/Winter Fashion Show

Save the Date! 25 May 2024: Autumn/Winter Fashion Show

Join us for a special Autumn/Winter Fashion Show on 25 May 2024, from 15:00 - 18:00!

Komtessa Boutique
See All Articles