Wat gedenk ons dan tog?

Wat gedenk ons dan tog?

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

In hierdie genre moet ‘n skrywer liefs nie te religieus of te polities wees nie,  maar hoe op dees aarde vermag ‘n mens dit op 16 Desember 2014?  Of altemit op enige publieke vakansiedag, want was dit nie vir godsdiens of politiek nie, was hulle nie daar nie. Dus, met apologie aan my redakteur, sal ek dit probeer lig hou, maar die antwoord op wat om te gedenk op hierdie dag, bly my ontwyk.

Tydens my skooljare het al wat lands-leerling was, hetsy  of hulle van neus en hare verskil, gesing:  “Uit die blou van ons hemel...” en met ons oë op die landsvlag wat hemelwaarts hys: “Nooit hoef jou kinders wat trou is te vra...” In die bloedige twaalfuur-son, op die skool se paradegrond,  het ons met ‘n sedige gewydheid op die laaste skooldag voor 16 Desember eer gebring aan die dag. Geen onderwyser of ouer wat in die skadu van die stoep se onderdak op stoele gesit het, het simpatie gehad met ‘n smoorwarm, donker serge skoolrok - drie maal diep geplooi voor en agter – onder ‘n skoolbaadjie en ‘n das wat styf onder die wit boordjiehemp vasgetrek was  nie.  Die dominee het sy preek vir die Geloftedag kerkdiens kom oefen. Die hele toetie, geloofsbelydenis, die lot. Daar was ooms in uniforms: ‘n lid van die Polisie, iemand van die Kommando,  enigeen in die klein gemeenskap van Napier wat nog kon pas in die tenue uit die oorlogskis op die solder. En almal wou iets sê. Dié wie se uniforms te knap was, het vinnig gepraat, maar hoe beter die uitset gepas het, hoe langer was die toespraak. 

Nee, hulle had geen medelye vir die somersweet wat straaltjies teen jou binnebene afgeloop het of kom damlê het teen die reeds oorversadigde boordjie wat om jou nek gewurg het nie. Tot ‘n bloedarmoedige seun in die kadetkorps die res van die perfekte formasie uitmekaar  geval, of ‘n premenstruele dogter soos ‘n klaar gespeelde konsertina in mekaar gevou het nie. Die afleiding was van korte duur, want Meneer het vinnig vir Dokter – wat op die skoolkomitee gedien het, hoe dan anders? -  opgekommandeer en sy noodhulpspan uit die personeel bymekaargeroep om die verfloude te verwyder, voordat die verrigtinge hervat het. 

Jy het maar daar gestaan  en dink aan die naderende vakansiedag, planne in jou kop gemaak van hoe jy dit ten beste kon benut. Maar dit het niemand tog geweet nie. Terwyl die sweet geloop het,  het jy maar op rus en op aandag gestaan, na gelang van wat die seremonie van jou verwag het. Al het jy aan die einde van die verrigtinge nie ‘n kwart  van al die toesprake onthou nie, het jy  sonder enige twyfel geweet dat jy deel was van die herdenking van ‘n Godsbelofte van baie lank gelede. 

Wanneer die hoogmiddag oestyd-son van die Overberg jou elke jaar vir twaalf jaar lank in ‘n sonsteek in gebak het, dan het dit onthou in jou ingebrand. Wat jy egter nie van geweet het nie, was dat daar binne die verloop van jou twaalf jare van eerbiediging, in 1961, ook op 16 Desember, ‘n nuwe militêre mag gebore was; ‘n gebeurtenis wat seker net aan Nasionale Intelligensie bekend was. ‘n Mag wat die grense van jou bestaan sou verskuif soos ‘n vars breuk in die aardkors na ‘n hewige aardbewing.  Die klein begin van daardie mag het soos ‘n tsunami  dit waaraan jy geglo het en vasgehou het, platgevee. ‘n Nuwe vlag is gehys en16 Desember het Versoeningsdag geraak. Dit is hier waar ek vashaak.

My Tesourus verklaar  “versoening” as volg : “s.nw. vrede, wêreldvrede, godsvrede, innerlike vrede, pais en vrede, pais en vree, skynvrede, vredestyd, vredesband, vreedsaamheid, vredeliewendheid, harmonie, eensgesindheid, eenstemmig-heid, vriendskap, vriendskaplikheid, koëksistensie, ko-eksis-tensie, eendrag, toenadering, pasifisme, rustigheid, berusting, kalmte, kalmheid, sereniteit, stilte”  Elkeen kan vir homself ‘n toepaslike sinoniem uit hierdie lys kies, maar ek kan net volstaan by één, naamlik “godsvrede” met ‘n hoofletter “G.” Dit is die alfa en omega van my herdenking op 16 Desember: dat ek my vlag kan hys vir  Hom wat opregte vrede in my hart gee. Hy is die enigste met wie ek in versoening  moet leef.    

Carine Badenhorst

Wat gedenk ons dan tog?

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Simple Beauty in Bloom

Simple Beauty in Bloom

Our nature shot is of Petalacte coronata, which was photographed by our conservation team this week.

Grootbos Foundation
Overstrand Tourism Diary: 6 - 10 May 2026

Overstrand Tourism Diary: 6 - 10 May 2026

Here’s the latest Overstrand Tourism Diary.

Gansbaai Tourism
Renovation Project Progress by Combined Engineering Solutions (CES)

Renovation Project Progress by Combined Engineering Solutions (CES)

Since April 2026, Combined Engineering Solutions (CES) has been hard at work on an ongoing renovation project for an existing home...

Beautiful Baskets Now in Store

Beautiful Baskets Now in Store

At Koekeloer Gift Shop, you’ll find a stunning selection of beautifully crafted baskets ready to suit any need.

Tennisnuus - Wilson Cavaliers Junior

Tennisnuus - Wilson Cavaliers Junior

Baie geluk, ons is ongelooflik trots op julle!

Laerskool Gansbaai
The Courage to Be Yourself

The Courage to Be Yourself

In a world that rewards conformity, it takes courage to remain yourself.

See All Articles