Die nuwe Kersfees

 “Ek is so bly hulle het krismisliedjies uit die winkels gehou hierdie jaar.  Dit pas net nie by al die gekopery nie.”  Dis my vriendin wat so praat. Haar gehoor is nie heeltemal reg nie. Of haar woordkeuse verkeerd, want  die liedjies wat ek hoor is so krismis soos wat kome kan. Engels, ontneem van die Jesus-element,  ver verwyder van die boodkskap van die Geboorte, die ster, die wyse manne en skaapwagters.  Maar dis steeds krismisliedjies. Dit bewoord net ‘n Kerfees met klokkies en sneeu en Santa met sy bokke.

Hoe ouer die wéreld raak, hoe  meer lewensmoeg  raak hy van nuwe tegnologieë  wat sy uitspansel besoedel,  hoe verder dryf hy weg in die duisternis van ‘n  moreel-sedelike waardestelsel.  Ons wêreld  is immers al tweeduisend en veertien jaar oud.  (Die planeet Aarde is egter baie ouer) Ons werk dit uit deur die jaar van Christus se geboorte as die Jaar Een te aanvaar;  dus koppel ons die geleentheid  direk aan ons eie bestaan.  Ons verander jaarliks die jaargetalle op almanakke  en ons skryf dit daagliks op dokumente om dit wettig te maak. Die jaargetalle van ons geboortes is op ons identieitsdokumente as bewys van ons menswees.  Dit is so alledaags  dat ons eintlik onbewustelik daarmee omgaan.  Maar in retrospeksie moet ons erken dat die geboorte van Christus tog nie so ‘n terloopse, onbenullige gebeurtenis was nie. 

Toe Keiser Konstantyn in die vierde eeu nC die vervolging van Christen beeïndig het  met die verklaring van die kerk van Christus as staatskerk,  is daar indirek beslag gegee aan die vieringe van Kersfees. Die romeinse staat was dus in beheer van die Babiloniese afgods-godsdiens sowel as die Christelike kerk.  Baie van die Babiloniese tempels is deur Christene oorgeneem en hulle het ook geld van die staat ontvang.  Om die guns van die Keiser te behou, het die Christene baie van die heidense gebruike ver-Christen. Dit het die fees van Saturnalia in Desember ingesluit.  Die oogmerk van die Christene was egter om die fees te gebruik om siele vir Christus te wen en hulle was ongekend suksesvol daarin. Pous Julius I het in 350nC die laaste dag van die Saturnalia-fees, naamlik 25 Desember, as amptelike Christusfees verklaar.  Met die gepaartgaande Christelike karakter het hierdie dag  as viering van die geboorte dag van Christus uitgekring. Die gee van geskenke is ontleen aan die geskenke wat die gepeupel aan die Keiser gegee het.  Die Roomse Kerk het dit toe verander in ‘n Christelike instelling na aanleiding van Biskop Nikolaas wat geskenke aan die armes uitgedeel het.  Hierdie Nikolaas-gebruik het in later tye na Europa oorgewaai en is verbind met die heilige Sint Nikolaas, wat sommer Kersvader geword het.

Die viering van Kersfees as herdenkingsdag van Christus se geboorte het deur die eeue hewinge teenkanting uitgelok, veral tydens die Puriteinse Rewolusie.  Daar is aangevoer dat daar nêrens, nie in Bybelse of nie-Bybelse geskrifte, enige verwysing opgespoor kon word dat Christus wel op 25 Desember gebore is nie. Jesus het ook nêrens ‘n opdrag gegee dat Sy geboorte herdenk moes word nie;  sy kruisiging en opstanding wel.  In die sewentiende eeu het die Puriste in Amerika, Engeland en Nederland ‘n hewige oorlog gevoer teen die viering van Kersfees, omdat alles daar rondom terug verwys kon word na heidense gebruike.  Tot vandag toe word Kersfees as Christusfees aangeval en verskuif die klem na ‘n familiefees, wat heeltemal aanvaarbaar is.

Ek kyk só daarna:  moet  ek,  net omdat Donderdag  vernoem is na die god Thor, elke Donderdag  onder die invloed van slaappille, die dag deurslaap sodat ek my nie blootstel aan die naam van ‘n heidense god nie?  Net so gaan ek myself nie die vreugde en vervulling van Kersfees ontneem omdat dit gekoppel word aan heidense gebruike nie.  Ek soek nog die Afrikaanse Halleluja Kersliedjies in winkels.  Ek wil saam met my familietjie rondom die groot tafel sit en Sy gawes met dankbaarheid geniet.  Ek wil die kleintjies se opgewonde handjies sien geskenke oopmaak met ‘n gebed dat hulle, wanneer hulle eendag verstaan, hulle harte met dieselfde opgewondenheid vir Jesus sal gee.  En die liggies aan my Kersboom moet saans brand, want die Lig van die Wêreld is gebore op ‘n dag wat nie hoef saak te maak nie.

Carine Badenhorst