Kintsukuroi 2015

Dit is seker normaal vir enige mens om rondom Oujaarsdag terug te kyk op wat hulle geskroei, geslyp en laat blom het in die jaar wat verby is. Die nostalgie van die jaareinde het my genoop om in die digitale argiewe te gaan delf om die herinneringe te gaan ophaal oor hoe Kersfees en Oujaar tien jaar gelede gelyk het. Nie sonder rede nie, want hierdie jaar is die eerste jaar dat ek en Oupa geen kind of kraai op die werf het nie. Die meeste mense ondervind hierdie leemte baie vroeër in hulle lewens, maar met ons het dit anders gewerk. Ten goede of ten kwade is nie vir ons tersake nie – vir ander mense dalk wel – want ons aanvaar dat elke tree, elke handeling, elke woord, elke asemteug vir die mens vooruit bestem is deur ‘n hoër gesag. Soos dit was, so moes dit wees en ons het die beste daarvan probeer maak volgens ons oortuigings.  Ons leë nes sindroom het behels dat ons ‘n nuwe strategie moes uitwerk vir die toekoms. Ek en Oupa. Alleen.  Dalk is dit wat my  gedryf het na tien jaar terug toe al die kinders nog kinders in die huis was.  Elkeen  al grootmens volgens hul eie beoordeling, elkeen met ‘n geliefde, wat vandag die man en vrou van hulle kinders is.

Die fotos op my rekenaarskerm neem  my terug na die tyd toe my energie onuitputlik was.  Die voorstoep van ons Kleinbaai-huis is getooi in liggies asof dit meeding met ‘n pasassierskip op die donker horison.   

Ek het ‘n reël ingestel dat ons Kersgeskenke oopmaak om een na middernag van 24 Desember.  Die wat vooraf wou gaan slaap, moes dit maar doen, maar om middernag is hulle wakkergemaak.  So sit ons op die Ou Kersaand foto op die stoep, elkeen kop omlaag besig om papiere van presentjies af te skeur.  Hier en daar is ‘n kamerjas en ‘n slaaphemp sigbaar.  Die Kers-ete se tafel is dienlik versier en kreun van kosse.  Waar het ek al die tyd en energie gekry om alles voor te berei?  Ek het daardie tyd in die haaikykbedryf gewerk en daardie tyd van die jaar  het ek  baie dae nie eens geweet waar my huis was nie, al was dit net oorkant die straat.

Oujaarsdagaand van daardie jaar is ons agterplaas omskep in ‘n kampeerplek. Dit was ‘n jolige klomp bymekaar rondom hulle eie vuur, met hulle eie musiek en joligheid tot diep in die nuwe jaar. Hulle portuur was toe al uitgegroei vir Die Stal se oorbevolking op so ‘n aand. Plek vir dans sou daar nie wees nie, die drank was goedkoper by die bottel en hulle voertuie was veilig geparkeer.  Ons, die ouer garde, het nie met hulle ingemeng nie, want ons het ons eie vieringe aan die voorkant van die huis gehad. So tussen die braaiery deur het ons op die stoep gedans en gekuier tot kort voor die wees hoenderhaantjie iewers in die buurt gekraai het. (Eintlik het die onnatuurlike eb en vloed, die uitwerking van Phuket se tsunami, ons bed toe gejaag) Ons het die uithouvermoë  van  koggelramme gehad; ons kon net aanhou en aanhou. Wat my egter tref van hierdie terugblik in tyd is:  ons almal het tien jaar ouer geword.  Die kinders het kinders.  My en Oupa se energie het deurgesyg soos wei uit wrongel; dun kasaterwater wat net goed genoeg is vir ‘n varkhok.  Die lus is nog daar vir baie dinge, maar die lyf en verstand het verstadig. 

Ons het darem één ding wyser geword;  oor één ding in ons strategiese beplanning saamgestem, naamlik dat wanneer ons terugdink,  dit nie oor Malema en Eskom en gister se pyn in die heup gaan wees nie, maar oor die genades en vreugdes van die verlede.  Ons sal selfs die komiese gaan haal uit die foute van die verlede en daaroor lag. Die Japannese gebruik Kintsukuroi, ‘n kunsvorm  om kosbare erdeware, glas en porselein met egte goud reg te maak. Hulle glo daardie stuk is dan meer waardevol as vantevore.  Ons voornemens is om in 2015 hoog bokant  inflasie, politiek en misdaad te vlieg. Vir myself beplan ek ‘n paar lawwighede,  nieteenstaande toenemende broosheid. Daarvoor hou ek ‘n klontjie goud in my knapsak.    

 Carine Badenhorst