Ons het die jaar 2014 uitgegaan met geelbek- en kabeljouvangste wat beslis nie te versmaai is nie. Teen hierdie tyd is ons al ‘n paar dae die nuwe jaar in en ongelukkig het vangste heelwat verswak. Die watertemperatuur bly ook nie konstant nie en dis weer ‘n ander storie. Die ouens wat breed glimlag is die manne wat sake reg gelees het en met mooi visse beloon is. Het jy nie die tekens reg vertolk en die nodige aksie gedoen nie, sou dit ook maar broekskeur met jou gegaan het. Wat nou gaan gebeur is dat die vis hopelik nie weg is nie maar deur die koue water verhoed word om behoorlik aan die byt te gaan. Die wilde water wat ons so ‘n week of wat terug beleef het het gesorg dat veral die geelbek aan die byt gegaan het en die manne wat dit see-in gewaag het, behoorlik beloon is. Dit is nie altyd moontlik om volgens die weerpatroon die stand van die see te voorspel nie en daar moet dikwels tot die spesifieke oggend gewag word om sekerheid te verkry. Ook die manne wat pas hul boothengelkompetisie afgehandel het het maar droewig gevaar. Tog was daar ‘n steenbras of so wat sommige ouens laat bors uitstoot het.
Die goeie nuus is dat die kreefgetalle aansienlik toegeneem het, maar van hulle bitterlik klein is. Dit was opmerklik dat die groteres nader aan die kant te vinde was.
Een faktor wat gehinder het was die gewoonte van sommige manne wat uitermatige lang toue uitgelaat het. Dit is so dat ‘n lang tou verseker dat die kreefnet nie baie “beweeg” nie en voordelig is. Die gevaar verbonde daaraan om ‘n ekstra lang tou te gebruik is dat dit maklik raakgery kan word deur ander bote wat die boei vermy deur ver daarvan verby te ry en dan onverwags, gewoonlik met slegte gevolge, die tou raakry en dit in die “prop” beland. Heel onnodig!
Die kreefseisoen is nou gesluit tot in April, so versigtig, asb. Weer eens, vir almal ‘n baie goeie jaar. My voorneme? Om meer verdraagsaam te wees, beide op die see en op die pad. En om vreugdes met ander te deel.
Groete, Seemeeu