Net kophou

Dis vyfuur die oggend en ek wag vir die ouens om op te daag. Ons het die vorige dag al besluit om die boot so vroeg op see te kry. Hoewel die nuus oor geelbek-vangste nie baie bemoedigend is nie is die troos darem dat deur vroeg lyne in die water te kry, ons mos ‘n kans móét staan! En dan is die moontlikheid vir kabeljou ook beter.

Gerrie kom met die ander twee so tien voor vyf hier aan en ek beskou die lotjie so. Tommie het beslis nie oortollige vet nie en is aan die ligte kant. Dan klim Jan uit  --  hy weer is nie aan die ligte kant nie en bulletjie sal doen vir ‘n beskrywing.  Gerrie se beurt. Kom ons sê maar hy is ‘n groter weergawe van Jan. Waarom dit belangrik is is die plasing om die boot gebalanseerd te hou. Ek is darem nie bekommerd nie want hierdie ouens is ou hande op my boot en ek sien uit na die dag met hulle.

By Kleinbaai-hawe moet ons parkeerplek soek want die terrein staan volgeparkeer met sleepwaens  -- ‘n goeie teken want hierdie manne gaan nie see toe net vir die plesier nie! Ons raak sommer haastig.

Net na vyf is ons op die water, my “crew” weet wat gedoen moet word en alles verloop seepglad. Met Gerrie langs my en die ander twee  alkant aan die agterkant beweeg die boot heel gemaklik. Voor ons lê Holbaai en dis hier waar ons wil seker maak ons kry ‘n kabeljoutjie of twee. Ek stoot bietjie vinniger aan want die adrenalien begin pols. Die ander manne se gees is ook reg want die grappe word reeds heen en weer geslinger en daar word naald gesteek dat dit klap. So moet dit mos wees. Nee wat, die dag gaan baie lekker wees.

Ons hou Holbaai verby, die water lyk bietjie grof daar, en voor die Clyde sien ons dat weens die volmaanspring die opsie daar ook nie baie goed is nie. Jy gewaar omtrent geen bamboes nie.  Ons hou dus aan na die verste kant van die Eiland. Groot verrassing, hier lê al die bote, seker van baie vroeg die oggend al. (Later gehoor van die bakke geelbek en kabeljou. Het ‘n dag of twee so aangehou) Ons soek ‘n opening en maak seker ons anker nie te naby aan enige ander boot nie. In met die geelbeklyne en met groot verwagting sien ons uit na daardie eerste harde pluk. Seker so ‘n uur later is daar nog geen reaksie nie en begin die bote een-een dieper padgee. Ons ook, hoewel in ‘n heel ander rigting. Ons begin hotties vang en skielik, daardie harde loop van die lyn  --  ‘n groot haai. Onmiddellik daarna, weer so, en ‘n meneer van ‘n geelbek word ingelig. Nou is ons vol bek en almal góói. Sommer ‘n ekstra lyn ook. Nog ‘n haai of twee volg en laat ek dít sê, hanteer jy nie die haailyn behoorlik nie kan dit die einde beteken van ‘n lang vriendskap! Nou volg daar ‘n stil periode en die manne gesels weer. Daar word geheime gedeel soos byvoorbeeld as jy die aand rustig in die bed lê en ordentlik wil uitrek, wees verseker dit gaan ‘n kramp tot gevolg hê, enige plek van jou kleintoontjie tot waar ookal. Seker maar erkenning dat die ouderdom ‘n sê het.

Ons versit Joubert se Dam toe en is te laat vir die kabeljou maar vang ‘n paar makriele en snoekies. Nou het ons darem al ‘n variasie van vis (maar nie een roman nie) en wanneer dit lig begin reën, word daar besluit, terug sementpad (hawe) toe. Die reën is lekker vars in jou gesig, en nát! Die boot loop lekker maar die manne hop te veel en besluit, stadiger en geniet liewer die reëntjie.

Dit alles was nou lékker!  --  Skipper.

‘n Groot voorreg om jou eie boot te besit. Dis sommer ‘n goeie weergawe van die vissituasie. Groete, Seemeeu