Fiela of Elias?

 ‘n Nuwe skooljaar het so pas afgeskop met derduisende kindertjies wat vir die eerste keer ‘n formele skooluniform aangetrek het.  Wat sal die volgende twaalf jaar vir hulle inhou? Gaan elkeen van hulle kan presteer volgens die verwagtinge van hulle onderwysers en ouers?  Dit is mos onderwysers en ouers wat hulle toekoms bepaal, of dalk nie?  Ons het tog aspirasies vir ons kinders, soms gebaseer op dit waarin hulle ‘n aanleg in die kleuterskool getoon het, of die amper bo-natuurlike belangstelling in een spesifieke speelrigting as peuter en kleuter. Al is dit net in jou stille gedagtes, maar ‘n ouer sien tog maar ‘n lugspieëling van jou kind as ‘n volwassene in die beroepswêreld. In die laerskooljare bly daardie prentjie verander, maar wanneer die hoërskooljare kom, word die realiteit van beroepskeuse al hoe dringender. Vakke moet reg gekies word en motivering, prestasie en ambisie word deel van die daaglikse gesprekke rondom die etenstafel. In sommige huishouding. In ander glad nie.

Toe ek onlangs weer na Fiela se kind kyk, vervies ek my van vooraf vir Elias van Rooyen wat sy kinders in die boeie van sy eie gebrek aan ambisie slaan. Terselfdertyd kry ek hom jammer, want dit is duidelik dat hyself ‘n slagoffer daarvan is; dit spreek uit die frustrasie wat hom tot geweldadigheid teenoor sy gesin dryf.  As kind het hy natuurlik niks anders as die Bos geken nie en was hy dalk tevrede met die lewe as seun van ‘n houtkapper.  

Namate die kennis van ‘n beter wêreld buite die grense van Die Bos hom bereik het, het hy heimlik daarna gesmag om ‘n beter lewe vir sy gesin te skep, maar hy het net nie geweet hoe nie. Na sy aanvanklike woede oor Nina se weglopery, het hy haar met ‘n genaakbaarheid ontvang wanneer sy van tyd tot tyd huistoe gekom het met proviand en geld. Desnieteenstaande het hy steeds ‘n gevangene van Die Bos en sy eie onvermoë gebly. Hy kon net nie presteer nie, want  as kind het niemand hom gemotiveer om enigiets meer te wees as ‘n houtkapper nie.

Fiela Komoetie is die ander ouerfiguur in Benjamin se lewe. In skrille kontras met Elias, is sy ‘n bondel dinamietkerse van ambisie op Wolwekraal, haar barre plaas in die Langekloof, waar net volstruise kan aard. Sy motiveer haar kinders om meer kennis te verwerf as sy. 

Sy skel ‘n volstruismannetjie tot vrugbaarheid, want met haar volstruise wil sy nog ‘n plaas koop – wat sy uiteindelik regkry. 

Benjamin Komoetie alias Lukas van Rooyen was ‘n tussenmens; hy het nie geweet waar hy behoort nie. Die voorbeelde van ouerskap was uiteenlopend, sy verwysingsraamwerk ‘n deurmekaarspul. Tog het hy ‘n ander koers binne homself voel stu: hy was lief vir die see en vir bote. Dit was sy eie ambisie; dit wat hom gedryf het.

Dit is op hierdie punt dat ek tot die klinkklare besef kom van presies hóé belangrik dit is dat ‘n mens een of ander tyd jouself as ouer moet vergewis van jou kind se eie ambisie. In die verloop van ‘n kind se skooljare, wil hy ‘n klomp goed word.  ‘n Mens moet dit nie sommer ignoreer nie. Tree in gesprek daaroor en vind uit wat die kind se motivering vir die besluit is.  Moet dit nie verkleineer of ontmoedig nie, maar deel jou eie kennis oor die beroep met hulle, al klink dit vir jou verregaande.  Die feit dat jy luister en saamgesels is belangriker as die onderwerp self.  Probeer  om – veral wanneer hulle nog baie jonk is – nie ‘n defnitiewe “ja” of “nee” te gee nie. Sluit liewer die gesprek af met “Ons sal sien wat die toekoms oplewer.” As dieselfde onderwerp later weer na vore kom, miskien herhaaldelik, is dit  tyd om dit ter harte te neem en die kind daarin te ondersteun.

Ons weet tog almal dat om ‘n kind te dwing om te presteer vir die verkeerde redes, geen sekuriteit vir die kind se beroepstoekoms is nie. Gee jou kind genoeg geleenthede om sy eie ambisie te ontdek. Motiveer hom dan om in daardie rigting te presteer. Wees vir  hom ‘n Fiela en nie ‘n Elias nie.   

Carine Badenhorst