Klein bietjie bewaring

Klein bietjie bewaring

GansbaaiCourant WhatsApp Nuus / News

Die radio omroeper sê die temperatuur op Kakamas is 49° Celsius.  Genade tog! Hoe oorleef ‘n mens daar?  Seker maar net as jy daar gebore is en nooit ver weg van die plek af gedwaal het in die verloop van jou lewe nie.  Soos ek in die Overberg gebore is en vir twee interludes van gesamentlik vyf jaar probeer het om elders my boom te plant. Het nie gewerk nie – ek het teruggekom, want binne ‘n radius van vyf en veertig kilometer vanaf my ouerhuis, was daar vier lieflike, spierwit strande: Pearly Beach, Waenhuiskrans, Brandfontein en Struisbaai. Die blou, wit en groen bande van see, sand en fynbos het my onherroepelik gebind. By my agterdeur uit, kyk ek soggens en saans in die persblou plooiings van die Franskraal berg vas. Aan die voorkant van my huis,  aai die groenvaal Kusvaalbosse die  ver weg seeblou asof hulle styf teen mekaar  nestel. Behalwe vir sporadiese windstil aande en oggende – so skaars soos ‘n weglê hoender se nes – jubel en juig ek oor die suidoos van die eiland se kant af sowel as die storm-Noordwes wat in die pad af kom. Want dit  bring koelte en lafenis. Ag, Kakamas, ek sou so graag met jou wou deel!

Ek het destyds twee Kusvaalbosse gekoop: ‘n wydspreidende en regop groeiende een. En dit is die verskeidenheid voëltjies wat tussen hulle blare wip wat my oog vang. Daar is duiwe, tiptolle, geelvinkies en nog ‘n ander dingetjie wat ek nie ken nie. Die voëlbadjie staan tussen die twee bome, neffens die sukkelende spekboompie, maar van waar ek, ter wille van die koel luggie deur die voordeur, skuins in die leunstoel sit-lê, kan ek dit nie sien nie.  Uit ondervinding weet ek egter hulle het op hul eiesoortige manier ‘n paar voël-duike in die water geneem. My oogveld merk net hulle skielike woerts! tussen die blare in, daar waar hulle gaan sit – en dit kos fyn kyk - om hulle lyfies te sidder-skud en met die bekkies tussen die veertjies te woel.  Lafenis! Daar is ‘n vrolikheid wat ek in hulle waarneem, ‘n baldadigheid waarmee hulle hul maats roep en ‘n hiernieude frisheid waarmee hulle uit die boom wegvlieg. Dan tref dit my: hulle gaan sit net in die regop-groeiende boom en vermy die een met die wydspreidende takke. Dis nie maklik om my mense-brein te reduseer tot die van ‘n voëltjie-brein nie, maar ek probeer om op die golflengte van hulle redenasie in te skakel. Die regop boom se takke groei almal netjies en simmetries met ‘n vyf en veertig grade helling weg van die hoofstam af. Soos in ‘n half-vol ouditorium,  is al die leë sitplekke duidelik sigbaar.  Die ander boom groei deurmekaar. Op die horisontale takke ontspring regop takke, sommiges loodreg die lug in; ander lê skuins in alle rigtings. Dis werklik ‘n harlaboerla boomen een waarin ek as ‘n skoongewaste voëltjie sou bang wees om ‘n paar vere te kan verloor as ek verstrengel sou raak.

In ‘n geluidlose diskoers met my ego probeer ek die motivering vind vir die plasing van die bome wat my uitsig op die eiland versper – dit waarvoor ek biddend gevra het voordat ons hierheen verhuis het.  Die antwoord kom ewe geluidloos, baie vinnig. Die eiland lê ver en wyd. Van hier af is dit eintlik net ‘n sigbare suggestie. Alhoewel ek weet hoe dit daar lyk en bewus is van wat daar gebeur, is dit buite alledaagse bereik en sig.  Dit is steeds baie duideliker sigbaar van die boonste verdieping af.  Die bome is hier en nou, elke oomblik van die dag en nag, armlengte naby. Dit is een van ons klein bydraetjies tot bewaring. Oor ‘n paar maande wanneer die bietoubos duskant die kusvaalbosse geel in die blom staan, gaan ons nog steeds die plesier van die voëltjies hê.  Met die genade gaan die ouman steeds elke oggend en aand vir hulle kos in die kosbakkie uitgooi en die badwater gereeld vervang.  Bewaring – hoe netelig van aard ook al, moet tuis begin.  Dit begin met ‘n vaskyk in en die waardering vir die vreugdes van die natuur hier rondom ons.  En dit groei deur die wyse waarop ons die volgende geslagte opgewonde maak daaroor.

 Carine Badenhorst

Klein bietjie bewaring

Carine Badenhorst

Exciting news! GansbaaiCourant no longer publishes on paper, but distributes news and advertisements via the GansbaaiCourant WhatsApp news group to a readership of 2179 and growing! Join our group today to stay up to date with the latest happenings in Gansbaai and surrounds. Cost: R300 fo...

View Profile

What is Xplorio?

Xplorio is your local connection allowing you to find anything and everything about a town.

Watch the Gansbaai Video
Read More

Other Articles

Grootbos Florilegium Brings Fynbos to Eden Project UK

Grootbos Florilegium Brings Fynbos to Eden Project UK

For our parting shot, one of Grootbos Foundation's longest relationships with the Eden Project in the UK...

Grootbos Foundation
Self-Acceptance: The Key to Emotional Freedom

Self-Acceptance: The Key to Emotional Freedom

Being comfortable with myself sets me free.

Gansbaai Artist Antje Shone Celebrates Art Exhibition Success

Gansbaai Artist Antje Shone Celebrates Art Exhibition Success

GGAP CONGRATULATES our very special artist and graphic designer, ANTJE SHONE! 

Why a Sole Mandate Can Make a Difference When Selling Your Property

Why a Sole Mandate Can Make a Difference When Selling Your Property

Selling a property is more than putting a sign outside the house and placing an advert online.

R2,495,000: 3 Bedroom House For Sale in De Kelders

R2,495,000: 3 Bedroom House For Sale in De Kelders

Some properties are about the house. Others are about where the house is. This is most definitely one of the latter.

October’s Latest Women’s Fashion Arrivals

October’s Latest Women’s Fashion Arrivals

New month, new pieces at Komtessa Boutique.

Komtessa Boutique
See All Articles